Meer as 150 studente het vandag tydens die Promosieplegtigheid van die Afrikaanse Protestantse Akademie hulle grade ontvang. Met hierdie geleentheid neem die graduandi die volgende stap op hulle toekomspad.

“Volgens ‘n bekende filosoof bepaal die rigting van ‘n persoon se opleiding die toekoms van hulle lewens,” sê Prof. dr. Gerrit Smit, die vise-kanselier en rektor van die AP Akademie. “Maar, ‘n APA-gegradueerde ontvang meer as net ‘n opleiding. Hulle ontvang ook opvoeding in ‘n lewenswyse wat gerig is op die hemelstad.”

Die Afrikaanse Protestantse Akademie is ‘n geregistreerde private akademie in tersiêre onderwys wat strewe na die ideaal van ’n vrye Christelike universiteit in Afrikaans. Die Akademie bied ‘n BDiv-graad aan wat ‘n volledige graad in Teologie is en alhoewel reformatories van aard is dit nie denominasie gebonde nie. Die unieke BA-graad verleen toegang tot beroepe soos onderwys, sielkunde, taalberoepe, asook menige veelsydigheidsberoepe. Nagraads bied die APA ‘n afstandsgebaseerde Nagraadse Gevorderde Onderwys Sertifikaat (NGOS of in Engels PGCE) in die Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding aan.

Tydens vandag se geleentheid het twee van drie teologiese studente die BTh-graad met lof ontvang. Verder het 19 studente die BA-graad en 132 studente ‘n NGOS-sertifikaat verwerf, waaronder verskeie met lof.

“Ons is trots dat ons studente volstaan by ons etos van onder meer Bybelgetrouheid, Skriftuurlike integriteit, akademiese uitnemendheid en etiese verantwoordelikheid,” sê Prof. dr. Smit. “Ons is gerus in die wete dat ons graduandi se grondslag vir die toekoms stewig in God geanker is.”

Deel die bladsy: