Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het in April 2022 ’n konsepbeleid die lig laat sien met die oog daarop om volgens die Hoër Onderwyswet (wet 101 van 1997 soos gewysig), alle hoër onderwysinstellings as universiteite, universiteitskolleges en hoër onderwyskolleges te kategoriseer. Tans is die situasie dat alle hoër onderwysinstellings slegs as publieke- en privaat hoër onderwysinstellings gereken word. Met hierdie nuwe konsepvoorstel word huidige universiteite tot ’n mindere mate geraak en geaffekteer deur die konsepbeleid, maar dit het ’n definitiewe impak op die meeste privaat hoër onderwysinstellings en universiteite van tegnologie.

Na die mening van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) sal meeste privaat hoër onderwysinstellings waarskynlik gekategoriseer word as universiteitskolleges, met die moontlikheid om later as volwaardige universiteite te registreer. Alle instellings sal ook weer moet registreer om volgens een van die voorgestelde kategorieë te funksioneer en dit as sodanig kan ook problematies wees.

Die APA het die afgelope tyd indringend daaraan aandag gegee en die geleentheid om kommentaar daarop in te dien, deeglik benut. Die APA het in die kommentaar hoofsaaklik op drie aspekte gefokus:

  • Die voogdyskap van universiteite. Dit word in die vooruitsig gestel dat universiteitskolleges onder voogdyskap van universiteite sal staan en dat akademiese rade van universiteitskolleges ook lede van universiteite moet insluit. Dit word selfs beoog dat universiteitskolleges “geaffilieerde” instellings van universiteite sal wees.
  • Bestuur en bestuurstrukture van die nuwe kategorie instellings. Die voorgestelde beleid skep die indruk dat instellings anders as universiteite, bestuursgewyse as “junior” instellings geag word. Die groot skeiding tussen universiteite en tradisionele technikons word deur hierdie voorgestelde beleid weereens in die hand gewerk.
  • Die rol en plek van navorsing in die oorweging van kategorisering.  Universiteite lewer uiteraard groot navorsingsbydraes en navorsing as sodanig speel ’n kritieke rol in die voorgestelde kategorisering van hoër onderwysinstellings. Die saak wat egter nie buite rekening gelaat moet word nie is die groot subsidies wat universiteite tans vir navorsing ontvang teenoor privaatinstellings wat geen befondsing vir navorsing ontvang nie.  Publieke instellings word dus deur die staat in ’n bevoordeelde posisie geplaas vir die hele kategoriseringsproses teenoor privaat hoër onderwysinstellings, ook met die oog op toekomstige aansoeke om herkategorisering.

Die APA as privaat hoër onderwysinstelling, dra by tot ’n gerekende deel van die hoër onderwystoneel in Suid-Afrika en het daadwerklik toegetree tot die debat oor die voorgestelde konsepbeleid wat alle hoër onderwysinstellings direk raak.

Deur kommentaar te lewer op die voorgestelde wetgewing wil die APA hierdeur beklemtoon dat ons strewe om uitnemende onderrig in Afrikaans op hoër onderwysvlak by privaat instellings vir die toekoms te help verseker.

Foto: Nathan DumlaoUnsplash

Deel die bladsy: