Lees: Luk. 13:18-30

Die Here Jesus was op pad na Jerusalem waar Hy deur Sy sterwe en opstanding sou seker maak dat die koninkryk van God in mense se lewens ’n werklikheid word. Om iets hiervan te verduidelik, het Hy onder meer die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg vertel. Hierdie gelykenisse gaan daaroor dat die skynbare klein begin van God se koninkryk uitbrei tot iets baie groot. By die mosterdsaad gaan dit spesifiek oor hoe groot en wyd dit uitbrei (ekstensief) en by die suurdeeg hoe diep dit inwerk in alles (intensief).

In daardie tyd het iemand vir Christus ook gevra of die wat gered word, min is (v.22-23). Die Here Jesus het nie direk op hierdie vraag geantwoord nie, waarskynlik omdat ons so maklik daaroor kan praat asof dit net ’n syfer is. Hy het eerder geantwoord dat hulle elkeen self hard moes stry om in te gaan (v.24). Dit beteken nie dat hulle moes werk vir hulle verlossing nie, maar wel om moeite maak om God se weg van verlossing te waardeer en daaruit te leef. Ons het die voorreg om elke jaar weer op ’n besondere wyse van Sy weg bewus te word in die tydperk wat ons lydenstyd noem. En daarop te reageer.

Die Here Jesus maak hier duidelik dat ons God se weg deur sy Seun en Sy kruisdood op so ’n manier moet leer ken, dat ons nie bloot weet van Christus nie, maar so dat Hy, die eienaar van die huis, ons sal ken as deel van Sy eregaste (v.25). Die Here Jesus verduidelik dan dat dit nie genoeg is om selfs in Sy teenwoordigheid te eet en te drink nie. Soos ook ons wat bid voor ete en selfs Sy Naam tydens etes noem. Dit gaan daaroor of Hy ons ken omdat ons waarlik met Hom in ’n egte verhouding is. Anders is ons, selfs naby aan Hom, steeds werkers van ongeregtigheid (v.27). Die enigste manier om daarvan vry te kom is om Christus se geregtigheid deur sy kruisdood te leer ken en daarmee kan besinning in lydenstyd baie help. Die smart sal vir sekere mense, sê die Here Jesus, baie wees wanneer hulle hul bekende voorvaders en profete in die koninkryk sien, maar self uitgedryf buite toe. Meer nog, allerhande mense sal uit alle oorde van die aarde kom en wel aansit in die koninkryk. Maar hulle moes weet dat die gangbare verwagtinge omgekeer sal word (v.28-30.)

En tog bring die lyde en strewe van Jesus Christus heerlike dinge teweeg. Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg bevestig dat die effekte van sy dood en opstanding oor tyd heen geweldig is – ekstensief en intensief. Die boom met skuiling vir die voëls (v.19) herinner aan Nebukadneser se boom wat skuiling vir die nasies gebied het (vgl. Dan. 4:10-12). God se werk deur Jesus Christus in Jerusalem (Sy sterwe, opstanding, hemelvaart) is geweldig en is bestem vir die nasies. Ons sien vandag reeds duidelik die effek daarvan in die uitbreiding van die Kerk oor die ganse aarde asook watter koninkrykswerk daardeur aangevuur word. Wanneer ons ook hoor in v.26 van mense wat sal kom van oos en wes en van noord en suid om aan te sit in die koninkryk van God, besef ons dat ons nie klein moet dink oor God se werk in Christus op aarde nie. Maar dit begin daar waar ons bewus word van Christus se groot versoeningswerk en dit toeëien en weer toeëien in die krag van die Heilige Gees. Lydenstyd bied ’n wonderlike geleentheid elke jaar hiervoor. Laat ons dan hiervan gebruik maak.

Foto Ben WhiteUnsplash 

Deel die bladsy: