Jy hoef nie twee keer te dink oor of jy jou Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) deur die AP Akademie moet doen nie, want dit sal een van die beste besluite van jou lewe wees.

Só praat oud-student Albert Brand oor sy opleiding aan die Afrikaanse Protestantse Akademie.

“Eerstens is die waarde van om jou NGOS te kry, tweeledig. Dit kwalifikasie self maak soveel deure vir jou oop. Die inhoud van die kursus is van hoogstaande gehalte. En wat dit ekstra waardevol maak, is die ongelooflike ondersteuning wat jy deurentyd van die personeel en dosente ontvang,” vertel Brand.

Volgens Brand skep die NGOS vir jou verskeie geleenthede plaaslik en in die buiteland.

“Ek het in Noord-Afrika skool gegee. Om te kan werk terwyl jy studeer, is altyd ’n uitdaging, maar die APA en sy mense het dit soveel makliker vir my gemaak. Hulle het dit eintlik vir my moontlik gemaak. Vir elke uitdaging het hulle aangepas en voorsien.”

Brand vertel danksy die opleiding by die APA is hy beslis beter bemagtig as onderwyser en vir al die uitdagings wat met dié roeping gepaard gaan.

“Dit het my gevorm as onderwyser. Die inhoud het my baie laat nadink oor wat ek as onderwys sien en wat dit vir my beteken om onderwyser te wees. Dit het my gehelp om daagliks die groter prentjie van die beroep ingedagte te hou. Terwyl die teorie van groot belangrikheid en baie insiggewend is, is dit ook die geleentheid om dit prakties toe te pas wat die NGOS nog meer waardevol maak.”

Brand beklemtoon dat om NGOS deur die APA te doen ’n unieke ervaring is, wat nie misgeloop moet word nie.

“Ek kan dit sonder enige voorbehoud vir voornemende studente – en die wat nog wonder daaroor – aanbeveel. Net nie as gevolg van die inhoud van die kursus nie, maar ook danksy die individue en verskillende persoonlikhede by APA. Die manier waarop elke lid van die personeel – administratief en dosente – uit hul pad gaan om jou te help met jou spesifieke en unieke uitdagings is baie spesiaal. En van onskatbare waarde op die lange duur.”

MEER OOR NGOS

Die NGOS word begrond deur ’n Christelik-Reformatoriese raamwerk in aansluiting by die APA se etos soos geregistreer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die doel van hierdie Nagraadse Onderwyssertifikaat is die opleiding van onderwysers vir die Senior Fase (SF) en die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (VOO) volgens ’n inklusiewe deelnemende strategiese model. Om hierdie doel te bereik is die NGOS kursus ontwerp wat werkgeïntegreerde leer insluit. Dit is ’n doelgerigte kursus om opleiding, leer en opleiding binne die omgewing van die SF en VOO te bied. Die NGOS-program behels die sistematiese ontwikkeling van kennis, vaardighede, waardes, gesindhede en verdere/ander toegepaste vaardighede wat verwag word van voornemende onderwysers om hul taak bevredigend te kan uitvoer. Vir meer besonderhede besoek https://www.apa.ac.za/ngos/

Deel die bladsy: