Wanneer ‘n mens in jou laat dertigerjare besluit om weer te gaan studeer, moet jy besin of daar genoeg goeie redes is om dit te doen: Gaan dit onder andere jou tyd en geld werd wees; en/of gaan die ervaring verrykend wees.

Met die besluit dat ek my onderwyssertifikaat moet verwerf, het ek begin rondvra by ander mense wat as ervare onderwysers na universiteite of kolleges teruggekeer het om hul onderwyssertifikaat te onderneem. Die reaksies was nie baie bemoedigend nie: “Baie moeite”, “schlep en drama”, “’n astronomiese mors van geld en tyd”. As hulle wel iets geleer het, kon hulle nie onthou wat dit was nie.

Ek het my Nagraadse Gevorderde Onderwyssertifikaat (NGOS) dus nie met groot verwagtinge aangepak nie.

Ek moet dit duidelik maak dat geeneen van bogenoemde reaksies van mense was wat by die APA studeer het nie. Was dit anders, glo ek dat hul ervaring positief sou wees. Soos sake staan, is ek een van baie wat aan die einde van my NGOS kan sê dat ek ’n positiewe en leersame ervaring gehad het.

Daar is ’n paar dinge wat vir my uitgestaan het.

Eerstens was ek aangenaam verras deur die hoeveelheid tyd wat aan die teoretiese onderbou van onderwys spandeer is. Ek moet hier byvoeg dat die hoeveelheid teorie aanvanklik na verskriklik baie werk gelyk het. Dit is egter goed ingewerk in die kursusse en daar is genoeg oorvleueling wat dit hanteerbaar gemaak het. ‘n Mens raak ook meer gemaklik met die materiaal soos wat die kursus vorder. Ek het dit geniet om wyd te moes lees. Daar was ook genoeg keuses met betrekking tot take sodat ek kon fokus op spesifieke aspekte wat my geïnteresseer het.

As historikus het ek dit geniet om te leer oor die geskiedenis en ontwikkeling van onderwys. Soos wat ek nuwe inligting raakgelees het, het dit my aan die dink gesit. (Is dit nie wat opvoeding veronderstel is om te doen nie – om jou te laat dink?) Ons is geneig om te dink dat die manier hoe dinge vandag gedoen word, die manier is hoe dit gedoen moet word. Die prentjie van onderwys dwarsoor die wêreld was nog altyd: kinders in rye klaskamers langs mekaar; gestruktureerde sillabusse; eksamens aan die einde van die jaar. Die prentjie het egter verander en sal weer verander.

Ons het nog glad nie die perfekte onderwysstelsel nie. Is dit nie ’n inspirerende gedagte nie – daar is nog tyd vir verbetering!

Die tweede aspek wat baie waardevol was, is minder verhewe. Om te leer oor die teoretiese onderbou van onderwys is alles goed en wel, maar die implementering daarvan is natuurlik ’n totaal ander saak. Dit help dus ook dat daar so ’n groot fokus op die administratiewe kant van skoolhou is. Take wat ‘n mens forseer om die nodige vereiste papierwerk daar te stel – hetsy lesplanne, jaarplanne, of wat ookal – is baie waardevol. Dit is nie altyd stimulerend nie, maar dit gee ’n voorsmakie van wat om in die onderwysomgewing te verwag.

Om te studeer terwyl jy ook voltyds werk, met ’n gesin en kinders, is ’n uitdaging. Dit is ook ’n uitdaging om skielik, vir die eerste keer ná twintig jaar, weer ’n toets te moet skryf! Én om as student, hoed in die hand, by ‘n dosent om uitstel te vra. Daardie ervaring kan ‘n mens saamneem na jou klaskamer – daar ís soms goeie redes waarom iets nie betyds voltooi kon word nie!

By die APA was die verwerwing van my NGOS ‘n uiters positiewe ervaring. By die APA het ek geleer om student te wees soos wat ek graag wil hê mý studente moet wees: iemand wat nadink oor dinge; iemand wat kan analiseer in ’n wyer konteks; iemand wat krities kan redeneer.

Deur Marelize Swanepoel, NGOS-Alumni 

Lees die rubriek op Maroela Media

Foto: Siora Photography | Unsplash

 

Deel die bladsy: