Hy het matriek geskryf aan die Hoërskool Brandwag in Benoni. Daarna het hy die graad BA aan die Universiteit van Pretoria (UP) met lof verwerf met Grieks en Hebreeus as hoofvakke.

Hy het ingeskryf vir die graad BA Honneurs aan UP en was die enigste kandidaat vir die jaar wat  die BA Honneurs in Grieks en Semitiese Tale gesamentlik gedoen het. Hy verwerf die BA Honneurs in Grieks  én Semitiese Tale met lof.

Daarna verwerf hy die B.Th.-graad met lof aan die Afrikaanse Protestantse Akademie, met ‘n navorsingskripsie in die Departemente Ou en Nuwe Testament.

Terwyl hy besig was met die B.Th.-graad het hy ook gelykertyd geregisteer vir ‘n MA in Antieke Tale aan UP, en verwerf die graad met lof met ‘n verhandeling wat die Nuwe-Testamentiese sosiale wetenskap asook die studie van die vroeë kerkvaders dek, met die titel: Mens en natuur: ‘n Bronnestudie na die Bybelse- en na-Bybelse perpektiewe. Hierin het hy in besonder die oerwortels vir die huidige ekologiese krisisse nagevors, met spesifieke fokus op die Griekse tekste van die vroeë kerk (patristiek) oor die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur.

Hierna verwerf hy die graad D.Litt (Grieks) aan die Universiteit van Pretoria in 2007, onder leiding van proff. HF Stander en PJ Botha, met sy doktorale proefskrif in die veld van die patristiek (die studie van die kerkvaders), spesifiek dié van eer en skaamte, met fokus op die Griekse tekste van die kerkvader Klemens van Aleksandrië. Sy proefskrif is getiteld: ‘n Analise van die sosiale waardes in die leefwêreld van Klemens van Aleksandrië soos vergestalt in sy Paidagogos. 

Hy was dosent in Semitiese Tale aan die Afrikaanse Protestantse Akademie in Pretoria sedert 1999-2016. In die tussentyd was hy ook by UP betrokke in die departement Antieke Tale.

In 2005 is hy voltyds aangestel as dosent in die Fakulteit Teologie in die Departement Nuwe Testament, en doseer terselfdertyd Hebreeus tot op derdejaarsvlak. Sedert 2006 is hy hoof van die Departement Nuwe Testament, en het Semitiese Tale as verantwoordelikheid gehou.

Sedert 2009 doseer hy ook Grieks vir eerstejaar- tot derdejaarstudente aan die AP Akademie.

Hy het al by verskeie nasionale en internasionale kongresse as spreker opgetree (onder andere in New York en Chicago), en het verskeie artikels in wetenskaplike- en kerklike tydskrifte gepubliseer. Hy dien tans in verskeie openbare posisies as vakspesialis, raadgewer, voorsitter of lid. Hy was ook by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika betrokke by die vertaling van die Bybel in Afrikaans – ‘n Direkte vertaling wat DV binnekort sal verskyn.

Hy is deel van ‘n groep akademici wat besig is om te werk aan ‘n Reformatoriese Studiebybel met die kantaantekeninge van die Statevertaling in samewerking met die Gereformeerde Bybelstigting van Nederland.

Hy is sedert 2001 predikant in die Afrikaanse Protestantse Kerkverband en is tans leraar (deeltyds) van die gemeente Wonderboom in Pretoria.

Hy het ‘n besondere belangstelling in die studie van die martelaarskap van die kerk deur die eeue, die studie van die kerkvaders, asook navorsing oor die grondteks van die Nuwe Testament en het al dikwels oor hierdie onderwerpe aanbiedings, artikels en openbare optredes gelewer.

Van die werke wat hom die afgelope tyd die meeste in sy denke beïnvloed het, is James Kalb se The Tyranny of Liberalism, Duane Litfin se Conceiving the Christian College, Brad Littlejohn se The Mercersburg Theology and the Quest for Reformed Catholicity en Ross Douthat se Bad Religion. How we became a nation of heretics.

Hy vind teologies aanklank by teoloë soos D. Carson, C. Trimp, Michael Horton, Alister McGrath, Francis Schaeffer, Steve Turley, John Frame en Vern Poythress. Sosio-teoloë soos Bruce Malina, John Pilch en Jerome Neyrey het ook ‘n sterk invloed in sy denke oor die Teologie.

Hy is getroud met Marianne, en hulle het twee kinders.

Besoek gerus sy webblad by: http://www.gdssmit.com vir meer.

Kort Samevattings van onlangse referate deur Prof. Gerrit Smit

Vertaalteorie Referaat
Prof. Gerrit Smit wys daarop dat ‘n vertaalteorie nodig is vir die werkswyse wat by Bybelvertaling gevolg moet word. ’n Afrikaanse vertaling word nou gedoen wat bronteks georiënteerd is en geskik sal wees vir gebruik in eredienste, by kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

Daar is besluit dat die vertaalteorie wat gebruik moet word op die funksionalistiese benadering van Christiane Nord moet berus en dat Ernst-August Gutt se “direkte vertaling”-aanslag geïmplementeer moet word.

Die 1983-vertaling het van die dinamies-ekwivalente vertalingsmetode van Naida vertrek. Sedert 1983 is egter tot die besef gekom dat hierdie metode gerig is op die sendingveld, maar nie geskik is vir gebruik in gevestigde kerke nie.

Tot in die 1950’s is die ideaal van woord-vir-woord vertalings nagestreef. ‘n Voorbeeld daarvan is ons 1933/53-vertaling.

Deur die eeue heen was die beginsel van getrouheid aan die bronteks ononderhandelbaar.

Naida het nie op woorde gefokus nie, maar die boodskap van sinne probeer weergee. Hy wou hê dat die vertaling op die leser vandag dieselfde uitwerking moet hê as wat die brontaal destyds op lesers gehad het. Die vraag is of dit moontlik is om vas te stel wat die uitwerking destyds was?

Om dit vandag te bereik, sal geïnterpreteer moet word – wat die gevaar van subjektiwisme inhou.

Die Nederlanders het onlangs ’n nuwe Bybelvertaling in gebruik geneem. Hulle onderskei tussen ’n naturaliserende vertaling en ’n eksotiserende vertaling.

In eersgenoemde geval word aangepas by die sosiokulturele omgewing. Dan word mate, gewigte, geldeenhede en kulturele gebruike in die moderne taal (“doeltaal”) weergegee.

By die eksotiserende vertaling word by die bronteks en die kultuur van daardie tyd gebly.

Gutt onderskei tussen “direkte” en “indirekte” vertalings. Die indirekte dui op die indirekte rede, dit wil sê woorde word geïnterpreteer. Daarmee tree die subjektiewe na vore.

Die bronteks van die Nuwe Testament Referaat
Prof. Dr. Gerrit Smit spel enkele gedagtes oor die teks van die Nuwe Testament uit.
Hy wys op Sinodebesluite oor die gebruik van Bybelvertalings.

Hy bespreek verder die vraag wat die regte grondteks is. Hy wys op twee grondtekste, nl. Die Textus Receptus (TR) wat by die 1933/53-vertaling gebruik is, en die UBS-teks waaruit die 1983-vertaling gedoen is. In die verband verduidelik hy wat die teksfamilies, die meerderheidstekslesing en die oudste teks behels.

Vervolgens behandel hy die beskuldigings teen die UBS-teks en die “King James Version only”-teorie.

Hy kom tot die  gevolgtrekking dat volgens die Gereformeerde belydenis die vertalings van die UBS ook die Woord van God is. Waar ons vandag aan die vooraand van n derde Afrikaanse vertaling staan, hoef ons nie te twyfel of die grondteks wat gebruik word by hierdie vertaling die Woord van God is nie. Nou wag ons op die eindproduk van hierdie vertaling in Afrikaans. Eers dan kan  besluit word of dit in die AP Kerk aanvaar word. Oor die grondteks het ons egter geen twyfel nie.