Ons fokus vandeesmaand op Geskiedenis

Deur Dr Jeanette van Rensburg

Daar word dikwels van ‘n kultuurhistorikus verwag om die verskille tussen Africana en
sogenaamd antieke voorwerpe of die ooreenkoms tussen oudhede en versamelaarsitems te verduidelik.

Africana het te make met die Suid-Afrikaanse bodem. Dit is voorwerpe wat (1) in Suid-Afrika geskep is, of (2) handel oor Suid-Afrika, of (3) deur ‘n Suid-Afrikaner gemaak is. Africana-voorwerpe kan byvoorbeeld boeke, koerante, meubels, kunswerke, munte, seëls, Kaapse silwer of kaarte wees, wat bepaalde eienskappe openbaar. Dit moet lig werp op die vestiging van die mens op die kontinent van Afrika, Suid van die Limpoporivier en die geskiedenis of die verlede laat herleef. Dit moet as ‘n dokument van sy tyd bestempel kan word en moet bewarenswaardig wees of ‘n element van tydloosheid bevat. Omdat so ‘n voorwerp intrinsieke waarde moet hê, moet die kwaliteit daarvan hoog wees en is dit gewoonlik verhandelbaar. Skaarsheid en ouderdom speel ook ‘n rol in die bepaling van Africana-voorwerpe se status.

In Suid-Afrika moet ‘n voorwerp ten minste 60 tot 100 jaar oud wees om as antiek
bestempel te word. In Europa word slegs voorwerpe wat ouer as 100 jaar is, as antiek
beskou want die Westerse beskawing daar is soveel ouer as in Suid-Afrika.

Die stylsuiwerheid van ‘n voorwerp speel ‘n belangrike rol, m.a.w. is die voorwerp kenmerkend van sy tyd en getuig dit van kwaliteit vir die tyd waarin dit vervaardig is? Styl is ‘n uitdrukking van ‘n groep mense in ‘n bepaalde tydperk en dus gee gemeenskappe identiteit aan bepaalde stylvorme.

Memorabilia, aan die ander kant, is voorwerpe wat versamel word ongeag die ouderdom daarvan, omdat dit verband hou met films of bekende mense soos musikante en sporthelde. Dit kan foto’s, briewe, programme en kaartjies van optredes of wedstryde wees, of die persoonlike eiendom van gewilde mense. Wanneer so ‘n voorwerp onderteken is deur die bekende persoon, is dit nog meer werd want dit is dan meer gesog. Voorbeelde is Charlie Chaplin se hoed en skoene, ‘n restaurantkwitansie met John Lennon se handskrif agterop of Elvis Presley se polshorlosie.

Wanneer ‘n voorwerp as Africana, antiek of memorabilia geklassifiseer is, wil die meeste mense dan gewoonlik weet wat dit werd is. ‘n Maklike reël om te onthou is dat ‘n voorwerp net soveel werd is as wat iemand op ‘n gegewe tydstip bereid is om daarvoor te betaal.

Dit spreek vanself dat die volgende aspekte dan bepalend is vir die gesogtheid en dus ook die waarde van ‘n voorwerp: die hoeveelheid van die voorwerp wat nog in omloop en beskikbaar is, die toestand van die voorwerp (en dikwels ook die oorspronklike verpakking daarvan), asook die beskikbaarheid van inligting oor die voorwerp se vervaardiging en geskiedenis.

Kenners van kuns en oudhede is dikwels verbonde aan museums en dit word as oneties beskou as hulle dan waardebepalings sou maak. Hulle het insae in die versamelbehoeftes en beskikbare fondse van die instansies waarvoor hulle werk of kan baie maklik ‘n persoonlike belang hê daarby om foutiewe waardasies te maak.

Versoek altyd iemand wat in die handel van oudhede staan om ń akkurate aanduiding te kry van ‘n voorwerp se waarde.

Foto: Mr Cup / Fabien BarralUnsplash

Deel die bladsy: