Oorsig oor die BA kursus Afdruk E-pos
Die BA word op die Pretoria-kampus asook op die Germiston-kampus aangebied. In Pretoria word die BA aangebied aan studente wat na voltooiing daarvan in die Teologie wil studeer ten einde aan die voorvereistes om predikante te word, te voldoen. Ander studente loop die BA met Sielkunde as een van die hoofvakke ten einde later ‘n nagraadse kwalifikasie aan ‘n ander staatserkende tersiêre inrigting te kan volg. ‘n Verdere groep studente volg die BA met Opvoedkunde as een hoofvak, met die oog op ‘n onderwysloopbaan, veral na verdere studie elders. Studente kan ook bloot ‘n algemene BA volg....

 

REGULASIES
FAKULTEIT LETTERE EN WYSBEGEERTE

1. Bevoegdheid om grade toe te ken

Hierdie Akademie is tans by die Onderwysdepartement as Private Tersiêre Inrigting geregistreer met die volmag om die volgende kwalifikasies toe te ken:

Baccalaurius Artium (BA); en
Baccalaurius Theologiae (B.Th.).

Die BA word op die Pretoria-kampus asook op die Germiston-kampus aangebied. In Pretoria word die BA aangebied aan studente wat na voltooiing daarvan in die Teologie wil studeer ten einde aan die voorvereistes om predikante te word, te voldoen. Ander studente loop die BA met Sielkunde as een van die hoofvakke ten einde later ‘n nagraadse kwalifikasie aan ‘n ander staatserkende tersiêre inrigting te kan volg. ‘n Verdere groep studente volg die BA met Opvoedkunde as een hoofvak, met die oog op ‘n onderwysloopbaan, veral na verdere studie elders. Studente kan ook bloot ‘n algemene BA volg.
Op die Germiston-kampus word die BA ook aangebied, maar dan met spesifieke vakke in die veld van die Christelike Sielkunde. Na voltooiing van die graad kan hulle aan ‘n ander staatserkende tersiêre inrigting verder spesialiseer in ‘n Sielkundige rigting. Hierdie kampus is tans nog nie deur die Departement van Onderwys as afsonderlike kampus geregistreer nie. Daar is wel daarvoor aansoek gedoen. (Daar is ‘n afsonderlike Prospektus vir hierdie studie.)

2. Duur van studie

Die BA-studie in die verskillende rigtings soos in punt 1 uiteengesit, kan almal in drie jaar voltooi word indien voltyds gestudeer word.

3. Toelatingsvereistes

Toelatingsbeleid

3.1. Matrikulasievrystelling. ‘n Student wat matriekvrystelling het kwalifiseer vir toelating tot die BA-graad deur die APA gebied op die volgende voorwaardes:

A. Gematrikuleer 2008 en daarna

A1. ‘n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) met ‘n toelatingspunttelling van ten minste 24 (die som van punte toegeken aan die 6 beste vakke op die NSS, Lewensoriëntering uitgesluit).

Minimum vereistes vir spesifieke vakke:

Afrikaans: 4 (50 – 59%)

Engels: 4 (50 – 59%)

Vir studente wat in die onderwysrigting wil studeer, met Wiskunde as skoolvak: Wiskunde: 3 (40-49%) (Wiskunde-geletterdheid kan nie vir toelating tot die vak Wiskunde oorweeg word nie).

OF

3.2. ‘n Geldige sertifikaat wat bewys lewer van voorwaardelike vrystelling van die Suid- Afrikaanse Matrikulasieraad (UMALUSI).


B. Gematrikuleer voor 2008

B1. ‘n Suid-Afrikaanse Senior Sertifikaat met universiteitsvrystelling en ‘n M-Telling van ten minste 12 (A-simbool = 5 punte).

Minimum vereistes vir spesifieke vakke:

Afrikaans (Hoërgraad Eerste Taal): E

Engels (Hoërgraad Tweede Taal): E

OF

B2. ‘n Geldige sertifikaat wat bewys lewer van voorwaardelike vrystelling van die Suid- Afrikaanse Matrikulasieraad (UMALUSI).


C. Voorwaardelike vrystelling op grond van ouderdom van minstens 23 jaar (St. 10/Graad 12)

Indien 'n persoon aan die volgende vereistes voldoen, kan aansoek om voorwaardelike vrystelling gedoen word:

a. Indien die ouderdom van 23 jaar reeds op 1 Januarie van die jaar waarin vir die BA geregistreer word, bereik is; en

b. Indien een vak in matriek op hoër graad geslaag is; en

c. Indien ten minste vier graad-12-vakke op Hoërgraad of op Standaardgraad met simbole A tot E geslaag is; en

d. Indien minstens drie vakke tydens een eksamensessie (eksamengeleentheid) geslaag is.


D. Vrystelling op grond van ouderdom 45 jaar of ouer

'n Persoon wat 45 jaar of ouer is, hoef geen skoolkwalifikasie te besit alvorens vir vrystelling aansoek gedoen word nie.


 

E. Volledige vrystelling op grond van die behaling van 'n 3 of 4 jaardiploma

'n Persoon wat 'n drie- of vierjaardiploma verwerf het aan 'n Technikon, 'n Onderwyserskollege, 'n Universiteit of 'n Verplegingskollege wat by 'n SA universiteit geaffilieer is, mag aansoek om volledige vrystelling doen op voorwaarde dat die persoon voor die aanvang van die diplomastudie oor 'n Senior Sertifikaat (dit is Matriek sonder vrystelling) beskik het.


F. Erkenning van vakke elders verwerf

‘n Persoon wat reeds ‘n aantal vakke aan ‘n ander erkende universiteit of private tersiêre inrigting verwerf het, kan die BA graad by die APA verwerf, mits die helfte plus een van die graadvakke by die APA gevolg en geslaag is en mits die twee hoofvakke by die APA geslaag is.

4. Studielenings

Studente wat predikante wil word, kan by die Kuratorium van die AP Kerk om studielenings aansoek doen. Enige ander lenings word deur die lenings- en beurskomitee van die Senaat hanteer.

5. Samestelling van die kursus

5.1 Aantal vakke
Die kursus bestaan uit 10 vakke in totaal, maar 'n student mag meer vakke loop.

5.2 Verpligte vakke
Vir studente wat die B.Th. wil loop na voltooiing van die BA, is Grieks 1 en 2, en ook Hebreeus 1 en 2 verpligtend, asook Duits Spesiaal indien die student nie Matriek-Duits het nie. Duits Spesiaal tel egter nie as een van die vereiste 10 vakke nie.
Vir studente wat na voltooiing van die BA ‘n Onderwysdiploma aan ‘n ander erkende tersiêre inrigting wil volg, is Opvoedkunde 1, 2 en 3 verpligtend.
Vir studente wat na voltooiing van die BA, elders verder in die Sielkunde wil studeer, is Sielkunde 1, 2 en 3 verpligtend.

5.3 Keusevakke
Studente mag 'n keuse uit die volgende vakke maak:
Afrikaans, Bybelkunde, Christelike Berading, Christelike Wysbegeerte, Duits, Engels, Frans, Geskiedenis, Opvoedkunde, Sielkunde, Sosiologie, Volkekunde.

5.4 Ander moontlike vakke
Die volgende vakke kan moontlik ook geneem word:
Latyn A, Latyn I tot III, en Staatsleer.
Iemand wat Latyn I wil neem, moet óf Matriek-Latyn hê, óf eers Latyn A (wat nie een van die vereiste 10 vakke kan wees nie) slaag.

5.5 Hoofvakke
'n Hoofvak is 'n vak ten opsigte waarvan 'n student kursusse I, II en III voltooi.
'n Student kies twee hoofvakke uit die vakke onder punt 5.2 en 5.3 genoem. Die keuse van hoofvakke kan deur die loop van die studie verander word.

5.6 Voorbeeld
'n Tipiese kursussamestelling vir ‘n student wat predikant wil word, kan soos volg lyk:

Eerste jaar: Grieks I, Hebreeus I, Bybelkunde I, Geskiedenis I, Duits Spesiaal
Tweede jaar: Grieks II, Hebreeus II, Bybelkunde II, Geskiedenis II
Derde jaar: Bybelkunde III, Geskiedenis III (of Grieks III en Hebreeus III)

6. Bedrae betaalbaar

Die volgende gelde (wat jaarliks aangepas kan word) is betaalbaar:

Registrasiefooi R 5 000 per jaar (die registrasiefooi word van die klasgeld afgetrek, en is nie terugbetaalbaar met staking van studie nie)
BA: Klasgeld R 3 000 per vak per jaar (eerste en tweede jaar); R 5500 per vak per jaar (derdejaarsvakke)
BA (met Christelike Sielkunde-vakke) ± R12 000 per jaar
Hereksamengeld R 200 per vraestel
Afsonderlike vakke R 3 000 elk.

Die koste per student beloop vir die Akademie meer as bogemelde bedrae, maar die Afrikaanse Protestantse Kerk subsidieer studente wat lidmate van plaaslike kerke is, met die balans. Sou 'n persoon wat nie 'n lidmaat van 'n AP Kerk is nie, as student inskryf, bepaal die Senaat die bedrag wat hy/sy as klasgeld moet betaal. Dié bedrag kan van jaar tot jaar wissel.
Indien 'n student voor 31 Julie skriftelik kennis gee dat hy sy studie staak, sal hy vrygestel word van betaling van die helfte van die Klasgeld (nie van die ander gelde betaalbaar nie) naamlik dié ten opsigte van die tweede semester. Indien hy ná 31 Julie sy studie staak, bly hy verantwoordelik vir die betaling van die Klasgeld vir die hele jaar.
Alle gelde wat betaalbaar is, word deur die student by die Sentrale Kerkkantoor inbetaal.
Waar 'n student 'n studielening van die Kuratorium ontvang, word sy toekennings direk en ten volle op sy studierekening inbetaal, en nie aan homself nie, tensy daar 'n krediet tot sy beskikking is. Indien die toekenning van die Kuratorium minder is as die bedrag wat betaalbaar is, is die student verantwoordelik daarvoor om die ontbrekende bedrag betyds in te betaal.
Solank 'n student vakke loop wat vir die voltooiing van sy kwalifikasie nodig is, betaal hy die volle jaarlikse studiegeld ongeag die aantal vakke wat hy loop. Indien hy vakke vir nie-kwalifikasiedoeleindes loop, betaal hy jaarliks die bedrag wat deur die Senaat vasgestel word.

Die laaste datum vir Registrasie is 14 Februarie.

7. Korrespondensiekursus

Hierdie studie kan met goedkeuring van die Fakulteitsraad ook by wyse van volledige of gedeeltelike afstandsonderrig aangebied word.

8. Erkenning van vakke

Die Fakulteitsraad vir Lettere en Wysbegeerte beslis oor die erkenning van vakke wat aan ander tersiêre inrigtings geslaag is.

9. Fasiliteite

Alle studente wat hul voorgeskrewe studiegelde betaal het, het toegang tot en gebruik van die FAH van Staden Biblioteek.
Studente mag teen die heersende tariewe fotokopieë by die Akademie laat maak, of self maak (met toestemming van die personeellid in beheer van die kopiëerfasiliteite).
Studente het teen volle betaling, bo en behalwe hulle jaarlikse studiegeld, toegang tot die rekenaarstelsel van die Akademie. Verdere voorwaardes hieraan verbonde is in Bylae A vervat.

10. Klasbywoning en eksaminering

10.1 Geen student word tot 'n eksamen in 'n vak toegelaat nie tensy

10.1.1 sy studiegeld op datum betaal is; en
10.1.2 hy die lesings bevredigend bygewoon het.

10.2 'n Student wat 'n module van 'n vak herhaal, is nie verplig om weer die klasse by te woon nie – hy bly egter self verantwoordelik om homself op hoogte te stel van die volgende toets- en eksamendatums in elke betrokke vak. So 'n student mag weer toets(e) aflê ten einde 'n beter halfjaarpunt op te bou.

10. 3 In elke vak word die werk van 'n jaar in twee modules verdeel. 'n Student moet eers die eerste module slaag alvorens hy die tweede module mag volg. 'n Student doen nie weer eksamen oor 'n module wat hy klaar geslaag het nie.

10.4 Toetse en/of werksopdragte word gedoen soos elke dosent vir sy vak bepaal, ten einde 'n semesterpunt vir elke student te verkry.

10.5 Skriftelike en/of mondelinge eksamen word in elke vak rondom Junie en November afgeneem.

10.6 Die slaagsyfer in alle vakke is 50%.

10.7 Om vir 'n hereksamen te kwalifiseer, moet die gemiddelde punt van die semester en semestereksamen minstens 45% wees met dien verstande dat ‘n minimum van 40% in die eksamen behaal is.

10.8 Hereksamen word rondom die tweede helfte van Julie en die tweede helfte van Januarie afgeneem.

10.9 In elke vak moet daar ook 'n eksterne eksaminator wees wat slegs globale kontrole hoef te doen.

11. Bevordering na 'n volgende studiejaar

'n Student moet in sy eerste jaar minstens drie vakke slaag om tot die tweede studiejaar toegelaat te word. Geen student kan tot die derde studiejaar toegelaat word alvorens hy minstens ses kursusse suksesvol voltooi het nie.