INLEIDING

Met die kruising van Christus is die dissipels ’n verlammende hou toegedien. ’n Paar dae vantevore het hulle Jesus begelei te midde van ’n feestelike skare. Hulle kon as’t ware die koninkryk van Dawid voor hulle oë herstel sien… en toe verander alles. In plaas van ’n kroon van goud, het hulle Leermeester ’n doringkroon gekry; in plaas van eer en aansien is Hy bespot en beledig. Tog was hierdie nie iets vreemd wat plaasgevind het nie.

LYDENSAANKONDIGINGS

Reeds in Galilea en op hulle reis na Jerusalem het Christus telkens die dissipels gewaarsku dat Hy na Jerusalem gaan om daar te sterf (vgl. Matt. 16:21; 17:22-23; 20:18-19). Maar hierdie aankondigings het nie vir hulle sin gemaak nie. Dit het nie ingepas by hulle idee van wie die Messias sou wees nie.

OPSTANDING AANKONDIGING

Tog het Christus nie net oor Sy lyding en dood met die dissipels gepraat en hulle daarvoor voorberei nie. Keer op keer het Hy vir hulle daarop gewys dat Hy op die derde dag sou opstaan uit die dood! Die dissipels was eintlik veronderstel om daardie Sondagoggend nog voor die vroue by die graf te wees om hierdie wonder te sien gebeur, maar hulle was nie. Hulle het weggekruip.

SLOT

Wat sou jy doen as jy in die sandale van die dissipels was? Sou jy ook wegkruip? Of sou jy na die graf gaan? Die woorde van die engel aan die vrou is waarskynlik van die kragtigste woorde in die hele Bybel: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan” (Luk. 24:5-6). Die Here wat ons dien is die Lewende Here! Die graf is leeg! Verlossing is verkry! Die verhouding met God is herstel! Daarom, laat ons saam met die vroeg-Christelike kerk vandag mekaar groet met die woorde: Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan!

Deel die bladsy: