Salmon Dannhauser Nel is op 4 Februarie 1961 op Utrecht in die destydse Natal gebore. As jongste kind van ‘n gesin van vyf kinders, het hy aan die Hoërskool Utrecht gematrikuleer waarna hy by die Universiteit van Pretoria aanvanklik ingeskryf het vir  die LLB-graad. Gedurende die eerste jaar het hy egter die roeping ontvang om predikant te word en behaal hy vervolgens die grade BA, BA Hons (Afrikaans), BD, asook die Nagraadse Diploma in Teologie aan gemelde universiteit. Sy liefde vir die Afrikaanse taal was maar die vernaamste dryfveer vir die meestersgraadstudie in dié vakgebied aan UNISA.

Na ‘n bedieningstydperk van 20 jaar, ontvang hy in 2008 die benoeming as registrateur van die AP Akademie, waar hy onder andere betrokke is by die akkreditasie van graadprogramme. Afgesien van die BTh, het hy ook heelwat gewerk aan die BA gedoen wat by die Akademie aangebied word. Vervolgens iets oor die ontwikkeling van die programme.

DIE ONTWIKKELING VAN DIE GRAAD B.Th tot en met 2016

Sedert die begin van die teologiese skool in 1988 is daar met ’n sekere “model” gewerk in die opleiding van predikante vir die Afrikaanse Protestantse Kerkverband. Van studente is verwag om eers ’n driejarige BA – graad te verwerf by enige erkende universiteit, waarna daar vir drie jaar onderrig  in die gereformeerde protestantse teologie plaasgevind het. In die BA graad ontvang voornemende predikante o.a. opleiding in die grondtale van die Bybel soos Grieks en Hebreeus. Dit is opleiding wat dominees baie nodig het om die Bybel reg te verklaar en te verstaan.

Kragtens wetgewing (Die Wet op Hoër Onderwys, wet 101 van 1997), moes alle sentrums wat enige vorms van opleiding na matriek aanbied, by die Onderwysdepartement geregistreer word. Die teologiese skool is toe as Die Afrikaanse Protestantse Akademie geregistreer om die algemene BA sowel as die B.Th. (die teologiese graad) aan te bied. Die AP Akademie het dus voortgegaan met die opleiding van dominees op dieselfde “model” te skoei soos gebruik in die teologiese skool en by meeste ander universiteite volgens die vereiste van die gereformeerde kerke rondom die jaar 2000. Vandag nog vind die opleiding van die predikante aan die Akademie  volgens hierdie “ou” model plaas.

Die “model” vir die opleiding van ses jaar kan dus skematies soos volg voorgestel word:

BA 1
BA 2
BA 3

+

B.Th. 1
B.Th. 2
B.Th. 3

 

Intussen, sedert die laaste jare van die vorige eeu en vandag, het meeste universiteite hierdie “model” verander en dit met ’n vierjarige kwalifikasie vervang waarin studente onmiddellik met meer teologiese vakke begin. Na vier jaar word ‘n ander of verdere kwalifikasie soos ‘n nagraadse diploma, ‘n honneurs- of meestersgraad vereis vir hulle predikante.

Dit het daartoe gelei dat die Departement van Hoër Onderwys ons grade nie meer as een “op” die ander, maar een langs die ander begin beskou het. Hulle het dus ook ’n nuwe graadstruktuur vir grade aanvaar wat die hele speelveld verander het.  Waar ons studente altyd met twee grade op vlak 8 deur die onderwysdepartement beskou is, het hulle nou ses jaar se opleiding as vlak 7 beskou.  Die struktuur of “model” wat ons gebruik in ons opleiding, pas dus nie meer by wyse van spreke in die prentjie van die Onderwysdepartement se teologiese opleiding nie.

Die prentjie moet min of meer soos volg daar uitsien:

BDiv 1
BDiv 2
BDiv 3
BDiv 4

 

Dit word nou as ’n vlak 8 kwalifikasie gereken met toegang tot Meestersgrade. Hoewel ons studente in die huidige graadstruktuur egter steeds deur sommige universiteite as studente met vlak 8 kwalifikasies erken word, kan dit ongelukkig nie vir die toekoms gewaarborg word nie.

Die Senaat het met goedkeuring van die Raad van die APA in 2011 ’n aansoek om  ’n  vierjarige BDiv-graad ingedien wat ongelukkig nie deur die Onderwysowerhede goedgekeur is nie.

Die geleentheid het hom egter voorgedoen dat instellings aansoek kan doen vir die omskakeling van kwalifikasies in ’n proses wat deur die Onderwysdepartement geskep is, juis om alle grade van publieke sowel as privaat instellings in lyn met mekaar te probeer bring. Dit het meegebring dat die APA  ’n aansoek voorberei het om die die driejarige B.Th.-graad om te skakel na ’n vierjarige graad.

Die uitdaging is steeds om die goeie standaard en kwaliteit opleiding wat predikante van die AP kerkverband ontvang het, te handhaaf. Dit is ook van kardinale belang dat die vereistes van die kerkverband vir predikante en die vereistes soos deur die owerheid gestel, by mekaar uitgebring word en met mekaar versoen word in die grade en kwalifikasies wat die AP Akademie aanbied. Die Kuratorium vorm hierin ’n kritieke skakel.  Verder is dit belangrik dat hierdie groot saak van die teologiese opleiding van die predikante van die AP Kerkverband, altyd ’n gebedsaak van die lidmate van die kerk sal wees en bly.

DIE ONTWIKKELING VAN DIE BA-GRAAD TOT EN MET 2016

Die Raad op Hoer Onderwys (CHE) vereis in een van die kriteria vir programakkreditasie (Kriterium 19), dat programme voortdurend deur persone van buite geëvalueer en verbeter moet sodat dit aan algemene standaarde voldoen. Soos in die geval van die BTh, is ook die BA geëvalueer en met minimale veranderinge sal die BA vanaf 2017 ook belyn word, om in pas te bly met die nasionale kwalifikasieraamwerk (NKR) en vlakke.

Drie klein veranderinge wat in die BA in die vooruitsig gestel word, is die verpligte vak Akademiese Geletterdheid wat deesdae as ʼn generies-verpligte vak by meeste universiteite en hoër onderwysinstellings aangebied word. Dit is ʼn vak wat poog om studente te help om die groot sprong van skool na naskoolse  onderrig te vergemaklik met modules soos studiemetodes, vereistes van naskoolse studies, indiening van werksopdragte en take,  asook ʼn verbetering  Afrikaanse en Engelse taalvaardighede. Die tweede verandering is die vermeerdering van die verpligte vakke sodat studente ‘n sterker en groter basis van wetenskaplike oriëntering in die etos en doel van onderrig by die APAkademie kry. Dit sal meebring dat studente minstens een jaar die vak Filosofie moet neem en dan ook uit groepe moet kies waarvan die keuse op ʼn taal en/of kommunikasiekunde neerkom. Die APA is by SAQA geregistreer met tale en kommunikasie sowel as die christelik-gereformeerde onderbou as missie en visie van opleiding aan die APA. Bietjie meer hiervan moet dus in die BA-studie tereg kom.

Ons glo en vertrou dat hierdie veranderinge die kwaliteit en uniekheid van die kwalifikasies aan die APA sal onderstreep en die grondslag van verantwoordelike en verantwoordbare studente en arbeiders in die Suid-Afrikaanse samelewing sal versterk.

Deel die bladsy: