Oorsig oor die BTh kursus Afdruk E-pos

Hierdie Akademie is tans by die Onderwysdepartement as Private Tersiêre Inrigting geregistreer met die volmag om die volgende kwalifikasies toe te ken:

Baccalaureus Artium (BA); en
Baccalaureus Theologiae (B.Th.).

Volledige besonderhede oor die BA-studie word in 'n aparte prospektus voorsien. In hierdie prospektus word alleen gehandel oor die graad in Teologie: B.Th.

FAKULTEIT TEOLOGIE


1. Bevoegdheid om grade toe te ken

Hierdie Akademie is tans by die Onderwysdepartement as Private Tersiêre Inrigting geregistreer met die volmag om die volgende kwalifikasies toe te ken:

Baccalaureus Artium (BA); en
Baccalaureus Theologiae (B.Th.).

Volledige besonderhede oor die BA-studie word in 'n aparte prospektus voorsien. In hierdie prospektus word alleen gehandel oor die graad in Teologie: B.Th.

2. Toelatingsvereistes

2.1 'n Student wat 'n BA-graad aan 'n staatserkende universiteit of ander staatserkende tersiêre inrigting verwerf het, waarin Grieks 1 en 2 en Hebreeus 1 en 2 ingesluit was, het volle toegang tot die B.Th.-studie.

2.2 'n Student wat oor enige Baccalaureus-graad (sonder gemelde verpligte vakke) beskik, hoef daarby net Grieks 1 en 2 asook Hebreeus 1 en 2 aan 'n staatserkende tersiêre inrigting te verwerf om toegang tot die B.Th.-studie te verkry.

2.3 Voorwaardelike toelating kan verleen word indien die student reeds 33 jaar oud is en oor 'n BA-graad met minstens Grieks 1 asook Hebreeus 1 beskik. Gedurende sy eerste jaar van sy B.Th.-studie moet hy dan Grieks 2 en Hebreeus 2 slaag. Hy word nie tot die tweede jaar B.Th. toegelaat alvorens hy aan hierdie vereiste voldoen het nie.

2.4 Alle studente wat nie Duits tot in Matriek geslaag het nie, moet Duits Spes laatstens tydens die eerste jaar van die B.Th.-studie verwerf.

3. Onderrigmedium

Die onderrig geskied in Afrikaans.

4. Duur van die studie

Die B.Th.-studie kan deur middel van drie jaar voltydse studie voltooi word.

5. Studielenings

Studente wat lidmate in Afrikaanse Protestantse plaaslike kerke is, kan by die Willie Lubbe Teologiese Studiefonds aansoek om 'n lening doen. Die voorwaardes en bepalings is in 'n reglement wat by die Kuratorium beskikbaar is, vervat.

6. Samestelling van die kursus

6.1 In B.Th. 1

6.1.1 Verpligte vakke
Algemene Kerkgeskiedenis 4, Christelike Etiek 4, Dogmageskiedenis 4, Dogmatiek 4, Evangelistiek 4 (eerste semester), Homiletiek 4, Kategetiek 4, Kerkreg 4, Kybernetiek 4, Liturgiek 4, NT Eksegese 4, NT Hermeneutiek 4 (eerste semester), NT Inleiding 4 (eerste semester), NT Teologie 4 (tweede semester), NT Kanongeskiedenis 4 (tweede semester), OT Eksegese 4, OT Hermeneutiek 4 (eerste semester), OT Teologie 4 (eerste semester), OT Teologie 4 (tweede semester), OT Kanongeskiedenis 4 (tweede semester), Poimeniek 4, Sendinggeskiedenis 4, Sendingteorie 4, Simboliek 4, Vaderlandse Kerkgeskiedenis 4.

6.1.2 Keusevakke
Pastorale Psigologie 4.

6.2 In B.Th. 2

6.2.1 Verpligte vakke
Algemene Kerkgeskiedenis 5, Christelike Etiek 5, Dogmageskiedenis 5, Dogmatiek 5, Ensiklopedie 5 (eerste semester), Fenomenologie 5 (eerste semester), Godsdiensgeskiedenis 5, Homiletiek 5, Kategetiek 5, Kerkreg 5, Kybernetiek 5, NT Eksegese 5, NT Inleiding 5 (eerste semester), NT Teologie 5 (tweede semester), NT Tekskritiek 5 (eerste semester), OT Eksegese 5, OT Teologie 5 (eerste semester), OT Inleiding 5 (tweede semester), Pastorale Psigologie 5, Poimeniek 5, Sektekunde 5, Sendinggeskiedenis 5, Sendingmetodiek 5, Simboliek 5, Vaderlandse Kerkgekiedenis 5.

6.2.2 Keusevakke
Ensiklopedie (onderrig sonder eksamen).

6.3 In B.Th. 3

6.3.1 Verpligte vakke
Algemene Kerkgeskiedenis 6, Apologetiek 6, Christelike Etiek 6, Diakoniek 6 (eerste semester), Dogmageskiedenis 6, Dogmatiek 6, Ekumenika 6 (tweede semester), Elenktiek 6 (eerste semester), Godsdiensgeskiedenis 6 (eerste semester), Homiletiek 6, Kerkadministrasie en Finansies 6 (tweede semester), Kerkreg 6, Kybernetiek 6, NT Eksegese 6, NT Inleiding 6 (eerste semester), NT Teologie 6 (tweede semester), OT Eksegese 6, OT Inleiding (tweede semester), OT Teologie 6 (eerste semester), Pastorale Psigologie 6, Poimeniek 6, Vaderlandse Kerkgeskiedenis 6.

6.3.2 Keusevakke
Ekumenika (onderrig sonder eksamen).

6.3.3 Skripsie
Deel van die studie van die derde jaar in die Teologie, is dat die student nie later as 31 Augustus 'n skripsie indien. Die reëls in die verband is vervat in Bylae B.

6.3.4 Praktiese verpligtinge
‘n Derdejaar student moet alle praktiese verpligtinge afhandel vóór die finale eksamen.

6.3.5 Vakke in die Departemente

6.3.5.1 Ou Tetstament

Teologie
Kanoniek
Tekskritiek Inleiding
Hermeneutiek Argeologie
Eksegese  

6.3.5.2 Nuwe Testament

Teologie
Kanoniek
Tekskritiek
Inleiding
Hermeneutiek
Argeologie
Eksegese  

6.3.5.3 Dogmatologie

Dogmatiek
Apologetiek
Christelike Etiek
Polemiek
Dogmageskiedenis
(Godsdiensgeskiedenis)
Simboliek (Fenomenologie)

6.3.5.4 Ekklesiologie

Kerkreg
 
Vaderlandse Kerkgeskiedenis
 
Algemene Kerkgeskiedenis
 
Kybernetiek  

6.3.5.5 Missiologie

Sendingeskiedenis
Godsdiensgeskiedenis
Sendingmetodiek
Fenomenologie
Sendingteorie Elenktiek
   

6.3.5.6 Diakoniologie

Diakoniek
Poimeniek
Homiletiek
Pastorale Psigologie
Kategetiek
Evangelistiek
Liturgiek  

7. Fasiliteite

Die FAH van Staden Biblioteek is tot die beskikking van alle ingeskrewe studente.
Studente mag teen die heersende tariewe fotokopieë by Die Afrikaanse Protestantse Akademie laat maak, of self maak (met toestemming van die personeellid in beheer van die kopieërfasiliteite).
Studente het teen volle betaling, bo en behalwe hulle jaarlikse studiegeld, toegang tot die rekenaarstelsel van die Akademie. Verdere voorwaardes hieraan verbonde is in Bylae A vervat.

8. Bedrae betaalbaar

Die volgende gelde (wat jaarliks aangepas kan word) is betaalbaar:

Registrasiefooi
R 1 000 per jaar
B.Th.
R 8 500 per jaar
Hereksamengeld R 200 per vraestel.


Die koste per student beloop vir die Akademie meer as bogemelde bedrae, maar die Afrikaanse Protestantse Kerk subsidieer studente wat lidmate van plaaslike kerke is, met die balans. Sou 'n persoon wat nie 'n lidmaat van 'n AP Kerk is nie, as student inskryf, bepaal die Senaat die bedrag wat hy/sy as Klasgeld moet betaal. Dié bedrag kan van jaar tot jaar wissel.
Indien 'n student voor 31 Julie skriftelik kennis gee dat hy sy studie staak, sal hy vrygestel word van betaling van die helfte van die Klasgeld (nie van die ander gelde betaalbaar nie), met ander woorde ten opsigte van die tweede semester. Indien hy ná 31 Julie sy studie staak, bly hy verantwoordelik vir die betaling van die Klasgeld vir die hele jaar.
Alle gelde wat betaalbaar is, word deur die student by die Sentrale Kerkkantoor inbetaal.
Waar 'n student 'n studielening van die Kuratorium ontvang, word sy toekennings direk en ten volle op sy studierekening inbetaal, en nie aan homself nie, tensy daar 'n krediet tot sy beskikking is. Indien die toekenning van die Kuratorium minder is as die bedrag wat betaalbaar is, is die student verantwoordelik daarvoor om die ontbrekende bedrag betyds in te betaal.
Solank 'n student vakke loop wat vir die voltooiing van sy kwalifikasie nodig is, betaal hy die volle jaarlikse studiegeld ongeag die aantal vakke wat hy loop. Indien hy vakke vir nie-kwalifikasiedoeleindes loop, betaal hy jaarliks die bedrag wat deur die Senaat vasgestel word.

Die laaste datum vir Registrasie is 14 Februarie.

9. Korrespondensie

Hierdie studie word tans nie by wyse van korrespondensie aangebied nie, maar slegs by wyse van kontakonderrig. Die kursus sluit tans 'n redelike hoeveelheid praktiese werk in wat nie by wyse van afstandsonderrig gedoen kan word nie.

10. Erkenning van vakke

Die Fakulteitsraad vir Teologie beslis oor die erkenning van vakke wat aan ander tersiêre inrigtings geslaag is.

11. Klasbywoning en eksaminering

11.1 Geen student word tot 'n eksamen in 'n vak toegelaat nie tensy
11.1.1 sy studiegeld op datum betaal is; en
11.1.2 hy die lesings bevredigend bygewoon het.

11.2 'n Student wat 'n module van 'n vak herhaal, is nie verplig om weer die klasse by te woon nie – hy bly egter self verantwoordelik om homself op hoogte te stel van die volgende toets- en eksamendatums in elke betrokke vak. So 'n student mag weer toets(e) aflê ten einde 'n beter halfjaarpunt op te bou.

11. 3 In elke vak word die werk van 'n jaar in twee modules verdeel. 'n Student moet eers die eerste module slaag alvorens hy die tweede module mag volg. 'n Student doen nie weer eksamen oor 'n module wat hy klaar geslaag het nie.

11.4 Toetse en/of werksopdragte word gedoen soos elke dosent vir sy vak bepaal, ten einde 'n semesterpunt vir elke student te verkry.

11.5 Skriftelike en/of mondelinge eksamen word in elke vak rondom Junie en November afgeneem.

11.6 Die slaagsyfer in alle vakke is 50%.

11.7 Om vir 'n hereksamen te kwalifiseer, moet die gemiddelde punt van die semester en semestereksamen minstens 45% wees met dien verstande dat ‘n minimum van 40% in die eksamen behaal is.

11.8 Hereksamen word rondom die tweede helfte van Julie en die tweede helfte van Januarie afgeneem.

11.9 In elke vak moet daar ook 'n eksterne eksaminator wees wat slegs globale kontrole hoef te doen.

12. Bevordering tot volgende studiejaar

'n B.Th.-student moet in 'n studiejaar minstens 75% van sy vakke geslaag het om tot die volgende studiejaar toegelaat te word. Hy word nie toegelaat om kursus 1 en kursus 2 van dieselfde vak in dieselfde jaar te loop nie – bv. Dogamtiek 4 en 5 tegelyk, of Dogmatiek 5 en 6 tegelyk.
Indien 'n student se skripsie as uitsonderlike geval met toestemming nie tydens die legitimasieplegtigheid reeds voltooi en deur die dosent en eksterne eksaminator beoordeel en suksesvol bevind is nie, word hy nie beroepbaar gestel nie, maar kry hy geleentheid om die werk betyds te voltooi ten einde gedurende die gradeplegtigheid in Jan/Feb van die eersvolgende jaar beroepbaar gestel te kan word.

13. Hulpverlening

By die Akademie is daar 'n Studentedekaan wat spesiaal tot beskikking van elke student is ten opsigte van persoonlike probleme en van probleme in verband met sy studie. Al die ander dosente is ook tot die beskikking van studente.