Deur Arie Klapwijk (BA Tweedejaar)

Arie Klapwijk is ‘n student by die AP Akademie en… Die APA het met Arie gesels oor sy tyd by die Akademie.

APA: Waarom het jy besluit om die BA-graad by die AP Akadmie aan te pak? 

Arie: BA staan vir “Bachelor of Arts”. Daar word soms in die akademiese wêreld neergekyk op hierdie graad, maar wat mense nie besef nie is die rykdom van kennis wat daarin opgesluit lê.

Snaaks genoeg, na aanleiding van my vorige opmerking, was die BA my tweede keuse. Ek het aanvanklik ‘n graad in ingenieurswese aangepak, maar het na twee jaar besef my hart lê by die Teologie. BA is die ideale inleiding tot verskeie studierigtings en dus het ek besluit om met my BA Tale (Grieks, Hebreeus en Latyn) by die AP Akademie te begin. Na my eerste jaar as ‘n student by die APA, is ek nog nooit spyt dat ek die skuif na BA gemaak het nie. ‘n Rykdom van kennis het my reeds in die eerste lesingsweek oorspoel en ek het geweet ek is op die regte plek.

APA: Wat was vir jou verrassend van die BA-graad?

Arie: Die APA se BA het vir my deure oopgemaak en my met nuwe idees uitgedaag. Terwyl BA normaalweg as maklik gesien word, verg dit egter harde werk om sukses te kan behaal. Ekself het op BA neergekyk tydens my jare in Ingenieurswese. As ek maar net geweet het wat agter BA skuil, wat jy as student leer en die werk wat vereis word, sou ek nie so gedink of gepraat het nie. Ek kan nou met trots erken die BA is ‘n gerespekteerde en hardverdiende graad.

APA: Hoe sou jy die BA-graad aan voornemende of twyfelende studente beskryf? 

Arie: Die kern van die graad lê in die naam “Arts”. Ons beskryf dit as ‘n kuns wanneer jy iets bemeester en jy tyd en geduld moes toepas om dit te vervolmaak. Dit is presies wat die graad is: Jy bemeester ‘n kuns en hoe meer tyd jy insit en hoe meer jy doen, hoe beter van ‘n kunstenaar word jy.

BA is dus ‘n wonderlike graad wat jou wonderlike dinge leer. Dit is ‘n graad waarin jy ongelooflik baie opsies het om van te leer, en baie moontlike rigtings het om in te slaan. Deur middel van die BA kan jy jou roeping uitvoer en die aarde bewerk.

APA: Hoe sluit roeping aan by die BA-graad en studies? 

Arie: Dit is belangrik om te leer. Ja, dit is nie altyd net lekker nie, want leer is iets wat moeite verg. Ons leer in  Sondag 7 (van die Heidelbergse Kategismus) dat geloof ‘n vasstaande kennis is. Ons weet ook hoe geleerd ons Here Jesus Christus was. Die Bybelse leer – let wel, LEER – maak dit duidelik dat kennis belangrik is. Dit is iets wat God geskape het, iets wat die mens noodsaaklik vind om die aarde mee te bewerk. Ook is om te leer ‘n manier om ons te verdiep in die skepping en ook in die Skrif.

APA: Wat maak studies by die AP Akademie anders as ander universiteite of tersiêre instellings? 

Arie: As Christen is die Akademie ‘n uitstekende universiteit. Terwyl Filosofie by ‘n staatsuniversiteit ‘n gevaarlike en lastige vak kon wees, was dit hier by die Akademie ongelooflik lekker om te neem. Filosofie word Christelik en gereformeerd benader, so ook enige ander vak. Hierdie aspek kan nie misgekyk word nie, en is ‘n baie goeie kenmerk van die AP Akademie.

Laastens nog, en definitief nie die minste nie, vorm die BA by die AP Akademie jou as mens. Die gemeenskap, dosente, studente, vakke en atmosfeer vorm deel van wie jy is. Vakke soos Gereformeerde Lewens- en Wêreldbeskouing byvoorbeeld (wat ‘n verpligte BA-vak is), is nie net ‘n paar krediete op ‘n bladsy nie, maar iets wat die studente aanraak, vorm en gereed maak vir die wêreld daarbuite. God gee deur middel van die APA instrumente vir Sy kinders, iets wat hulle hul hele lewe saam kan dra.

Deel die bladsy: