In die alledaagse lewe is daar nuwe terme wat oral gebruik word en vir baie mense totaal vreemd is. ChatGPT is die woord wat deesdae die meeste opgewondenheid veroorsaak, of dit nou verwondering is oor wat ons hiermee kan bereik, of vrees oor wat die impak daarvan sal wees en of ons in die persoonlike en besigheidswêreld bereid gaan wees om dit te verduur. Nog ’n gewilde, maar meer bekende term, is Artificial Intelligence (afgekort “AI”), in Afrikaans vertaal as Kunsmatige Intelligensie (afgekort KI). Die afkorting KI moet egter nie met die biologiese term verwar word nie.

Kunsmatige Intelligensie benodig nie ’n in-diepte verduideliking nie. Dit kom daarop neer dat masjiene gebruik word om inligting waar te neem, te sintetiseer en dan afleidings te maak gebaseer op die waargeneemde en gesintetiseerde inligting (Adams et al. 2023). Voorbeelde van die gebruik van Kunsmatige Intelligensie, wat vir meeste mense bekend sal wees, is: Google Maps, soekenjins soos Bing en Google, Alexa en Siri op moderne fone en selfs Tesla se selfbestuur motors, kan hieronder gereken word. 

ChatGPT, wat vir Generative Pre-trained Transformer staan, is ’n geoutomatiseerde program wat met ’n gebruiker kan gesels, op navraag opstelle en gedigte kan skep en selfs rekenaarprogramme kan skryf. Die program was só gewild dat daar, selfs net vyf dae na die bekendstelling daarvan in November 2022, reeds ’n miljoen gebruikers van die program was. 

Die toekoms waaroor daar al lank gedroom en gevrees word, is blykbaar hier. Soos in die geval van die meeste vorms van verandering, is daar gewoonlik spanning en ongelukkigheid wat hiermee gepaard gaan. Belanghebbendes redeneer reeds dat ChatGPT ’n gevaar is wat mense van hul werk kan beroof, dat plagiaat deur die program gepleeg word omdat die algoritme vanaf bestaande werk nuwe inhoud genereer en in die proses verder ook kopiereg in gevaar stel. 

Die situasie word vererger omdat hierdie tipe program nie alleen die gebruik van persoonlik individuele geskrewe uitsette affekteer nie, maar dat daar ook programme is wat kuns vanaf bestaande databasisse van kunswerke kan genereer, soos die rekenaarprogram, NovelAI. Met die gebruik van woorde en terme en die klik van ’n knoppie, het die gebruiker ’n kunswerk wat ’n ware kunstenaar ’n lang tyd sou vat om te skep. 

Die ander kant van die saak is dat hierdie program en sy variasies wel goeie bydraes kan lewer. Op die gebied van die onderwys kan die program goeie bydraes lewer deur onderwysers en lektore te ondersteun deur hulp te bied met die opstel van onderrigmateriaal, lesplanne, gidse, assesserings en vele meer. Die program kan verder selfs gebruik word om assesserings en terugvoer te lewer. Dit is ook dus een van die mees aanloklike aspekte in die onderwysveld. 

In rekenaarprogrammering kan die program help met die skep van kode vir sagteware sodat dae se werk verkort kan word na net die kliek van ’n knoppie en ’n paar sinne om die probleem te beskryf. Verder, op die sagteware terrein, kan ChatGPT en soortgelyke programme gebruik word om foute te help opspoor in kode en dit dan te korrigeer. Sodoende kan baie tyd vir maatskappye en hul werknemers gespaar word. 

Op mediese gebied kan die program gebruik word as ’n kundige stelsel wat mediese toestande kan identifiseer sodat behandeling toegepas kan word indien mediese personeel nie beskikbaar is nie. 

In forensiese ondersoeke kan die tegnologie ingespan word om data na te gaan en patrone te vind en elemente uit te wys wat maklik oorgesien kan word. 

Met al dié veranderinge wat tans plaasvind en wat nog op pad is, kan daar net gestel word dat die toekoms daarvan onseker is. Is die rigting waarin die mensdom tans beweeg die regte een? Gaan ChatGPT en volgende programme ’n aanwins wees? Gaan die prentjie wat in rolprente geskets word, naamlik die gevorderde tegnologie wat die mensdom vernietig, gevolg word? Die tye waarin ons leef kan inderdaad as interessante tye beskryf word.

  

’n Paar artikels vir kennisname:

  

Deur Paul Maré – dosent in Rekenaargeletterdheid (BA)

 

Foto: Christin Hume | Unsplash

Deel die bladsy: