Die Afrikaanse Protestantse Akademie…

OU SPORE. NUWE WEË

Teologiese dag

Die APA bied jaarliks ‘n teologiese dag aan vir alle oud-studente in die Teologie en ander belangstellendes. Die kursus bied die afgestudeerde student geleentheid om verdere opleiding in die Teologie te ontvang. Kom woon dit gerus volgende keer in 2020 by.

Oud-student ontvang PhD

Barend Hefer, oud-APA student en tans Bybelkunde dosent aan die APA, het in Mei 2017 sy doktorsgraad aan die NWU ontvang. Baie hartlik geluk aan hom. Ons is trots op sy prestasie!

Kyk hier

Onderhoude met APA Alumni Prof. Johan Schütte en Prof. dr. Alwyn Swanepoel.
Onderhoudvoerder: Dr Schalk Strauss – Redakteur van die Boodskapper, ook APA Alumnus

Skakel: http://apk.co.za/index.php/publikasies/die-boodskapper1

Vraag: Beide van u is plaasseuns. Vertel vir ons bietjie meer van u grootwordjare. Waar het u grootgeword en skoolgegaan?

Prof. Johan: Ek het die voorreg gehad om in die Villiers-distrik in die Noord-Vrystaat groot te word, waar ek my hele skoolloopbaan deurgebring het. Dit is hier waar ek die Here, sy voorsienigheid en barmhartigheid leer ken het. ’n Groot deel van my belangrike vormingsjare as kind was gedurende die tagtigerjare se droogte. Ek onthou byvoorbeeld hoe ek hier rondom 1986, my hoogtevrees ten spyt, teen die windpomp opgeklim en gebid het dat dit moet reën of dat die wind net genoeg moet waai om die windpomp te laat draai. Die droogte het sy tol geëis en uiteindelik is my pa insolvent verklaar. Iets wat redelik indruk op my as kind gemaak het, was toe al ons huisraad vir ’n skamele R500 op die veiling verkoop is en die persoon wat dit gekoop het, ná die tyd kom sê dat ons dit alles maar mag hou.

Prof. Alwyn: My pa het voltyds in die Edenville-distrik in die Vrystaat begin boer toe ek ses jaar oud was. Dit gee my hopelik so ’n halwe verskoning waarom ek nooit ’n swart taal aangeleer het nie. Ek was in Edenville in die laerskool en in die Hoër Landbouskool op Kroonstad in die hoërskool. So het ek dus lankal begin om iets te leer van skape en herders, en ook van diewe wat kom om te steel, te slag en te verwoes.

Vraag: Elke predikant het gewoonlik ’n unieke roepingsverhaal om te vertel. Deel met ons lesers hoe u tot die oortuiging gekom het dat God u geroep het om in sy diens te staan?

Prof. Johan: Dit was glad nie ’n plotselinge gebeurtenis wat jou soos weerligstraal tref nie, maar eerder iets wat met verloop van tyd gegroei en selfs tot in die bediening telkens bevestig is. Dit was my ouma wat die saad begin saai het met die vraag of ek nie voel ek moet ’n dominee word in konteks van behoefte aan predikante nie? Vir die volgende vier jaar was dit egter nie iets wat ek enigsins oorweeg het nie. Ek het boeke oor loopbaanvoorligting deurgegaan en, moeg vir arm-wees, het ek gesoek na die beroep wat my die meeste geld sou laat verdien. Ek het besluit om ’n chemiese ingenieur te word en het toe ook my skoolvakke daarvolgens gekies. Die Here se roeping was groter en my ouma se saadjies het wortel geskiet sodat ek al hoe meer oortuig geraak het van die roeping om leraar te word. Uiteindelik het dit tyd geword om aansoek te doen by universiteite. Ek reken dit was een van die min aansoeke waarvan die eerste keuse BA was en dan ’n tweede keuse, indien jy nie keuring vir jou eerste keuse sou kry nie, chemiese ingenieurswese. Soos wat ’n mens met die studies, later die bediening in gemeentes en ook mens se eie heiligmaking, tekortkominge en sonde geworstel het, het die Here die innerlike roeping wat ek in my hart gevoel het, telkens herbevestig met ’n uiterlike roeping om in sy diens te staan.

Prof. Alwyn: In ’n sekere sin was dit by my as verbondskind altyd sluimerend aanwesig. Aan die einde van my hoërskoolloopbaan het die prediking op die destydse Radio Kansel op Maadagoggende as ons vroeg koshuis toe ry, ’n deurslaggewende rol gespeel. Ek het dit beleef dat ek die saak met God in Christus oor my lewe moes uitmaak. Hiermee saam het die roepingsgevoel ook sterk deurgekom. ’n Vriend het my ook in daar die tyd meegedeel dat hy waarskynlik leukemie het en dit het my finaal op die bediening laat besluit. Toe hierdie vriend my jare later skaam-skaam vertel dat dit eintlik meer aandagsoek as die volle waarheid was, kon ons maar net lag. God kan in sy beskikking selfs halwe waarhede gebruik! Ek is in elk geval ook maar een van daardie mense wat herbevestiging in my roeping nodig het en in Sy groot genade het God dit nog altyd, soveel male na die aanvanklike keuse, gedoen. Vandag is ek baie meer bewus daarvan dat ook al my keuses in God se hand lê. Ek vertrou dat Hy ook die goeie werk wat Hy in my begin het, sal voleindig (Filip. 1:6).

Vraag: U was beide in die bediening. Watter aspekte van die bediening het u die meeste geniet? Waarom?

Prof. Johan: Ek het dit geniet om die evangelie stukkie vir stukkie oop te breek en om mense iets te laat proe van God se heerlikheid – nie net tydens die eredienste wat ek kon lei nie, maar ook die ouetehuise waarby ek veral op Springbok en Upington betrokke was. Dit is seker een van die aspekte van die bediening wat ek die meeste sal mis.

Prof. Alwyn: Beide die prediking en die pastoraat het elkeen hul eie bekoring. Wat ’n voorreg om as stofmannetjie, soos Calvyn dit by geleentheid oor die bedienaar van die Woord gestel het, die lewende evangelie van die lewende God te verkondig! Saam met soveel ander dominees kan ek getuig dat jy soms nie reg voel om op huisbesoek of op die kansel te gaan nie, maar dat dit dikwels dan is wat jou kosbaarste herinneringe na vore tree: Jy gaan as ’n leë kruik, maar kom terug van huisbesoek met nuwe moed; jy kom van die kansel af met verbasing oor die bekragtiging deur God se Gees. Dit herinner my aan ’n senior dominee se raad: As jy depressief voel, gaan doen huisbesoek. Kom uit jou beknopte wêreld en bedien en laat ander jou ook in Christus bedien!

Vraag: Prof. Alwyn, u was ook vir ’n hele paar jaar Redakteur van Die Boodskapper. Watter hoogtepunte van hierdie bedieningstyd staan vir u uit? Waarom?

Prof. Alwyn: Die vryheid wat my gegun was om in samewerking met ’n fantastiese span die formaat van Die Boodskapper en ons publikasie-afdeling te ontwikkel in allerlei nuwe vorme, was ’n baie groot voorreg. Ook die begin van ’n multi-media aanslag wat julle tans so voortreflik uitbou. Om betrokke te wees by iets wat gebou word, veroorsaak eenvoudig ’n baie hoë vlak van bevrediging, veral as dit bewustelik in diens van God se koninkryk staan. Ook die geleentheid om dag na dag betrokke te kon wees by die kreatiewe bou van woorde en sinne en paragrawe wat daaraan diensbaar kan wees dat mense gestig en in Christus meegevoer word, staan uit.

Vraag: Prof. Johan, voordat u beroep is as professor, was u predikant op Upington. U kinders is nog klein. Watter impak het die skuif van die platteland na die stad op u gesin gehad?

Prof. Johan: Om die Kalahari te verruil vir die stad was sekerlik ’n aanpassing gewees en was dit nie vir die Here se roeping nie, sou ek heel gerieflik lewenslank in die Kalahari gebly het. Een van die voordele is juis dat ons kinders nog klein is en hulle pas dus redelik maklik aan. Die feit dat hulle grootouers nou soveel nader is, was amper net so ’n groot troos as die feit dat die nuwe huis ’n swembad het! As egpaar reken ons egter dat ’n mens se aanpassing deur jou eie ingesteldheid bepaal word. Nog altyd was ons gesindheid dat ons sal gaan waar die Here ons ook al heen stuur.

Vraag: Beide van u het ook ’n draai in die buiteland gaan maak – Prof. Alwyn in Amerika en Prof. Johan in Engeland. Deel met ons lesers iets van hierdie ervarings – waarom was u daar, hoe lank was u daar, wat was u belewenisse?

Prof. Johan: Die AP Kerk Engeland & Wallis het my beroep as leraar en dit was ’n voorreg om vir twee-en- ’n-half jaar daar te werk. Dit was ’n baie stormagtige tyd gewees met die gevolge van die resessie wat Europa getref het. Mense het nie werksekerheid gehad nie. Op die treine sou jy talle mense sien met ’n kartondoos op sy skoot as bewys daarvan dat hy sy werk verloor het. Baie Suid-Afrikaners moes oor hulle toekoms in die buiteland besin. Talle het besluit om terug te keer na Suid-Afrika en andere het weer vertrek na byvoorbeeld die VSA. Dit was ook vir baie van die gemeentelede die tyd wat hulle met gesinne begin het. Teen hierdie agtergrond was dit dus ’n besonderse voorreg om die Woord aan hulle te bedien. Dit was ook ’n geleentheid om gelowiges uit die Britse gereformeerde wêreld te ontmoet en ek reken dat dit waardevolle kontakte is – ook vir Die AP Akademie.

Prof. Alwyn: Ek wou graag my horisonne verbreed aan die hand van mense wat ek vertrou en hoog geag het. Soos reeds voorheen in Die Boodskapper verduidelik, was ek gefassineer deur gelowiges wat dit met groot vreugde uitgeleef het dat die Middeleeue en die Reformasie eintlik visvangkamerade kan wees. Ek wou meer leer van die sonnige Calvinisme waarvan ek by hulle bewus geword het. My belewenis was dat my mentors inderdaad eg was en dit geleef het wat hulle gepredik het. Deur hulle het ons Here my ook bewus gemaak van bepaalde dinge waaraan ek in my eie lewe moes werk. Dit was dus nie altyd so aangenaam daar nie, maar dit het wel ’n ontblotende, reinigende en hopelik verdiepende effek gehad.

Vraag: U is in Maart 2016 amptelik as hoogleraars bevestig. Prof. Alwyn, u is tans hoof van die departement Dogmatologie by die AP Akademie en Prof. Johan, u is hoof van die departement Ekklesiologie. Deel met ons lesers u visie vir u onderskeie vakgebiede, maar ook vir Die AP Akademie as instelling.

Prof. Johan: Die twee hoof fokuspunte in die Ekklesiologie is Kerkgeskiedenis en Kerkregering. Wat beide betref, wil ek poog om die student te laat besef dat die hedendaagse kerk nie uit die lug geval het nie. Die kerk het ook nie eers by die Reformasie ontstaan nie. Die hedendaagse kerk is die vrug van God se werk deur al die eeue. Ons het ’n ontsaglike ryk geskiedenis en ons wortels gaan terug deur die Reformatore, deur die Kerkvaders, deur die apostels tot by die Bron van die Kerk: God wat self sy kerk vergader, bewaar en regeer. Die studente kan verwag om in Ekklesiologie deur die tuin van die Kerkgeskiedenis en Kerkregering te wandel, vol verwondering oor die Koning wat hierdie wonderlike tuin aangeplant het en in stand hou.

Prof. Alwyn: Ek sien uit om saam met ’n span mense – vriende – te werk wat nog glo dat die Bybel waarlik die Woord van God is. In ons land is so iets skaarser as ’n Psalmboek in ’n vernuwingskerk. Ek sou graag wou sien dat selfs mense uit ander kerke later by ons kom studeer, nie noodwendig omdat hulle van kerkverband wil verander nie, maar omdat hulle graag ’n deel van hul opleiding by ons wil deurmaak. In my departement wil ek daaraan diensbaar wees dat die verwondering oor dit wat die kerk in God se Woord ontdek het, helder sal brand. Die groot geeste het lankal daarop gewys dat die dogma daaraan diensbaar is dat die kerk van Christus gloeiend die eer van God kan besing, met sekerheid kan wandel, en die aanslae effektief kan afweer. By hierdie inspirerende visie van lankal wil ek maar net in die krag van Sy Gees aansluit. As God dit so beskik, wil ek in my department hartlik daaraan meewerk om ’n volgende geslag predikante tot verstomming te bring oor die Drie-enige God, sy Woord en sy wêreld.

Deel die bladsy: