Die AP Akademie wil graag die IEB-Matriekgroep van 2022 gelukwens met hulle skitterende uitslae wat vandag bekend gemaak is. Die slaagsyfer van 98,42% is hoër as 2021 se syfer. Uit die groep het 89,32% ook toelating tot graadstudie behaal. 

Die AP Akademie ontvang jaarliks heelwat aansoeke vir tersiêre studie in die BA-, en BDiv-graadprogramme van leerders wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamens voltooi het. 

“Dit is vir ons merkwaardig om hierdie resultate te sien, veral inaggenome dat hierdie groep erg deur die Covid-19-pandemie geraak is,” sê Prof. dr. Gerrit Smit: Vise-kanselier en Rektor van die AP Akademie. “Ons is veral opgewonde om hierdie groep by ons Akademie te verwelkom aangesien hulle reeds hulle staal gewys en bewys het dat hulle uitsonderlike uitdagings suksesvol kan hanteer.

“Ons is verder verheug om te sien dat Afrikaanse kandidate uitstekend presteer het en dat die BCVO-skole, met wie ons ‘n lang pad stap, ‘n 100% slaagsyfer behaal het.” 

Registrasie vir die APA se graadprogramme, asook die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior- en Verdere Onderwys en Opleiding (NGOS) is oop en aansoeke kan by hierdie skakel gedoen word: https://www.apa.ac.za/doen-aansoek/

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) is ‘n Afrikaanse Hoër Onderwysinstelling binne die Klassieke Christelike Tradisie en is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ‘n privaat tersiêre instelling geregistreer.

Deel die bladsy: