Hoe het die wêreld ontstaan?
Wat is kennis en hoe weet ‘n mens dat jy met kennis en waarheid te doen het?
Wie en wat is die mens regtig? Hoekom is ek hier op aarde?
Hoe weet ek wat is reg en wat verkeerd? Hoe moet ons dan lewe?
Wat moet ek van die toekoms verwag?

Hierdie soort vrae en ‘n menigerlei ander knaag op ‘n daaglikse basis aan studente. Die studiejare is belangrik. Maak nie saak watter studierigting jy volg nie. Dit is nodig om jou lewensbenadering uit te pluis. Party is bewustelik daarmee besig. Ander onbewus. Feit is: Jy kan hierdie aktiwiteit nie ontloop nie. Elkeen is daarmee besig. Soos wat jou lewe op aarde vorder, raak ’n bepaalde lewensbenadering al meer duidelik by elke individu.

Om by die AP Akademie (APA) te studeer, beteken dat ’n gereformeerde lewensbenadering gevorm wil word. Die opvoedkundige en wetenskaplike aard van die APA vereis van studente om liefs bewustelik met lewensbenadering om te gaan. Dit het immers ’n deurslaggewende impak op jou as wetenskapper, as landsburger, volksgenoot, huweliksmaat, ja, as mens in al jou hoedanighede en optredes. ’n Mens het dus nodig om jou benadering tot die lewe as’t ware eers te deurdink voordat jy die wêreld ingaan om veral jou beroep te beoefen. ’n Kernvraag lui in hierdie verband: Hoekom dink ek, doen ek, voel ek so – ja, wil ek op ’n bepaalde manier dink, voel en doen?

Eta Linnemann
Voordat ek meer uitbrei, vertel ek eers kort iets van Eta Linnemann, ’n wetenskaplike. Sy het haar doktorstitel in Duitsland ontvang met die hoogste lof (summa cum laude). Die Teologiese Fakulteit van die Philipps-Universiteit Marburg het haar vereer met ’n honorêre professoraat en die Braunschweig Universiteit vir Tegnologie het aan haar ’n leerstoel gebied wat sy luisterryk beklee het. Wêreldwyd het sy erkenning ontvang as wetenskaplike. Selfs befaamde geleerdes soos Rudolf Bultmann en Ernst Fuchs het haar gerespekteer. Maar op die ouderdom van 55 jaar (1978) gebeur iets drasties. Eta Linnemann verwerp al haar wetenskaplike werk tot op daardie datum in die lig daarvan dat haar wetenskaplike arbeid nie gelowige, Skrifgehoorsame arbeid was nie. Sy het tot bekering gekom. Kon dit dalk anders gewees het as sy vroeg in haar loopbaan reeds anders opgevoed was in die wetenskapsbeoefening? Die AP Akademie reken wel so.

Behalwe dat die APA daarna streef om vakfilosofies in elke vakgebied uit die gereformeerde grondslag van die drie formuliere van eenheid te werk, blyk dit boonop nodig, om studente doelbewus bloot te stel aan ‘n gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing. Meer integrasie blyk nodig te wees. Ons is dankbaar om te meld dat die spreekwoordelike wiel vir hierdie werk alreeds uitgevind is, waarvan ’n mens vrugbaar kan gebruik. By die destydse Potchefstroomse Universiteit vir christelike hoër onderwys is ’n spesifieke kursus ontwikkel, genaamd: Kursus in lewens en wêreldbeskouingsleer en menslike samelewingsverbande (J.A.L. Taljaard. 1963). Hierdie kursus het voortgebou op Prof. H.G. Stoker (1961) se bydrae: Beginsels en Metodes in die Wetenskap. Intussen kan ook na ander werke gekyk word, byvoorbeeld –A Christian View of Philosophy and Culture (Francis A. Schaeffer, 1982. Complete Works, Vol. 1); Think Biblically! Recovering a Christian Worldview (John MacArthur, red. 2003); Revolutions in Worldview. Understanding The Flow of Western Thought. (W. Andrew Hoffecker, red. 2007.); Living for God’s Glory. An Introduction to Calvinism (Joel R. Beeke. 2008).

Inhoud
Kyk ’ n mens na die inhoud van so ’ n vak lyk dit belangrik om saam met studente ’n aantal sake te deurdink soos byvoorbeeld die begrip lewens-en wêreldbeskouing, verskillende gangbare lewens-en wêreldbeskouings, in besonder die sg. Postmodernisme. Dit lyk ook belangrik om te besin oor manlikheid, vroulikheid, huwelik en gesin, musiek en aanbidding, ’n Skriftuurlike wetenskapsbeskouing en arbeidslewe, jou kyk op die geskiedenis, die verhouding kerk en staat, asook nog die ekonomie, literatuur en die kunste. Gereformeerd-wees as sodanig mag nie agter weë bly nie, asook nog ’n vrome/heilige lewenswandel. Nee. Nie net teologie studente nie; alle studente het nodig om oor hierdie sake doelbewus te besin!

Aanbeveling
Professor Albert M. Wolters het ‘n boekie geskryf, wat ook in Afrikaans vertaal is, met die titel: Die skepping herwin; Bybelse grondslae vir ’n reformatoriese lewensbeskouing. Potchefstroom: PUCHO (ISBN 1-86822-095-8). Diegene wat hierdie boekie nie meer ter hand kan kry nie, kan gerus wegspring met Johan MacArthur en sy span se boek: Think Biblically! Recovering A Christian Worldview (Wheaton, IL: Crossway. ISBN 978-1-4335-0398-6) Soos wat een evalueerder skryf:

“Dit lyk in ons dag of daar maar weinig Christene is, wat verstaan wat hulle glo. Nog slegter; meeste kerke misluk daarin om die gesonde leer te kommunikeer. In plaas daarvan word gebou op ervaring en die pragmatiese gedagtes van mense …”

Juis daarom help ‘n boek wat poog om uit die Skrif, ‘n mens aan die dink te sit oor hoe ons behoort te dink en leef.

Intrede tot die vak Gemeentebou
Die institusionele kerk is besig om op talle plekke te sterf! Daar is drasties fout! Dit dwing ‘n mens tot besinning. Gereformeerde kerkwees wat werklik wil bou, het nodig om die sonde en swak punte ootmoedig in eie kring aan te wys en aan te spreek, terwyl die stryd teen die liberalisme nie verslap nie. Deur hierdie professorale intreerede wil ons u op hoogte bring met verwikkelinge in die vak Gemeentebou by die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Die APA gaan bewustelik ‘n eie weg in gemeentebou. Dit hou egter aktueel tred met die gees van die tyd. Hier is nie sprake van kitsoplossings nie. Werklik reformatoriese geloof– in die historiese sin van die woord – is onmisbaar vir ‘n grootse onderneming soos gemeentebou midde die postmodernisme.