Na verwerwing van die grade BA en BD aan die Universiteit van Pretoria studeer hy in Nederland aan die Theologische Universiteit, Kampen (Broederweg), van die GKN (Vrijgemaakt).

Leer ken Prof Bosman

Prof. Johan Bosman word in 1994 die hande opgelê tot bedienaar van die goddelike Woord (VDM) en is steeds betrokke by gemeentewerk. Hy was onder meer al verantwoordelik vir kerkplanting in Nellmapius (2000) en selfstandigwording van ʼn kerk in Mamelodi (2002). Betrokkenheid by missionêre werk bring hom in aanraking met verskeie Sendingprojekte soos Skotse sendingwerk onder die Xhosa, Nederlandse sendingwerk onder die Zulu, Ndebele en Venda, asook inheemse werk onder die Pedi en Tswana. Hy het ook al gepreek in Uganda en Indië. Sy Magister-verhandeling by die PU vir CHO handel oor die tema: Pastoraat aan die Afrika-mensSy voordrag by die 14e Sinode van die AP Kerk (1-4 September 2013), Ons enigste troos: ʼn voorreg om uit te deel, werk daartoe mee dat ʼn Kommissie vir Sending en Evangelisasie heringestel word.

Die teologiese wetenskap word dikwels versnipper tot onsamehangende kompartemente. Daarenteen is prof. Bosman lief vir die geheel van teologiebeoefening met die kruispunt van veral geskiedenis, dogmatiek/filosofie en die pastorale praktyk wat hom prikkel. In 2007 verwerf hy die graad PhD aan die Noordwes-Universiteit oor die tema: Vooronderstellings by die beradene.

Leer ken Prof Bosman

Hoewel hy met ingang 2009 deel word van die AP Akademie was prof. Bosman nie onbekend met die akademiese wêreld nie. Voorheen doseer hy diakoniologie aan Mukhanyo Teologiese Kollege (1997-2006), waar hy vanaf 2002-2006 leiding neem as vise-prinsipaal. Sy internasionale blootstelling sluit onder meer in, besoeke aan die TU Apeldoorn (Christelike Gereformeerde Kerke), Westminster Teologiese Seminarium (Philadelphia) en Greenville Presbiteriaanse Seminarium. Hy ontmoet pastorale teoloë soos Prof. dr. C. Trimp, Jay E. Adams, David Powlison, George Scipione, Henry Krabbendam, skrywers soos die bekende Larry Crabb en Willem Ouweneel wat koersgewende boeke geskryf het soos Psigologie: Een christelijke kijk op het mentale leven. Hy het al die wêreldkonferensie vir Christelike beraders bygewoon in die VSA en in Nederland Dr. Herman Selderhuis se doktorale promosie oor Huwelijk en Echtscheiding bij Martin Bucer, asook Dr. Peter van de Kamp se doktorale promosie oor Hart voor de stad: een praktisch-theologische studie naar kansen voor kerk-zijn in een stedelijke samenleving.

Prof. Bosman neem deel aan die begeleiding van verskeie navorsingsprojekte, waaronder Schalk Strauss se Magister-verhandeling: Christosentriese prediking in die AP Kerk: ‘n prakties–teologiese studieen Tiaan Jordaan se Magister-verhandeling: Op weg na ‘n Gereformeerde kerkplantingsmodel as deel van die missio–Dei.

Staten Bijbel

Op die oomblik werk hy as mede-redakteur daaraan om die kantaantekeninge by die Statevertaling in Afrikaans beskikbaar te stel. Ook werk hy aan die 2e uitgawe van die publikasie: Jou roeping in die koninkryk.

Staten Bijbel

Filosofies oriënteer prof. Bosman hom graag op die Christelike wysbegeerte, onder meer van H.G. Stoker en D.F.M. (Danie) Strauss. Hermeneuties klop hy aan by teoloë soos D.A. Carson, Graeme Goldsworthy en Kevin J. Vanhoozer. Dogmaties wil hy graag arbei in die spreekwoordelike ploegvore van teoloë soos Herman Bavinck en John M. Frame, apologeties in die van Cornelius van Til en Francis A. Schaeffer.

Filosofies

Die NT-eksegese van byvoorbeeld Jakob van Bruggen en Gregory Beale en die OT-eksegese van byvoorbeeld Alec Motyer en O. Palmer Robertson vind hy navolgenswaardig. Homiletici soos Sydney Greidanus en Bryan Chapell, asook predikers soos Tim Keller en Sinclair B. Ferguson help om gereformeerde prediking ʼn stap vorentoe te neem. Hughes Oliphant Old se bydrae tot die liturgie vra ongetwyfeld aandag, terwyl hy meen dat teoretici soos Dr. T. Brienen ʼn bydrae gelewer het tot die grondslae van die diakoniologie en Jay E. Adams, Larry Grabb, Gary Collins en David Powlison herderlike sorg wat Skrifgebonde wil wees bevorder.

Prof. Bosman is die afgelope 25-jaar getroud met Stephanie en saam is hulle geseënd met 5 verbondskinders.

Deel die bladsy: