Sieners in plaas van kykers                      

deur: prof. Alwyn Swanepoel

Selfstandigheid is belangrik, ook as dit by universiteite kom. Maar om selfstandig te wees in tersiêre vorming en opleiding gaan oor baie meer as net selfstandige fondse. Die rede is dat jy ook op selfstandige wyse gekondisioneer mag wees deur die tydsgees. Jy kan verder ook op selfstandige wyse nie veel meer wees nie as ’n opportunis wat ’n gaping in die mark raakgesien het. Daarom is dit vir die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) belangrik om meningsvormers van die toekoms te vorm wat baie meer as net selfstandig is.

Prof. Frans van Staden, een van ons voorgangers by die APA, het reeds in sy tyd hieroor inspirerende woorde gespreek. Al sy teologiese studente kan sekerlik daarvan getuig dat hy graag die volgende aanhaling van sy geliefde leermeester, prof. Pellissier, oorgedra het: “Manne, julle moet studeer, studeer en studeer. Julle moet die skema van die eeue voor julle hê om te soek na God se plan vír die eeue.” Dit is hoe prof van Staden ons gemaan het uit te styg bo kondisionering deur die heilige tydsgees.

Die skemas van die eeue – hoe ontdek ons dit? Vir predikante, een van die vernaamste fokuspunte van die APA, beteken dit dat hierdie pad nie om jou binnekamer nie, maar beslis ook nie om jou studeerkamer loop nie. Dit gaan egter vir die APA om meer as net dominees. Dit gaan oor alle soorte leiers wat deur ons instelling gevorm word. Een van die ideale van die APA is om ’n wêreldbeskoulike enjin vir die Suid-Afrikaanse samelewing te word. Ons wil, om die frase van prof. Bennie van der Walt te gebruik, sieners in plaas van kykers in die wêreld instuur. As sommige groepe vra wanneer Siener se man gaan opdaag wat die land gaan uitlei uit sy omstandighede, dan antwoord ons: Ons het nie ’n Siener nie, maar ons werk wel daaraan om baie sieners die samelewing in te stuur – sieners wat in hul onderskeie vakgebiede leiers kan word om ons samelewing weer tot eer van Christus in te rig. By die APA kan ons nie alles doen nie; daarom fokus ons volgens die 20/80 beginsel op daardie minimum velde wat na ons mening maksimale meningsvormende invloed op die samelewing mag uitoefen. Ons ideaal is om veral dominees, onderwysers, sielkundiges en joernaliste te vorm wat leiding kan gee in die samelewing.

Maar hiervoor het sulke leiers meer as leierseienskappe nodig. Hulle het visie nodig wat die huidige tyd met sy uitdagings in verband kan bring met die skemas van die eeue. Hoe gaan ons hierin te werk? Dit is ’n belangrike vraag aangesien dit ons by ’n belangrike lakmoestoets bring van watter leiers en instellings meerdere respek waardig is. Vir die APA begin alles by God se genade wat aan mense wysheid en insig gee. In hierdie verband is wysheid ook ten nouste verbind aan karakter waarsonder dit sinneloos is om oor lewensvisie te praat. Daarom is dit vir ons net so belangrik om te kyk wat óm die klaskamers gebeur as daarbinne. ’n Omvattende vorming is noodsaaklik waar deugdelikheid alles met geloof en wysheid en visie te make het.

As ons egter konkreet vra hoe deugdelike mense se visie verdiep, is daar ’n basiese benadering wat ons help om sieners te wees: Ons strewe na vierdimensionele (4D) visie op ons tradisie. Wat word hiermee bedoel? In die eerste plek kan gestel word dat ons moet besef dat ons onsself nog in die eerste dimensie bevind wanneer ons bepaalde leiers en bewegings kies en idealiseer op grond van hoorsê of dat ons daarin grootgeword het (1D). Soos wat ons hierin groei en die ligte vir ons aangaan, verneem en leer ons meer eerstehands by bepaalde leiers en bewegings self en beweeg verder weg van hoorsê. Soos die skoolvosse sê: Ons gaan oor vanaf sekondêre bronne na die primêre bronne (2D).

Die primêre bronne is egter dikwels nog steeds net primêre bronne uit die nouer kring. Daar is daarom ook ’n derde dimensie waarna ons behoort te strewe as ons werklik outentieke visie wil ontwikkel; iets waaroor ons nog te min praat: die leiers se bronne. Die rede is dat kreatiwiteit vinnig vasval wanneer ons bloot ’n bepaalde persoon of beweging of tydvak se metodes idealiseer in plaas daarvan om in die wyere tradisie te gaan swem vanwaar hulle self ook inspirasie gevind het. Hierdie weg tot by die derde dimensie bring ons by menige bronne uit wat dikwels die klassieke werke genoem word (3D). Dit staan in ons geval dikwels bekend as die groot werke van die Westerse kanon. Dit is eintlik net wanneer jy hier begin delf dat jy werklik deel raak van wat Mortimer Adler “die groot gesprek” genoem het. In gesprek en strydgesprek met ander ontwikkel daar dan bepaalde insig om die lyne en die skemas van die eeue te onderskei (4D).

Die voordeel hiervan is dat ons dan op grond van ’n diep tradisie baie meer as net behoudend is. Wanneer jy so diep delf vind jy skatte wat verwaarloos is en wat juis nou nodig is om die uitdagings effektief aan te durf. Dan dink mense dat jy revolusionêr is, maar eintlik haal jy net weer skatte uit jou kis wat lankal deel van die erfenis is. Op hierdie wyse is dit moontlik om sowel behoudend as revolusionêr te wees.

So ’n veelvlakkige benadering tot die tradisie is dus baie meer as net behoudend. ’n Verlangse vriend wys onlangs daarop dat een van die redes dat ons die liberale denke nie kan troef nie, lê in ’n sekere kenmerk van ’n sekere soort konserwatisme. Die rede is dat daar in ’n sekere vorm van konserwatisme eintlik net ’n anti-gees teenwoordig is wat in reaksie en die vorige status quo wil handhaaf. Die links-liberale gees mag miskien erg verwronge wees, maar dit staan vir iets positiefs en, reg of verkeerd, gaan daarvoor. Daarom sal die links-liberale standpunt, aldus my vriend, altyd die standpunt uitstof wat bloot behoudend en terughoudend is. As ons nie ’n positiewe visie bied om na te volg wat beter is as die van progressiewe denkers nie, sal die oorwinnaar dus altyd voorspelbaar wees.

En dit is nou juis hier waar die 4D-visie op tradisie moontlikhede bied wat ver anderkant blote konserwatisme vaar. So ’n visie bied die middele om gelyktydig revolusionêr en behoudend te wees. Daar is natuurlik ’n sin waarin ons almal hierin maar beginners is, maar dit maak nogal ’n verskil wanneer ons erken dat 4D-visie op tradisie die ideaal is waarna ons instellings moet strewe as ons nie bysiende wil wees as ons ons omstandighede lees nie. Ons is oor die algemeen maar karig onderlê in die derde en vierde dimensie en in die toekoms wil ons graag hoe langer hoe meer werk daarvan maak om hierdie tekort te hanteer. Die troos is darem dat ons reeds die beste dimensie bewandel – eerstehandse blootstelling aan die Woord van God. En ons het ook goeie Boere-intuïsie oor baie sake wat baie meer werd is as boekgeleerdheid. Dat ons egter nog werk het om te doen ten einde die goudskagte van die eeue effektiewer te ontgin, is gewis. U kan dus verwag dat die strewe na 4D-visie op ons tradisie ’n toenemend sterker rol sal speel in die voorbereiding van studente om sieners te wees op die verskillende terreine van die samelewing.

Eintlik was dit die oorspronklike idee van dit waaroor universiteite soos Oxford en Cambridge gegaan het – om deur middel van primêre kontak met die klassieke werke op elke vakgebied iets van die groot skemas van die eeue onder oë te kry, en jou geslag se roeping vir jou eie tyd en plek onder leiding van die Woord en Gees te vind. Die liberalisme in ons media en universiteite het hierdie benadering uitgehol en gevul met nuwe dogmas van gelykstelling en vryheid en ons het ’n roeping om ons kultuur te herwin en te rehabiliteer met ’n diepgrondiger visie. Daarom moet ons deeglik besef: Dit gaan vra dat ons die liberalisme oorneem op ’n voortrefliker wyse as wat dit ons land oorgeneem het: deur die nie-amptelike wetgewers van die land – die liedjieskrywers, digters en dramaturge – so te begeester dat hulle weer al hoe meer begin dig en sing en speel op die maat van die klassieke tradisie en sy transendente verwysingspunte. Om mense só te oorrompel, het ons 4D-visie op ons tradisie nodig. Dit gaan nie gebeur sonder dat ons die breë fondamente van ons tradisie ordentlik oopgrawe nie. Elke konserwatiewe “fanclub van 50” wat dink hulle gaan met geykte regse retoriek in die eerste en tweede dimensie denkende jongmense en begaafde digters en draaiboekskrywers inspireer, moet ’n bietjie meer uitkom en eerder begin drink by die dieper bronne.

Ons het ’n grootse taak en dit is beslis nie bedoel om bitter en vol sleurwerk te wees nie. Dit is ’n avontuur waarin ons studente wil toegerus om meer verbeeldingryk en minder skril te wees. Die bedoeling is dat hul denkbeelde en begrippe-apparaat ryker en hul morele verbeelding lewenskragtiger sal word. Die hoop is dat hulle uiteindelik in groter verwondering teenoor God sal leef en hul tradisie ook baie meer werwend sal bewandel. Geagte vriende, ons het instellings nodig wat hierdie sneller in mense aftrek, instellings wat weer daaraan diensbaar is dat die eeue vir ons oopgaan en waar ons God se plan vir die eeue ontdek – instellings met 4D-visie op hul tradisie. Hiervan wil die APA graag ’n inspirerende voorbeeld wees.

Toespraak gelewer by Kragdag 15 Junie 2017.