Sola Gratia

deur: Charlotte Möller

‘n Kerkdeur roep dit uit …

In die aanloop tot die 500-jarige herdenking van die Reformasie mag gelowiges nie ore wegdraai om nie meer na die ou-ou eggo van die kerkdeur-evangelie te wil luister nie.

Die kerkvader Aurelius Augustinus (354) was die kerkdeur-baanbreker om die fondament van die Verlossingsleer te lê:  “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efes. 2:8-9).

En dit nie uit julleself nie …

Pelagius (383), ‘n Ierse monnik en veroordeelde ketter (Sinode van Efese, 431), het verkondig dat die mens deur sy vrye wil God kan soek, sy leiding kan begeer, sy wil aan dié van God kan onderwerp en deur getroue navolging één in gees met Hom kan leef. Hy leer verder dat God sodanige mens daarna beloon vir hierdie voorafgaande verdienstelikheid en genadig daardie mens se hart en wil na sy welbehae vernuwe en rig. Pelagius verstaan genade dus as God se terugbetaling van ‘n menslike goeie daad, wat beteken dat die mens nie, soos die Skrif leer, dood is vir enige goedheid weens die sonde van Adam nie (Rom. 5:12). Augustinus het nek styfgemaak en teenoor Pelagius se kettery geleer dat die mens dood is weens die erfsonde en God nie kan of wil soek nie. Hy leer dat genade ‘n onverdienstelike guns van God teenoor die sondaar is, waardeur die sondaar se hart vernuwe en sy wil gerig word om God te behaag; “en hulle sal almal deur God geleer wees” (Joh. 6:45).

Nie uit die werke nie …

‘n Gelowige Martin Luther (1483) wou die ewige lewe verdien deur ‘n deugsame aardse lewe te lei – sondeloos en vol van goeie werke – soos die Roomse kerk geleer het. Roomse troos-teologie kon sy gewete egter nie sus nie en die intensiteit van sy sondebesef het soos tonge van vuur bly lek…

Luther het geglo dat God sy genade beloof aan dié wat nederig is – “…want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Pet. 5:5). Wie is die nederiges? Hulle wat in absolute wanhoop hul verdorwenheid en verlorenheid betreur en beklaag. Hy was egter gou om te leer dat dit nie ‘n voorwaardelike genade is wat die menslike bekering tot nederigheid beloon nie – “want geen mens kan homself verneder alvorens hy besef dat sy verlossing volkome buite sy eie mag en krag lê nie en volkome afhanklik is van die genade, die wil en die werk van God alleen”.

Sodat niemand mag roem nie …

Luther het geglo dat die mens amper-amper, as dit enigsins kon, aan genade raak en gered kan word – WANNEER hy nie meer twyfel dat die gang van die hemel en die aarde volkome afhanklik is van die wil van God nie; WANNEER hy dan in volkome wanhoop verkeer oor sy eie onmag en totale verlorenheid; WANNEER hy vervolgens niks vir homself meer in die vooruitsig stel nie – MAAR WAG DAT GOD ALLES IN HOM WERK.

Charlotte Möller, Junie 2017 (Charlotte Möller is ‘n B.Th. – student aan die AP Akademie).

 

Bronnelys:

Barrett, M. (2017). The Bondage and Liberation of the Will. In M. Barrett (Ed.), Reformation Theology: A Systematic Summary (pp. 451–510). Wheaton, IL: Crossway.

Pont, A.D. (1999). Die Kerkhervorming. Radio Pretoria: Sinoville.

“The Complete Works of Saint Augustine: The Confessions, On Grace and Free Will, The City of God, On Christian Doctrine, Expositions on the Book Of Psalms, … (50 Books With Active Table of Contents)” by Saint Augustine, Philip Schaff, Reverend Marcus Dods, Rose Elizabeth Cleveland, Reverend J.F. Shaw.