UNIEKE GELEENTHEDE VIR ONDERWYSERS

Bemagtig jouself met APA se Toerustingspuntkursusse

Een van verskeie kursusse wat die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) aanbied, is die aanlyn Toerustingspuntkursusse (TPK) wat bydra tot die verdere opleiding en bemagtiging van onderwysers.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) is ’n privaat Afrikaanse Hoër Onderwysinstelling binne die klassieke Christelike tradisie. As deel van die APA se wyer gemeenskapsbetrokkenheid word die aanlyn Toerustingspuntkursusse vir onderwysers in beide Afrikaans en Engels aangebied om die maksimum reikwydte te verseker.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderriggewers (SACE), vereis dat alle geregistreerde onderwysers 150 verdere professionele toerusting-punte (VPT) oor ’n drie-jaar siklus moet verwerf ten einde hulle SACE-registrasie te behou. Die APA as privaat hoër onderwysinstelling bied nou aan onderwysers die geleentheid om hierdie VPT-kursusse soos deur SACE vereis by die APA te doen. Boonop voeg hierdie kursusse waarde toe tot die klaskamer en die professionele ontwikkeling van die onderwyser.

NGOS-programkoördineerder mnr. Albertus Breytenbach sê dat die belangrikheid van die Toerustingspuntkursusse tweeledig is.

“Daar is die verpligte deel na aanleiding van die SACE se vereistes. Dan is daar die feit dat ons Toerustingspuntkursusse waarde toevoeg tot die ontwikkeling van onderwysers. Ons aanbieding is lekker buigbaar, want ons weet hoe besig onderwysers is en daarom kan hulle dié kursus aanlyn met heelwat tydspeling voltooi,” het mnr. Breytenbach gesê.

“Nog ’n faktor is die swaar gewig wat die Toerustingspuntkursusse van die APA by SACE dra. Elke kursus is 30 VPT-punte werd. Dit is vir ons belangrik om onderwysers – Afrikaans en Engels medium – van regoor die land te bemagtig en hulle te help om die beste opvoeders te wees wat hulle moontlik kan wees.”

Inhoud van die kursusse is kortliks soos volg:

  • Selfsorg en uitbranding

Faktore wat bydraend is tot uitbranding in die onderwys raak toenemend kompleks. Langtermyn blootstelling aan stres verwante faktore het ‘n negatiewe invloed op die liggaam, siel en gees.

Selfsorg begin by selfaanvaarding, liefde vir ander maar ook liefde vir jouself. Hierdie werkswinkel is ’n pro-aktiewe voorkomingsprogram wat gerig is op selfontwikkeling en bemagtiging van alle onderwysers in alle fases. 

  • Gesonde verhoudings

Goeie interpersoonlike verhoudings tussen kollegas is van kardinale belang vir die welstand van enige individu. Een van die struikelblokke waarmee onderwysers gekonfronteer word, is negatiewe interpersoonlike verhoudings met ’n kollega/kollegas  Dit is dus nodig om onderwysers toe te rus met begrip en insig in hul eie kommunikasie- en konflikhanteringstyl en die van kollegas. 

  • Neoromotoriese ontwikkeling

Onderwysers is leerkragte en hul hoofdoel is om kennis en vaardighede aan hul leerders oor te dra. Dit kan egter slegs gebeur wanneer die kinders in hul sorg rustig, gefokus en gereed is om hierdie kennis en vaardighede in te neem. Hierdie staat van konsentrasie kan slegs bereik word wanneer die kind fisies geïntegreer is: die liggaam ontspanne dog wakker is; die sintuie deur noodsaaklike en onnodige inligting kan sif en opdragte  vinnig,  dog effektief en met die minimum moeite uitgevoer kan word. Deur doelbewuste, herhaalde beweging kan baie van die tekorte in neuromotoriese ontwikkeling aangespreek word.

  • Kreatiwiteit en Innovasie

Onderwysers se primêre taak is om leerders voor te berei vir ‘n professionele amp, ’n beroep of entrepreneurskap. Leerders moet toegerus word met  sekere eienskappe en vaardighede  soos kreatiwiteit, innovasie en kritiese denke vir deurlopende en volhoubare sukses in die beroepswêreld. Binne hierdie konteks word onderwysers bemagtig om hulself en dan leerders te bemagtig om hul eie kreatiewe talente weer opnuut te ontdek en uit te leef.

  • Trauma in die klaskamer

Onderwysers word daagliks met talle struikelblokke gekonfronteer wat effektiewe onderrig en leer in die klas bemoeilik. Een van hierdie groot struikelblokke is leerders se problematiese gedrag in die klas. Die invloed van trauma en binding word gedurende hierdie werkswinkel in diepte verken as belangrike aspekte wat oorsaaklik kan inwerk op leerders se probleemgedrag in die klas. Die onderwyser word bemagtig om spesifieke leerders meer effektief te kan onderrig en ook te begelei in ‘n proses

om emosionele verantwoordelikheid vir hulself asook hul gedrag te begin opneem. 

  • Misbruik en etiese optrede

In die skoolomgewing is opvoeders nie net verantwoordelik vir die onderrig van leerders nie, maar ook vir die ontwikkeling en verryking van hierdie kinders se geestelike en fisiese welstand. Suid-Afrika het een van die hoogste syfers vir geweld en mishandeling van kinders en vroue ter wêreld. Dit is dus ’n noodsaaklikheid om opvoeders toe te rus met kennis van toepaslike protokolle en die identifisering van leerders in gevaar, asook effektiewe verslagdoeningsprosedures, insluitend effektiewe fasilitering van die medelingproses. Die kursus sal opvoeders ʼn grondslag gee waarvandaan die nodige hulp aan leerders in nood aangebied kan word.

Meer inligting oor die kursusse:

  • Tydsduur: 8 weke
  • Tydsverbintenis: 4 uur per week
    Bestaande uit:
    1 uur aanlyn lesing
    • 3 uur verdeel in die voltooiing van assesseringstake en voorbereiding vir die volgende lesing
  • R2300 per persoon per kursus
  • Derde rondte: 15 Augustus -14 Oktober
  • Laaste rondte vir 2022: 17 Oktober -9 Desember
  • Bespreking en inligting: https://www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse/
Deel die bladsy: