Die lewensvisie van die APA: Christelike kuns, kultuur en wetenskap

deur: Prof. GDS Smit

Foto met erkenning aan: https://historianchristianworldview.wordpress.com/2017/09/29/what-is-a-christian-worldview-of-history-to-a-historian/

Lees: Exodus 35:1-35

Inleiding

In die manier waarop ons die wêreld rondom ons mooi maak, die aarde kultiveer en die wetenskap beoefen, getuig ons in werklikheid iets van ons beskouing oor God.

Nadat die Here die volk Israel uit Egipte uitgelei het en sy Wet op die berg Sinaï aan hulle gegee het, gee Hy aan Moses opdrag dat die volk ’n plek van aanbidding moes oprig en versier met alles waaroor hulle beskik het.  Hier kon hulle Hom aanbid terwyl hulle in die woestyn swerf. Die afgelope paar jaar is dikwels oor die Christelike lewensbeskouing gedink en wat dit prakties vir ons behels.[1] Die Here leer die mens van die begin af om onderskeid te tref tussen die heidense en Bybelse maniere van kyk na die lewe op die gebiede van die kunste, kultuur en wetenskap.

Kunstenaar en kunstenaars

God is die groot Kunstenaar. Toe Hy die hemel en die aarde geskep het, het Hy die aarde met diere, plante en blomme en uiteindelik ook die mens, versier. Aan Adam en Eva gee Hy die opdrag: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde en heers daaroor (Gén. 1:26-28). Deel van die opdrag om te heers oor die skepping was om die aarde te bewerk en te bewoon en dit deur kultuur, kultuurprodukte en kuns te omskep. Dit is die rede waarom wetenskap en tegnologie deel van die mens se opdrag is en in wese goed is.

Een van die eerste dinge wat die volk tydens die bou van die tabernakel moes doen, was om te bepaal wie die kunstenaars onder hulle is om die tabernakel te versier. In vers 30 -32 lees ons dat die Here Besáleël … by sy naam geroep het; en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk; en om kunstige planne uit te dink, om dié uit te voer in goud en silwer en koper . Die versiering van die tabernakel word hier as ’n kuns beskryf. Dit is so kosbaar dat God sy Gees gebruik om Besaleël te vervul vir die taak.

Dit gee vir ons ’n belangrike sleutel oor ’n Christelike lewensbeskouing en hoe kuns tot eer van God aan die een kant óf op ’n heidense manier aan die ander kant bedryf kan word. Dit gee ons selfs ’n sleutel om te verstaan hoe kuns mense se denke oor God en die wêreld op ’n positiewe of negatiewe manier kan beïnvloed.

Vir jare is die godsdiens in die privaat sfeer ingedwing, terwyl die persepsie ontwikkel is dat kuns, kultuur en wetenskap nie vanuit ’n Christelike beskouing nie, maar sogenaamd objektief benader moet word. Christenwetenskaplikes besef dat kuns, kultuur en wetenskap nie buite die kring van gelowige denke bedryf kan word nie. Indien die teenwoordigheid van God in die kosmos deur die wetenskap veronderstel word, meen die sekulêre wetenskap, kan dit ’n ongesonde voorveronderstelling wees en dalk nie eens as wetenskap verstaan word nie. Indien die afwesigheid van God in die kosmos deur die wetenskap veronderstel word, vorm ’n ander voorveronderstelling die vertrekpunt vir kuns, kultuur en wetenskap.  Om dié rede is wetenskap nie iets waaroor die wêreld praat terwyl Christene hulle slegs by godsdiens bepaal nie. Godsdiens vorm tradisioneel die raamwerk van denke in die lig van die Bybel vir die mens se beskouing oor die sigbare werklikheid en oor God.

Ons Godsdiens word volgens Exodus 35 sigbaar in die manier waarop ons kuns, kultuur en wetenskap bedryf. Kreatiwiteit is in beginsel ’n gawe van God waardeur sy heerlikheid as kreatiewe Skepper afgebeeld word.

Kreatiewe getuienis

Die manier waarop ons die wêreld rondom ons mooi maak, die aarde kultiveer en die wetenskap beoefen, getuig  van ons beskouing oor God. ITydens die Renaissance was kuns een van die kragtigste getuienisse oor wát in die harte van die mense en hul beskouing oor die lewe, hulle beskouing oor die dood, oor godsdiens en selfs oor God leef[2].

Wat jy van die lewe en die dood, van godsdiens en die kerk en God se rol in jou lewe glo, word sigbaar in jou kuns. Dit word sigbaar in die manier waarop jy jou huis versier,   hoe ’n tafel gedek word, die klere wat ons dra, die juwele wat ons aansit,  hoe jy kaste pak,  hoe jy jou lessenaar inrig,  hoe jy jou tuin versier en die soort plante wat jy plant, die  motor wat jy ry, die stories wat jy vertel, die geselskap met wie jy jou tyd deurbring, die musiek waarna jy luister. Al hierdie dinge getuig iets van jou geloof óf die gebrek daaraan.

Die vermaaklikheidsbedryf het die krag van kuns en kultuur benut om massas mense in die 60’s en 70’s van die vorige eeu in  rebelse denke te  verander, wat die weg gebaan het vir ’n totaal sekulêre samelewing wat ons vandag in die Westerse lande en toenemend in Suid-Afrika beleef. Musiek is een van die magstigste wapens om mense se denke te verander. Jou manier van dink oor die wêreld en die doel van die mens se bestaan bepaal  die stories wat jy vertel, jou geselskap, die manier waarop jy na die wêreld kyk, die plek wat godsdiens in jou lewe inneem en selfs jou beskouing oor God en die Bybel en die kerk,  jou wetenskapsbenadering, jou hipoteses, jou kultuurbeskouing en uiteindelik word dit sigbaar in die kunste.

Omdat God weet dat die estetiese (die versiering van die tabernakel) tot die hart en die verstand van die mens spreek en sy beskouing oor God en oor die wêreld beïnvloed, is Moses se eerste opdrag aan die volk met die bou van ’n aanbiddingsplek vir God: maak dit mooi! Net die beste is goed genoeg vir God. Die versiering van die tabernakel is ’n belangrike  getuienis teenoor die heidense wêreld oor die plek van God in die gelowige se lewe en hart. Waar jou aanbiddingsplek is, hoe dit lyk, watter rol dit in die lewe van die aanbidders speel, getuig alles van die getuienis van die gelowige se beskouing oor God en oor die wêreld.

Om dié rede behoort gelowiges nie toe te laat dat ons kerke in die buitewyke van die dorp gebou word nie – dit moet gesien word, want dit getuig van die teenwoordigheid van God in die samelewing .

Die heidendom wil ons wysmaak dat hulle sonder God kan leef en steeds ’n gesonde beskouing oor die wêreld en die mens handhaaf. Sonder ’n gesonde beskouing oor God word jou beskouing oor die wêreld – politiek, ekonomie, onderwys, godsdiens, reg en geregtigheid, wetenskap, kuns en kultuur – toenemend skeefgetrek na die een of ander afgod, want as God in die mens se lewe verdwyn, neem ’n ander god sy plek.

Die hedendaagse mens is verslaaf aan vermaak: televisie, films, selfone, die internet, uitstappies of vakansies. Jou keuse van vermaak waaraan jy jou tyd wy en die hoeveelheid tyd wat jy daaraan afstaan  getuig van jou liefde vir die Here of die afwesigheid van liefde vir die Here. In die lig van Exodus 35 behoort gelowiges voortdurend te toets of hul gedagtes met gesonde vermaak besig is.

Godsbeskouing, wêreldbeskouing = Godsdiens

 Ons dien God deur die manier waarop ons na die wêreld kyk en ons kyk na die wêreld deur die bril van ons beskouing oor God. Dit is die kern van ’n Christelike lewensbeskouing. Ons moet doelbewus moet gaan sit en dink: Wat glo ek van God en hoe word dit sigbaar in die manier waaropek leef?

As ons hierdie doelbewuste denkskuif kan maak in die beoefening van ons kultuur, wetenskap en kuns, werk ons soos sout en soos lig  en goeie suurdeeg in die samelewing. So preek ons lewens oor Christus se opstanding. Die werklikheid van die verandering van bekering wat deur sy Gees in ons harte bewerk is, word sigbaar in ons goeie werke   wat ons Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Kom ons wend ’n doelbewuste poging aan om oor die politiek, ekonomie, onderwys, kuns, kultuur, taal en godsdiens te vra: Wat glo ek van God se betrokkenheid op hierdie gebied en hoe leef ek my geloof in God op daardie gebied sigbaar uit tot ’n getuienis?

Vra jouself: Hoe kan ek God beter dien deur my keuse van die internet, musiek, televisieof my spesialiteit? Jou beskouing oor God het alles te doen met wetenskap, kuns, kultuur en letterkunde en die manier waarop die wêreld ingerig word.

Selfs al in die droë woestyn met die mooimaak van die tabernakel leer God sy volk dat jou Godsbeskouing altyd jou wêreldbeskouing gaan voorskryf. Objektiwiteit in die wetenskap bestaan nie.

Verwysings:

[1] Vergelyk bv. Goheen, Michael W & Bartholomew, Craig G. 2008. Living at the Crossroads: An introduction to Christian Worldview. Grand Rapids: Baker Academic; Litfin, Duane. 2004. Conceiving the Christian College. Grand Rapids: Eerdmans; Sire, James W. 2009. The universe next door. Fifth Edition. Illinois: IVP Academic.

[2] Neem bv. kennis hoe verskillende Bybelse temas in bekende kunswerke van beroemde kunstenaars soos Bosch, Rembrandt, Bruegel, Raphael, Da Vinci en Michaelangelo gebruik is. Kyk gerus na: http://www.webexhibits.org/pigments/intro/renaissance.html en http://historylists.org/art/list-of-10-remarkable-religious-renaissance-paintings.html om voorbeelde te sien.

Deel die bladsy: