Die FAH VAN STADEN BIBLIOTEEK is toegerus met boeke, vaktydskrifte en ander publikasies vir onder meer die volgende: Teologiese vakke, Sielkunde, Opvoedkunde, Afrikaans, Bybelkunde, Duits, Frans, Engels, Filosofie, Geskiedenis, Grieks, Hebreeus, Aramees, Latyn, Opvoedkunde, Sielkunde, Sosiologie, Kriminologie, Maatskaplike werk, Volkekunde en publikasies oor Ekonomie, Publieke Administrasie, Staatsleer, Politieke wetenskappe, Landbou, ens.

Reeds vanaf 1988 is allerlei boeke as skenkings ontvang. Veral teologiese boeke is dikwels van predikante van die Ned. Geref. Kerk ontvang en in die biblioteek opgeneem. Die eerste noemenswaardige aankope was toe ongeveer honderd boeke aangekoop is uit die boedels van dr. ZB Loots en ds. PHJ Swart.

Sekere substansiële skenkings het gevolg waaroor die APA besonder dankbaar was. ’n Aanbod van prof. AH van Zyl, emeritus van UP, om sy biblioteek van 3000 plus boeke aan te koop is kort hierna aanvaar. Die boekery bevat sekere Ou-Testamentiese werke, wat volgens prof. Van Zyl, in geen biblioteek van Suid-Afrika te vind is nie.

Later is die boekery van ds. PA van Zyl, ook ’n Ou Testamentikus aangekoop. Ds. JA Kriel het vervolgens sy boekery geskenk en is ook die boekery van dr. Bloem van die NH Kerk as geskenk ontvang.

Groter en kleiner skenkings is deur die jare ontvang, wat ’n aansienlike lys uitmaak, te veel om te tabuleer waarvan sommige soos díe van dr. E Friis, prof. J.C. Lombard (veral proefskrifte), ds. J. Vrey, ds. J.H. van der Walt groot hoeveelhede was. Daarbenewens is veral vir die BA-vakke ontvang van dr. H.J. Smith (veral kosbare Sosiologiewerke), prof. Heiberg, prof. J.G.W. du Plessis, dr. T.A. Coetzee en andere. Die boekery van prof. Castelyn, bestaande uit meer as ’n duisend boeke, tesame met ’n hoeveelheid proefskrifte, is aangekoop.

Ons biblioteek het reeds bekend geword buite teologiese geledere en belangstelling en simpatie ontvang van nie minder as vier afgetrede teologiese professore van Unisa nie, te wete proff. J.J. Burden, C.J. Botha, J. Robberts en J. Annandale-Potgieter, wat hulle boekerye geskenk het en geen vergoeding wou gehad het nie. Van die laasgenoemde twee is ook ’n groot hoeveelheid navorsingsmateriaal ontvang.

In 1996 is besluit dat die biblioteek na prof. Van Staden vernoem moes word aangesien hy die biblioteek opgebou en georden het in sy private tyd. Intussen is die biblioteek aangevul met duisende boeke en is vandag die trotse eienaar van ongeveer 120 000 boeke oor die hele spektrum van die Geesteswetenskappe en Teologie. Studente het ook toegang tot ander Suid-Afrikaanse Universiteite se aanlyn-biblioteke en sommige internasionale biblioteke, asook elektroniese bronne en navorsing.

Volg hierdie skakel na die biblioteek van die APA: FAH van Staden biblioteek

Deel die bladsy: