Beurse en Lenings:
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE AKADEMIE beskik oor 'n fonds waaruit jaarliks beurse en lenings aan studente toegeken kan word.
Vriende van die APA
Die AP Akademie is ‘n privaat Afrikaanse universiteit, en ontvang geen subsidie van enige aard van die Suid-Afrikaanse owerheid nie. Die AP Akademie word wel gedeeltelik gesubsidieer deur die sinode van die AP Kerk, maar ons maak staat op die welwillendheid van mede-geloofsgenote vir die behoud en uitbreiding van hierdie akademiese instelling. Alle erflatings of donasies stel die APA in staat om sy werksaamhede as Afrikaanse Gereformeerde universiteit voort te sit, en sal hoog op prys gestel word.
Indien u meer inligting verlang kontak ons per e-pos by Die AP Akademie of by 012 3443960/1/2 tydens kantoorure.
Beurse
Die AP Akademie beskik oor ‘n beursfonds wat deur die Kuratorium van die AP Kerk geadministreer word. Daar is twee soorte beurse waarvoor studente aansoek kan doen:
a) Behoeftebeurse
Indien ‘n student om welke rede nie die fondse het om aan die AP Akademie te studeer nie, maar na die oordeel van die Kuratorium, op aanbeveling van die Fakulteitsraad, tog akademiese potensiaal toon, kan die student by die Kuratorium aansoek doen om ‘n behoeftebeurs vir die betaling van sy/haar studiegeld aan die AP Akademie. Sodanige student moet die Kuratorium voorsien van ‘n volledige begroting vir die betrokke studiejaar, asook redes verskaf waarom die student nie die studiegeld kan vind nie. Die Kuratorium oordeel oor die meriete van die saak. Hierdie beurs word toegeken met inagneming van die beskikbaarheid van fondse. Slegs studente wat ‘n lidmaat is van ‘n plaaslike AP Kerk kan vir hierdie beurs in aanmerking kom. Hierdie gelde hoef nie deur ‘n student terug betaal te word nie, mits hy/sy die betrokke jaar suksesvol voltooi. Studente wat meen dat hulle in aanmerking kom vir hierdie beurs moet ‘n volledig voltooide aansoekvorm rig aan:
Die Registrateur van die AP Akademie
Posbus 11488, Hatfield, Pretoria, 0028
Of stuur u aansoek aan: Die AP Akademie
Of stuur ‘n faks na 012 344 5480 vir die aandag van die Kuratorium
b) Prestasiebeurs
Studente wat een of meer akademiese jaar aan die AP Akademie suksesvol voltooi het, kan in aanmerking kom vir ‘n prestasiebeurs. Hierdie beurs word in oorleg met die Fakulteitsrade van die AP Akademie oorweeg ten opsigte van studente wat hulself akademies onderskei van ander studente. Die minimumvereiste om in aanmerking te kom vir so ‘n beurs is 75% gemiddeld. Studente wat voltyds ingeskryf is vir ‘n graadkursus aan die AP Akademie kom in aanmerking vir hierdie beurs. Die beurs word toegeken met inagneming van die beskikbaarheid van fondse. Hierdie gelde hoef nie deur ‘n student terug betaal te word nie, mits hy/sy die betrokke jaar suksesvol voltooi.
Lenings
Die Willie Lubbe Teologiese studiefonds
Geregistreerde teologiese studente asook voornemende teologiese studente van die AP Akademie kan aansoek doen om ‘n studielening vanuit die Willie Lubbe Teologiese studiefonds.
Die lening behels ‘n polis wat in die aansoeker se naam uitgeneem word by ‘n gemagtigde finansiële instelling, met die Willie Lubbe Studiefonds as begunstigde. Vir die duur van die betrokke student se studie onderhou die APA die polispremie, en skiet jaarliks ‘n bedrag aan die student voor ter betaling van sy/haar finansiële verpligtinge. Na voltooiing van studie onderhou die student die polispremie vir ‘n tydperk van 4 jaar as terugbetaling van die lening. Indien ‘n student sy/haar studie om welke rede staak, of hul kursus nie slaag nie, sal hulle verantwoordelik gehou word vir die bedrae wat hulle geleen het teen ‘n vasgestelde rentekoers wat met die Kuratorium onderhandel word.
’n Volledige leningsaansoek moet die APA bereik voor/op 3 Januarie van die jaar waarvoor finansiële hulp verlang word. Laat aansoeke kan nie oorweeg word nie.
Ander lenings
Enige ingeskrewe- of voornemende student aan die AP Akademie kan aansoek doen om ‘n APA-lening, met inagneming van die beskikbaarheid van fondse. Aansoeke moet gerig word aan:
Die Registrateur van die AP Akademie
Posbus 11488, Hatfield, Pretoria, 0028
Of stuur u aansoek per e-pos aan: Die Registrateur
Of stuur ‘n faks na 012 344 5480 vir die aandag van die Rektor van die APA.
Navorsingsfonds
Die AP Akademie beskik ook oor 'n fonds vir navorsing en publikasie deur dosente.
Aansoekvorms
Aansoekvorms is beskikbaar onder die Administrasie afdeling van hierdie webblad. Alle aansoekvorms wat nie daar geplaas is nie, kan per e-pos aangevra word by Die Sekretaresse van die Dekane
|