’n Wortelsaak in ons tradisie

deur: prof. Alwyn Swanepoel

(Toespraak gelewer by Orania se Burgerraadsdinee, April 2016)

Meneer die Seremoniemeester,

Een van die wonderlike dinge van ’n aand soos vanaand is dat ons werklik rede het om fees te vier oor wat deur die genade rééds bereik is. Natuurlik het ons alles behalwe gearriveer, maar hoe wonderlik dat ons kan terugkyk en sien hoe grondgebied en instellings, denkapparaat en praktyke, al ’n bepaalde momentum en diepte begin kry het.

Daar is ’n opgewondenheid onder ’n volgende geslag, een van die beste tekens dat jou visie geslaagd is. Ons kan, danksy ons leiers, in die hoogste kringe saampraat met ons eie woorde en konsepte: ’n alternatiewe moderniteit, gemeenskapsfederalisme, ’n ander idee-raamwerk, ’n ander logika, veelvuldige identiteite, ensovoorts. Genoeg is alreeds reeds gedoen om tong in die kies, en buite die kies, te sê dat ons duidelik weet wat ons bedoel as ons stel dat ons met iets op weg is wat ook die teenoorgestelde van die ATKV kan wees. Ons sou ook wou praat van die VKTA – die verbeeldingryke klassieke tradisie onder Afrikaners, of miskien sagter op die oor: die visie van die klassieke tradisie onder Afrikaners.

Ons bou hieraan op ons eie manier, maar tegelykertyd saam met soveel vriende in ander lande wat hierby aansluit. Bart Jan Spruyt van die Edmund Burke Stichting in Nederland noem dit ’n tradisie van vreugde. Die bekende denker en historikus, Russell Kirk, het dit meevoerend beskryf as ’n tradisie wat ten diepste ’n tradisie van die liefde is.

Hierdie tipe bydraes laat ons besef dat ons allerhande deugde en gawes van die Gees afsonderlik kon neem, en telkens vanuit ’n besondere invalshoek of lens ’n spesifieke kant van ons tradisie kon belig. Wanneer ons byvoorbeeld na die bekende embleem van Orania kyk, sien ons dadelik die selfwerksaamheid, die fluksheid, van hierdie tradisie raak. Ek is seker u het hierdie kant al baie belig en hoe nodig is nie! As ’n mens die bekende deugde met hul gepaardgaande ondeugde in oënskou neem, besef jy vinnig dat ons hier, vanuit die tradisie beskou, met ’n simbool teen laksheid of luiheid te make het. Gaan ons beeldryk te werk, sou ons dalk, na aanleiding van Mind-of-a-fox faam, die beeld van die jakkals wou omvorm, waarskynlik drasties wou omvorm, om die kardinale deug van verstandigheid en omsigtigheid (prudentia) te hanteer. Die feit is dat ons ook hier met veelvuldigheid te make het en telkens, na gelang van omstandighede, sou ons ’n ander deug as lens op ons tradisie kon gebruik om dinge na die oppervlak te bring wat dalk ongesiens verbygaan. In hierdie verband het iemand soos die genoemde Russell Kirk al groot werk gedoen in sy onderwaardeerde opvolg op sy klassieke werk, The Conservative Mind. In sy werk, Propects for Conservatives, maak Kirk van die sewe klassieke deugde en die sewe dodelike sondes gebruik om lig te werp op aspekte soos die intellek, gemeenskap, geregtigheid, orde, lojaliteit, tradisie, en mag.

Daar lê na my mening heerlike werk vir ons voor om in die voetspoor van hierdie benadering, die verskillende deugde-lense op ons eie konteks te plaas. Dit kan help om die veelkantigheid van die alternatiewe moderniteit deeglik uiteen te sit en ons terselfdertyd te bewus maak van hoe edel hierdie tradisie kan wees. Vanaand wil ek u aandag vra vir ’n kernsaak in hierdie tradisie wat eintlik te gevaarlik is om te bespreek. Die rede is dat dit die spreker en die hoorder so maklik dubbeld skuldig maak. Van hierdie deug sê iemand soos die Engelse juris, John Selden, dat dit ’n deug is waaroor almal preek, wat niemand beoefen nie, en waaroor almal heel gemaklik nog ’n toespraak sal aanhoor. Ek praat natuurlik van daardie eienskap in ons tradisie wat die stam is waaruit al die deugde groei: nederigheid. Dit staan so sentraal en tog is dit so teer dat wanneer jy te sterk daarop fokus, veral by jouself, dit baie vinnig verdwyn. En tog wil ek saam met u die waagstuk aangaan om daaroor te besin onder die volgende hoofde:

  • Die belangrikheid van nederigheid in ons tradisie.
  • Die groot stimulant vir nederigheid in ons tradisie.
  • Deelname aan nederigheid in ons tradisie.
  1. Die belangrikheid van nederigheid in ons tradisie

Waarom is nederigheid so kardinaal in ons tradisie? Die eenvoudigste en belangrikste antwoord hierop is seker dat ons dít aan die orde wil stel wat die opperste teenvoeter vir hoogmoed is. Hoogmoed soos u weet, kom voor die val – van persone, maar ook van instellings en tradisies. In die Christendom word hoogmoed redelik algemeen beskou as die wortelsonde waaruit alle ander sonde ten diepste hul oorsprong aflei. So het die satan geval, so het Adam en Eva geval. Hoogmoed hang nou daarmee saam dat die mens telkens op een of ander wyse self god wil probeer wees. En as ons dan hiervan oortuig is, moet ons ook mos sê dat nederigheid as die  teenoorgestelde van hoogmoed, die wortelsaak is waaruit baie goeie dinge voortkom. Waar mense nog aanvaar dat hul asem in hulle neus, ja meer nog, die feit omhels, is verademing. Ek is nie Jesus nie – wat ’n verligting! Ek is wel ’n loot van die Wynstok wat in sy Naam kragtige dinge kan doen, maar messiaskomplekse val weg. Die kerkvader Augustinus het dan ook daarop gewys dat indien die deug van nederigheid nie aanwesig is nie, geen ander deug werklik in iemand kan voortspruit nie; ja, ook nie iets soos dapperheid nie. Om dit effe vooruit te loop, want dan sal jy met al jou dapperheid nie meer ridderlik kan wees nie.

Dit bring ons reeds by die besef van hoeveel wanvoorstellings daar oor nederigheid bestaan. Dit loop steeds dik onder ons mense dat nederigheid gaan oor ’n tipe ekskuus-dat-ek-leef houding, ’n slawemoraal, om een van die bekende uitdrukkings te gebruik; en die laaste ding wat die Afrikaner, wat reeds vertrapping beleef, nodig het. Hierdie slawe-koor moet ons aktief teenwerk. Te veel stryde word verloor indien ons hierdie wanvoorstellings volhou. Te veel versoekinge word listig uit hierdie wortel gevoed as ons hoogmoed verdoesel.

Om ’n paar voorbeelde te noem: Afguns en naywer is twee van die dogters wat deur hoogmoed gevoed word. En die bekende sosiale denker, René Girard, het lankal daarop gewys dat hierdie groen sussies nader aan ons is as wat ons wil erken. Wat sy analise so skrikwekkend maak, is dat dit daarop wys dat ’n gemeenskap soos Orania ’n besonder maklike teelaarde daarvan kan wees. Waarom? Omdat, sou Girard sê, Orania se mense juis so baie dieselfde is; en hoe meer mense dieselfde is, hoe meer het hulle dieselfde begeertes en met ’n beperkte aanbod, of moet ons eerder sê ’n persepsie van beperkte aanbod, neem die gevaar van afguns en naywer eksponensieel toe.

En nou werk die anatomie van jaloesie mos verder ook so dat jy jou ego-dramas maklik laat skuil agter sogenaamde beginsels. En in die naam van beginsels word dan iemand se swak punte, en ook goeie punte, gekritiseer, maar eintlik is dit glad nie waaroor dit gaan nie. Jan of San het een of ander iets wat jy begeer en in plaas van jou met nederigheid in iemand se geluk of gawe te verbly, gaan jy, en selfs jou fan-klub van vyf of dalk vyftig, ’n weg op waar dit vir almal buite die groepie baie duidelik is wat eintlik hier aangaan. Die hele #mustfall-beweging, in sy linkse of regse gestalte kan gerus maar so ’n bietjie selfondersoek doen. Laat ons mekaar ook telkens herinner aan ’n basiese saak: Wanneer beskuldigings en aanklagte in enige groep geweldig toeneem, moet ons nooit vergeet dat die satan die groot aanklaer is nie. Wanneer ons verder insien dat ook woede ’n seun is van hoogmoed, moet ons eenvoudig waak dat ons heftige optrede nie ten diepste gewortel is in hoogmoedige harte nie. Dit beteken nie dat ons verkeerde dinge moet goedpraat nie, maar die hoe maak nogal ’n geweldige verskil aan die manier waarop ons konflik hanteer. Nederig-wees maak dat ons in ons skermutselinge getipeer sal word as ferm en vol grasie. Daarsonder sit ons egter met groepe wat vir boertjie Ignus baie laat sis, sodanig so dat Ignus later klink soos Isis.  Dit is ’n bekende feit dat skelheid dikwels die boesemsonde van konserwatiewes is. In terme van ons tema sou ons dit ’n stappie verder kon neem en vra watter rol hoogmoed en sy ander kind, vrees, in hierdie skelheid speel.

Soms kan ons nie verstaan waarom mense in behoudende instellings mekaar so in die hare kan vlieg nie. Die antwoord is nie altyd net hardkoppigheid nie. Die antwoord is te dikwels ook trotse hoogmoed. Meneer die Seremoniemeester, nederigheid – daardie kenmerk wat van revolusionêres ridders kan maak – is kernbelangrik as ons iets meer wil ken as ego-ritte in behoudende dorpe en instellings.

Maar vriende, Orania ken gelukkig die wonderlike teenmiddel teen hierdie neigings wat in ons elkeen kan woel. Girard wys daarop dat wanneer jy iemand heeltemal buite jou eie kring as finale verwysingspunt het – hy noem dit ’n eksterne bemiddelaar van jou begeertes – jy nie so maklik met ander behep raak nie. En dit het ons mos! Ons het dié Middelaar in die hemel wat ons vrymaak en ons begeertes op God en sy wil rig. Maar dit gebeur net op die weg van nederige erkenning van Wie Hy werklik vir ons is. Op hierdie weg ontdek ons dat nederige optrede teenoor ander ook makliker word. Dit gaan egter oor baie meer as ons individuele dade. Dit gaan oor ons hele menswees, ons totale lewensvisie. Visie en praktyk kan eenvoudig nie van mekaar geskei word nie, ook nie as dit gaan oor iets soos nederigheid nie.

’n Treffende voorbeeld hiervan is sekerlik die voorbeeld van Karl Marx met sy sogenaamde doen-filosofie. Marx het heel goed besef dat jou teorie jou praktyke kan beïnvloed, maar hy was van mening dat filosowe tog aan iets mank gegaan het. Van hom het ons die bekende uitspraak dat die filosowe tot dusver gepoog het om die wêreld te verstaan. Die punt egter, het Marx gesê, is om dit te verander. En hoe het die Marxmannetjies nie op hierdie wa geklim nie! Dit verg nie veel verbeelding om jou voor te stel hoe hulle in rooi oorpakke in ons land opgewonde die mantra herhaal nie en selfs byvoeg: “Maak ’n verskil!”

Wat die linkerflank van rebelle egter nie besef nie, is dat selfs Marx darem ingesien het dat elke praktyk ’n teorie veronderstel. Marx het bedoel dat teorieë meer prakties-empiries moet wees; ’n bepaalde manier van filosofie moes volgens hom plek moet maak vir ’n meer, sou ons kon sê, “praktiese filosofie”. Dit sou alreeds goeie gevolge kon hê as elke gorilla-doener, ook op die regterflank, hiervan kennis neem. Maar ook dit is nog nie genoeg nie. Wat Marx skynbaar nie ingesien het nie, is dat ook sy sogenaamde praktiese teorie steeds gedra was deur ’n bepaalde visie en diep metafisika. Omdat hy nie kritiese aandag hieraan geskenk het nie, was sy praktyk vol slegte gevolge. Die praktyk georiënteerde teorie het juis voorgegee om in die naam van nederigheid gelykstelling te bevorder, maar die netto effek was anders. Die aanhangers het skynbaar gereken dat hulle die nederigste mense was wat hulle geken het, maar vinnig het dit geblyk dat sommige meer gelyk was as ander. Sterker gestel: Marx het ’n praktyk van erge hoogmoed veroorsaak omdat ’n visie, ’n diep insig in ware nederigheid, nie in sy beendere vibreer het nie.

Maar kom ons vra dan eerder positief hoe so ’n diep teorie van nederigheid (en onthou, vir die Grieke het die woord theoria met visie saamgehang) dan wel lyk. Ons kan seker kwalik beter doen as om te wys op daardie Ierse doen-denker – of was hy eerder ’n denk-doener – in die Britse parlement, Edmund Burke. Burke se visie oor ons onderwerp was uitgesorteer: “Ware nederigheid,” het Burke gesê, “is die basis van die Christelike uitkyk. Dit is die onderliggende, maar diep en stewige fondament van alle deugde.”

Burke maak hierdie uitspraak juis na aanleiding van ’n baie praktiese aangeleentheid – die Franse Revolusie. Volgens Burke is dit juis hierdie nederige gesindheid waaraan die revolusionêres mank gegaan het. Onder die invloed van, let wel, ’n teoretikus – Jean-Jacques Rousseau – wou hulle alle bande met die verlede afgooi. Rousseau het geleer dat dit nie nodig is om ’n nederige siening oor die mens te hê waar ons erken dat ons gevalle wesens is nie. Rousseau het eerder uitgegaan van die natuurlike goedheid van die mens. Al die tradisionele beskouinge en instellings hou die mens daarom net in kettings sodat hy nie waarlik vry kan wees nie. Hiervan moet losgebreek word en, sou Rousseau en die Franse Revolusionêres sê, ons het doeners hiervoor nodig; hoe gouer, hoe beter.

Burke hou egter vas aan die nederige visie op die mens as gevalle en geneig tot die sonde. Daarom is hy ook ’n doener, maar in diens van ’n ander visie. Hy werk in die praktyk hard daarvoor dat daar definitief allerhande kontroles en beperkinge op mense sal wees. Maar hy gaan ook omsigtig te werk en wys op die verband tussen eksterne kontroles en interne kontroles. Hoe minder daar interne kontrole in mense self aanwesig is, hoe meer is daar eksterne kontrole van die staat nodig. Vryheid gaan in hierdie beskouing oor ’n dinamiese aanpassing waar eksterne kontroles geleidelik verruil word vir interne kontroles.

Hiermee saam is daar in Burke se visie ook ’n nederigheid teenoor die verlede. Niemand weet alles nie, mense is feilbaar, en die lewe is baie meer gekompliseerd en gevarieerd as wat ons selfs kan droom. Daarom is Burke daarvan oortuig dat dit baie belangrik is om nederig teenoor die tradisie te staan. Die tradisie vergestalt wysheid vir die ongeletterde mens. Dit staan vir die opgehoopte wysheid wat deur eeue se skade en skandes heen ontwikkel is. Jy breek daarom nie sonder meer instellings, gewoontes, en sosiale praktyke wat die toets van die tyd deurstaan het af nie. Jy soek eerder hoe jy veral die sterker punte kan uitbou. Die implikasie is dat nie die tradisie nie, maar die nuutste mode-denke meer suspisieus is, aangesien dit nog nie die tydtoets deurstaan het nie. Dit wat vandag mode is, is môre maklik uit die mode en word dikwels deur ’n volgende geslag afgelag. Die heilige tydsgees is eenvoudig nie die beste maatstaf van die permanente dinge nie.

Dit beteken egter nie dat geen verandering mag plaasvind of dat tirannie en wetteloosheid geduld word nie. Nee, langs die ridderlike weg van mindere magistrate word ferm standpunt ingeneem en indien moontlik en wenslik, na uitgebreide oorleg, ook hard opgetree. Ridders kan hard en dodelik slaan as dit nodig is en alle ander opsies uitgeput is. Laasgenoemde begrip, alle ander opsies, is egter belangrik. Ook hier lei nederigheid die visie om te waak teen voortydige optrede. Daar is ook ’n nederigheid oor wat die mens in staat is om te vermag. Versigtige reformasie, eerder as radikale revolusie is die wagwoord. Die nederige visie erken die mens se Frankenstein-vermoë om in elke proses nuwe monsters te skep; daarom is daar wat verandering betref, ook waardering vir inkrementele skuifelpassies. Daar is in die praktyk ook ’n nederigheid om nie te groot te wil afbyt nie. Daar sal eerder plaaslik en prakties gewerk word – nie te abstrak of te rasionalisties nie – met die hoop dat iets sal uitdy as dit werklik geseënd is.

Natuurlik is daar diegene wat hierdie tipe visie afmaak as pessimisties en dat dit mense nie visionêr genoeg maak vir die toekoms nie. Diesulkes het waarskynlik ’n paar glasies te veel by die toonbank van die modernisme gedrink; sodanig dat die verskriklike gevolge van visionêre in die bloedige twintigste eeu nie raakgesien word nie. Alternatiewe modernes is daarom nie pessimisties nie; hulle is bloot nugter en optimiste met ondervinding. Die mooi naam daarvoor is realisme, ’n woord wat met baie meer elektrisiteit gelaai is as wat ons dikwels besef.

Die waarskynlikheid is groot dat daar baie wanopvattings is wat staande bly omdat hierdie kragveld nie waardeer word nie. Telkens kry ons te make met die feit dat ons tradisie in verband gebring word met pessimisme, bekrompenheid en beperkinge. Selfs iemand soos die gewaardeerde ekonomiese filosoof, Thomas Sowell, loop op hierdie wyse deur. In sy bekende werk, A Conflict of Visions, toon Sowell op briljante wyse aan hoe die groot geeste telkens uitgaan van twee visies – die beperkende visie (constrained vision) of die onbeperkende visie (unconstrained vision). Natuurlik waardeer ons sy analise en ons sien ook raak dat dit juis die sogenaamd onbeperkende visie is wat so maklik hoogmoedig is en, sonder behoorlike grense, chaos saai. Maar laat ons maar erken: Die tipering, “beperkende visie,” klink so, wel, beperkend. En dan is ons self ook dikwels aandadig deurdat ons al die klem op die beperkings en die grense gaan plaas op so ’n manier dat dit wat veronderstel was om vryheid te borg, die teenoorgestelde uitwerking het. Ons kan met al ons klem op grense nog steeds in ’n tipe konserwatiewe wettisisme verval. Ons kan so op grense fokus dat ons die afskerm van ander belangriker laat wees as die vryheid wat deur die grense tot stand kom. Om dit dan in ’n vraag om te sit: Hoe voorkom ons dat ons in ’n verbeeldinglose konserwatisme beland wat bloot afgrensend en beperkend is? Hoe behou ons die gees van verbeeldingryke nederigheid in die mannetjie wat sy moue oprol?

  1. Die groot stimulant vir nederigheid in ons tradisie.

Die eenvoudigste antwoord hang waarskynlik ook hier met die aard van nederigheid saam. Dit maak nogal ’n verskil of dit vir jou eerstens om kontroles en beperkinge en grense gaan wat eerbiedig moet word en of daar eerder iets anders is wat jou dring; iets soos jou respek en verwondering oor die werklikheid wat bepaalde grense tot gevolg het. Laasgenoemde opsie maak gebruik van ’n stimulant wat so voor die hand liggend is dat ons dit maklik kan mis. Die olifant in die kamer is in hierdie geval die kamer self! Ons praat natuurlik van die werklikheid waarin ons leef, beweeg en is. Hierdie werklikheid staan lewensgroot voor ons, om ons, bo ons, en dit is asembenewend. Dit is beslis nie iets wat mak is nie; juis daarom dat jy jou grense moet ken. Ons praat egter hier oor God se werklikheid en daarom is daar ook ’n sin waarin ons naas die grense en beperkinge, ook nie die oorvloedige en misterieuse aard van God se werklikheid uit die oog moet verloor nie.

Die filosoof, Peter Kreeft, wys daarop dat daar basies net drie posisies is wat jy kan inneem oor die vraag na hoe groot die werklikheid waarin ons onsself bevind, nou eintlik is. Jy kan eerstens stel dat daar baie meer dinge in die hemel en op aarde is as wat ooit opgedroom kan word in jou kop. Jy kan tweedens stel dat daar minder dinge in die werklikheid is as wat in jou kop aangaan. Die derde moontlikheid is dat jy kan reken dat daar presies dieselfde hoeveelheid dinge in die wêreld en in jou jou kop aangaan, aangesien jy eintlik oortuig is dat net dit wat in jou kop aangaan die werklikheid is. Die eerste opsie, dat daar baie meer dinge in die wêreld as in my kop is, sê Kreeft, was die oorwegende opsie van baie pre-moderne mense, asook natuurlik van die Christendom, van die digters, en van gelukkige mense oor die algemeen. Jou fundamentele gesindheid teenoor die groot en grootse werklikheid is dan een van verwondering en … nederigheid. Dit is duidelik dat grense en beperkinge in hierdie benadering nie voorop staan nie, maar eerder uitlopers is van ’n dieperliggende gesindheid. Kreeft verduidelik dit aan die hand van J.R.R. Tolkien soos volg:

“Jy is soos ‘n klein kind in ‘n groot huis. Soos wat Tolkien dit in een van sy briewe stel, “Jy is aan die binnekant van ‘n baie groot verhaal. Jy verwag geheimenisse, jy verwag dat daar meer sal wees as wat jy kon verwag het: verskrikkinge wat jou hart laat stol en vreugdes wat dit kan breek. Realiteit – die werklikheid- is groot … In hierdie groot wêreld mag daar nie net dinge soos drake wees nie, maar selfs ook helde.” Die groter-as-die-lewe wêreld is die een waarin ons voorvaders gelewe het.,” se Kreeft, en hy is van mening dat ons kultuur se grootste hartseer die feit is dat ons nie langer in hierdie wêreld leef nie.

Die eenvoudigste stimulant vir nederigheid is dus eintlik baie naby ons. Waartoe ons opgeroep word is om jou ware plek in die werklikheid in te neem en te erken dat realiteit, om nie eens te praat van die lewende God nie, groter – baie groter – as jyself is. Jy hoef nie te maak asof dit waar is of iets onnatuurliks te forseer nie. Jy moet net dit wat is erken. En as daar dan werklike beperking en grense is, as daar ’n orde en ’n bedrading is wat jou rig, dan laat jy jou ook daardeur begelei. Een van die probleme van hoogmoed is dat dit ons werklikheidsvreemd maak. Dan tree ons op asof die wêreld rondom ons draai terwyl dit gewoon net nie is hoe die wêreld werk nie. In die geval van ideologie tree ons dan op asof die wêreld en selfs God rondom die saak draai wat ons tot die sentrum verhef het, terwyl dit weer eens van alle werklikheid ontbloot is. Die kuur vir hierdie vreemde gedrag is daarom baie eenvoudig: Staan vir ’n oomblik stil, klim af van die ego-perd en stop jou eie planne met die werklikheid. Daar is ’n uitdrukking wat ’n mens nogal dikwels in Orania onder die leierskap hoor en wat die wonderlike alternatief treffend verwoord: Neem die gawe van die werklikheid in ontvangs. Laat dit oor jou spoel. Laat jou meesleur.

Met hierdie gedagte sluit ons reeds aan by dit wat ’n ander filosoof, Josef Pieper, so treffend verwoord het. Pieper wys daarop dat wanneer jy die werklikheid in ontvangs neem, jy daarop bedag moet wees om dit as geskenk werklik smakend te ontvang. Moenie sonder meer allerhande bloudrukke daaraan opdring voordat jy dit geproe en die tekstuur daarvan leer ken het nie. Hy waarsku in hierdie verband teen die Herkules-agtige filosoof wat met groot inspanning projekte, ordes en stelsels uitwerk wat die werklikheid kreatief moet hervorm aan die hand van die geniale denkprosesse van die visionêre reus. Om op hierdie wyse te werk te gaan is egter om maklik, om ’n bekende uitdrukking te gebruik, teen die grein van die heelal in te werk. En om dit baie konkreet te maak, dit is een van die punte van solidêre kritiek wat iemand soos professor Danie Goosen teen die vorige bedeling inbring. Projekmatige skemas is aan die werklikheid van Suid-Afrika opgelê in lyn met die gees van die modernisme met sy sentralistiese motiewe. Om dit in terme van ons tema en met die hand in eie boesem vir ’n oomblik huiwerend-sterk en met die voordeel van terugskouing te stel (en, toegegee, ook die versoeking tot hoogmoed van ’n nuwe orde): Die werklikheid is dalk nie nederig genoeg hanteer nie. Maar kom ons steek die hand dan nou in eie boesem oor ons huidige projekte. Gaan óns die werklikheid probeer bloudruk in diens van ons eie ideologie?

Let daarop dat die vermaning nie gaan oor die feit dat ons projekte het nie. Roepingsbewuste mense kan nie anders nie. Maar die “hoe” maak baie saak. Doen ons dit as klein reuse wat hul moue oprol om te wys hoe dit nou eintlik gedoen word of is daar ’n ander gesindheid by ons? Vriende, laat ons eerder klein stofmannetjies en vroutjies wees wat hul aftasting deeglik gedoen het; wat weet dat die taak te groot en die magte te sterk vir ons is as dit van onsself afgehang het, maar wat ook vrymoedigheid het om langs die voeë van die werklikheid aan epiese avonture deel te neem; waar byna bo-menslike hindernisse in God se Naam oorkom word.

En daarom is dit ook baie belangrik dat ons hierdie ontvangende gesindheid wat ons teenoor die werklikheid het, sal sien as iets wat ons juis in staat stel om aksiebelaai te wees. Die beeld van asemhaling help nogal baie om dit duidelik te maak. Dit gaan daaroor dat, om werklik in jou doen-werk uit te asem, jy eers regtig moes inasem. Aktivisme vat pos wanneer ons so uítasem in allerhande projekte dat ons later heeltemal uitásem is. Uitbranding het op meer as een vlak daarmee te make dat ons nie dit in ontvangs neem – inasem – wat God lewensgroot aanbied nie. Die kontemplatiewe tradisie is, in sy beste gestalte natuurlik, met niks anders besig nie as om mense te help om net weer stil te word en te ontvang. Die gedagtes, die planne, die projekte kan so begin rondhardloop, los van die eintlike werklikheid met sy begrensinge, dat uitbranding en val voorspelbaar word. Hierdie benadering is natuurlik ook in pas met ’n baie sentrale gedagte uit die Protestantse wêreld; dat verlossing in die eerste plek iets is wat ontvang word; dat ons geloof in die eerste plek reseptief en nie kreatief is nie. En juis omdat dit reseptief is, kan dit ook voortgaan om vanuit die ontvangs inspirerend kreatief te wees. Geloof, so jubel Protestante, is die middel waardeur ons dankbaar in ontvangs neem wat deur God gegee is. In hierdie verband is daar ’n noue verband tussen natuur en Skriftuur. Ook die Bybel moet ontvangend gelees word. Ook die Bybel kan nie blou gedruk word om die gesigte uit jou eie hart te bevestig nie. Of dit nou die algemene of die besondere openbaring is; dit is altyd belangrik om eers werklik ontvangend te wees voor jy doen. Vra vir die Grieke, kyk na die volgorde in Paulus se briewe, kyk na Christus se antwoord aan Martha met betrekking tot Maria.

  1. Deelname aan nederigheid in ons tradisie

Dit bring ons reeds by die volgende saak, naamlik wat en hoe ons dan maak met dit wat ons ontvang het. Die woord deelname kan hier nogal help, mits ons dit reg verstaan. Ek gebruik saam met baie ander berekend die woord deelname (natuurlik iets wat ons deur die krag van die Heilige Gees doen) om daarop te dui dat nederigheid nie iets is wat jy eers op jou eie moet regkry nie. Nee, soos met ons verlossing in Christus kan ons nooit hieroor self op standaard kom nie. Ons kom soos ons is en soos wat ons Christus se verlossing ontvang en daaraan begin deelneem saam met ander, so kom ons ook om saam met ander hieraan deel te neem. Ons doen dit deur middel van ’n tradisie wat ons help om op die regte manier uit te reik na God se werklikheid en so word óns, veral as ons nie kyk nie, wonder bo wonder, op die regte manier nederig.

En as iemand nog huiwer, is daar een saak wat ons baie help om deur hierdie stroom meegesleur te raak. Russell Kirk merk op dat dit wat die saak vir nederigheid in die tradisie so aanneembaar gemaak het, die begrip genade is. Genade. Want sien, het G.K. Chesterton by geleentheid gesê, wanneer jy aftuimel van die bergpiek van hoogmoed waar alles en almal so klein en kleinlik lyk, beland jy in die dale waar jy weer klein kan wees, opkyk, en die lewe vir jou groot en groots word. Meer nog, sou ons kon byvoeg, dit is hier waar jy die konveksiestrome van genade ontdek. En op die drakrag hiervan word ons soos arende hoër gevoer as wat ons ooit sou kon droom. Die weg na bo is ondertoe, sê een van my leermeesters gereeld op grond van die Bybel (vgl. 1 Pt. 5:6). Niemand almal glo dit nie, maar elkeen wat wil deelneem word gehou aan hierdie salige spelreël.

Die bekende C.S. Lewis het hieroor sulke aangrypende gedagtes gehad. Daar is diegene wat reken dat daar min skrywers in die twintigste eeu was wat die wese van nederigheid so goed kon peil en verduidelik. Om bepaalde redes wil ek ter afsluiting graag iets daarvan aan u bedien met die oog op hartlike deelname aan ware nederigheid in ons tradisie. Die eenvoudigste rede is dat daar moontlik mense is wat hierdie toespraak tot dusver nie eintlik kon waardeer nie en dalk nou waarde kan put. ’n Belangrike ander rede sluit hierby aan en dit is dat Lewis op ’n besondere wyse help om die wanpersepsies oor nederigheid teen die werk. Lewis het soos min ander die gawe gehad (maar ook ’n studie daarvan gemaak) om die morele verbeelding sodanig te verryk dat daar ’n aantrekkingskrag ontstaan wat ’n krag van sy eie uitoefen. Hy is positief, verrassend en tipies van Lewis, maak sy beskrywing ons alreeds begerig om meer te lewe soos wat ons veronderstel is om te leef. In sy bekende werk, Mere Christianity, stel hy dit so (eie vertaling):

“Ons moet nie dink hoogmoed is iets wat God verbied omdat Hy daardeur bedreig voel nie, of dat nederigheid iets is wat Hy eis as gevolg van sy eie hoog​waardigheid nie – asof God self hoogmoedig is nie. Hy is nie in die minste bekommerd oor die bedreiging van sy waardigheid nie. Die punt is dat Hy wil hê dat jy Hom sal ken: dat Hy Homself aan jou wil gee. En Hy en jy is twee ​onderwerpe van so ‘n aard dat as jy regtig enige vorm van kontak met Hom het, sal jy, in werklikheid, nederig wees – verblydend  nederig, en jy sal die oneindige verligting daarvan voel om nou eenmaal  ontslae te raak van al die onsinnigheid oor jou eie waardigheid wat jou jou hele lewe lank al rusteloos en ongelukkig gemaak het. Hy is besig om jou nederig te maak om juis dít moontlik te maak: om baie van daardie onsinnige vertonerigheid weg te neem waarin ons almal onsself toegewikkel het en waarin ons pronk soos die ​dikwels ​klein idiote wat ons is.”

Daar is dalk diegene wat reken dat Lewis hiermee nie genoeg reg laat geskied aan Skrifuitsprake waar dit daaroor gaan dat God sy eer aan niemand anders sal gee nie (vgl. Jes. 42:8; 48:11). Dit mag miskien wees, maar ons moet darem ook erken dat ’n mens nie in elke paragraaf alles kan sê nie. Lewis sou waarskynlik ook daarop wys dat sy fokus ingestel is om ons tot verrassing te skok oor die sagmoedigheid en nederigheid wat geopenbaar is in Hom wat vlees geword het. En laat ons Christus se woorde ook onthou: “Ek en die Vader is een.” (Jn. 10:30). Lewis gaan voort:

“Ek wens ek het al self ‘n bietjie verder gevorder met nederigheid: as ek gehad het, kon ek jou waarskynlik meer vertel oor die verligting, die gemak, om afstand te doen van die vertonerigheid, om ontslae te raak van die valse self, met al die ‘kyk na my’ en ‘is ek tog nie ‘n goeie ou nie?’ en al die pronkerigheid en aanstellerigheid. Om selfs naby hierdie verligting te kom, selfs net vir ‘n oomblik, is soos ‘n sluk koue water vir ‘n man in ‘n woestyn.”

Dit rym natuurlik met die Here Jesus se woorde wanneer ons sy bekende oproep hoor: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Wat ons maklik in hierdie kosbare oproep mis, is dat wanneer Hy rus vir mense se siele belowe, Hy dit begrond in ’n spesifieke rede: “want Ek is sagmoedig en nederig van hart.” (Mt. 11:28-29). Verademende rus, om met sagtheid moedig te wees, en om nederig te wees, het in Christus baie met mekaar te make.

Lewis sê oor sulke nederigheid ook verder iets wat my baie opgewonde maak oor die leiers van die klassieke tradisie onder Afrikaners. Die rede is dat iets van wat Lewis hieroor skrywe, ’n mens raaksien in soveel van ons huidige leiers. Ek sou selfs sover wou gaan as om te sê dat dit dalk die bes bewaarde geheim van die hele beweging van alternatiewe modernes is. En ek dink het dit ten minste iets te make met deelname aan ’n tradisie wat dit voortdurend in hulle stimuleer. U weet, dit is nou mos maar eenmaal so dat die hoë bome die meeste wind vang. En ons ken almal mense wat baie te sê het oor leiers van wie hulle nie kan glo dat hulle in leiersposisies beland het nie. Dit mag dalk geldig wees in sommige gevalle, maar oorweeg gerus in ons eie tradisie of ons nie dalk meer erkenning behoort te gee aan ’n wonderlike kenmerk wat dikwels ongesiens voor ons neuse afspeel en wat Lewis treffend aantoon nie:

 ​”​Moenie dink dat as jy ‘n werklik nederige man ontmoet, dat  hy “nederig” sal wees in die sin waarin die meeste mense dit deesdae bedoel nie: Hy sal nie ‘n soort glibberige, vleiende persoon wees wat jou altyd vertel dat hy natuurlik niemand is nie. Waarskynlik is al wat jy sal dink oor hom dat dit lyk asof hy ‘n vrolike, intelligente ou is wat werklik belangstel in wat jy vir hom te sê het. As jy nie van hom hou nie, sal dit wees omdat jy so ‘n bietjie jaloers voel op enigiemand wat lyk asof hulle die lewe so maklik geniet. Hy sal nie dink oor nederigheid nie: hy sal nie eens aan homself dink nie.”

En om darem nou die leiers te help om nie selfbewus te raak nie, kom ons fokus onmiddellik wyer. Kom ons fokus op die mense van Orania. Laat my toe om ten slotte vanuit een van Lewis se verhale iets te suggereer oor die impak wat mense van Orania kan maak, juis wanneer hulle nie daarop konsentreer nie, maar slegs deelneem aan ’n wonderlike werklikheid deur middel van ’n wonderlike tradisie. In een van Lewis se Narnia-verhale, “The Horse and his Boy”, wat onlangs ook in Afrikaans vertaal is, maak Lewis op ’n besondere wyse gebruik van wat genoem word die penetrerende verbeelding. Hy gebruik ’n hele kinderboek, sonder dat ’n mens dit aanvanklik besef, om op briljante wyse die aard van ware nederigheid teenoor die valse weergawe af te speel. Daar is skrywers wat nederigheid al met groot woorde as net maar ’n tipe slawemoraal afgeskryf het. Lewis skryf vir kinders ’n klassieke verhaal wat die verbeelding oor ware nederigheid brandend hou. Dit is sekerlik baie gepas dat ons saam met kinders weer sal leer wat nederig-wees nou eintlik is.

In hierdie verhaal ontmoet ons die hunkerende seun, Sjasta. Sjasta probeer hard om sy pa lief te hê, maar hy kry dit nie reg nie. Eendag besef hy die rede hiervoor as hy agterkom dat sy sogenaamde pa hom aan ’n slawehandelaar wil verkoop. Sjasta was nog nooit kind nie. En al wat hy ken is die sogenaamde nederigheid van die slawemoraal. Hy beland in die Kalormeense stad, Tasjbaan, en ook daar aanskou hy die slaafse nederigheid. Maar dan ontmoet hy die besoekende Narniane wat so beskryf word (eie vertaling):

“A​lmal was te voet. Daar was omtrent ses mans en Shasta het nog nooit voorheen iemand soos hulle gesien nie….hulle was nie geklee soos die manne van Kalormen nie.”

Die andersheid van die Narniane is vir Sjasta sigbaar in alles – ’n ander klere-styl, ’n helder kleure-styl, ’n ander wapen-styl. Maar bo alles is daar duidelik sprake van ’n ander leefstyl:

“En in plaas van somber en geheimsinnig soos die meeste Kalormene, het hulle met ‘n hup gestap en hulle arms en skouers vry laat swaai, en hulle het gesels en gelag. Die een het gefluit. Jy kon sien dat hulle gereed was om vriende te maak met enigiemand wat vriendelik was en glad nie omgegee het oor iemand wat nie vriendelik was nie. Sjasta het gedink dat hy nog nooit in sy lewe enigiets so lieflik gesien het nie.”

Vriende dit is die werwende krag van ware nederigheid. Dit staan op die agtergrond van mense wat hulself vergeet om in liefde met ander besig te raak. Dit staan op die agtergrond van vryheid, vriendelikheid en ridderlikheid. En wanneer dit ons en ons tradisie deurtrek, kan ons verseker wees – buitestaanders sal begin hunker, omdat hulle sal aanvoel dat hulle nog nooit so iets, so lieflik, in hulle lewe gesien het nie.

Geraadpleegde werke:

Abramson, J.B. 2010. Minerva’s Owl. Harvard University Press .

Backus, W. 2000. What Your Counselor Never Told You. Minneapolis: Bethany House Publishers

Coliers, A. 1999. Marx and the End of Philosophy, in The Edinburgh Encyclopedia of Continental Philosophy. Edinburgh University Press.

Girard, R. 1976. Deceit, Desire and the Novel. London: Johns Hopkins University.

Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae. Bloemfontein: FAK.

Kirk, R. 2006. The Essential Russell Kirk: Selected Essays. Wilmington: ISI.

Kirk, R. 2013. Prospects for Conservatives. Angelico Press.

Kreeft , P. J. 2005. The Philosophy of Tolkien. San Francisco: Ignatius Press.

Lewis, C.S. s.a. Mere Christianity. San Francisco: San Francisco: Harper.

Lewis, C.S. 2000. The Horse and His Boy. San Francisco: HarperCollins.

Pieper, J. 2009. Leisure the Basis of Culture. San Francisco: Ignatius.

Rigney, J. 2013. Live like a Narnian. Minneapolis: Eyes & Pen.

Ritchie, D. E. 2011. Edmund Burke: Appraisals and Applications. London: Transaction Publishers.

Root, J & Neal, M. 2015. The Surprising Imagination of C.S. Lewis. Nashville: Abingdon Press.

Sowell, T. 2007. A Conflict of Visions. Cambridge: Basic Books.

Velema, WH & Van Genderen, J. 1992. Beknopte Gereformeerde Dogmatiek. Kampen: Kok.

Wallach, P & Myers, J 2014. The Conservative Governing Disposition, in National Affairs, uitgawe 20 by

http://www.nationalaffairs.com/publications/detail/the-conservative-governing-disposition. [Aanlyn beskikbaar in April, 2015].