Met die publisering van haar eerste boek, het die Afrikaanse Protestantse Akademie-student Sunel Combrinck, baanbrekerswerk gedoen.

Sunel het pas haar eerste boek Hartklop, bekend gestel. Dit is die eerste van vyf boeke in die reeks genaamd Die Ontwaking van Winter met Lumi (half-mens, half-fee) as hoofkarakter.

Sunel is tans besig met haar NGOS (Nagraadse Onderwys Sertifikaat vir die senior- en verdere onderwys- en opleidingsfase) by die APA en werk ook voltyds.

“Ek moet sê as dit nie vir die wyse was waarop die APA se administratiewe personeel en dosente my akkommodeer nie, sou dit uiters moeilik gewees het om my NGOS te doen. Daar is baie hulpbronne om van gebruik te maak en die dosente is baie ondersteunend.”

Die APA is ’n privaat tersiêre instelling wat gestig is in die laat tagtigerjare as ’n skool vir teologiese opleiding. Vandaar het die APA ontwikkel tot ’n volwaardige selfstandige tersiêre instelling wat spesialiseer in die geesteswetenskappe. Met ’n Christelike akademiese benadering wil die APA studente begelei om krities idees te verken en te beredeneer. Die geesteswetenskappe ontwikkel en bevorder by uitnemendheid kritiese en analitiese denke en dit open die deure tot meningsvormende beroepe soos sielkundiges, joernaliste, onderwysers en predikante.

Sunel is ook tans ’n voltydse onderwyser by Hoërskool Eldoraigne. Sy gebruik haar rol haar as skrywer om die beste moontlike onderwyser te wees.

“Ek geniet dit om jongmense by te staan en ’n pad met hulle te stap. Ek moedig hulle aan om te lees en skryf. Ek wil bydra tot hul menswees.”

Hartklop is ’n fantasieboek. Ofskoon dit wêreldwyd ’n uiters gewilde genre vir die kinder- en jeugmark is, is dit nog baie beperk in Afrikaans. Sunel sien dit as ’n heerlike uitdaging om fantasie in die Afrikaanse taal te ontdek.

Volgens Sunel is sy geïnspireer om die skrywer in haar te ontdek as manier om persoonlike tragedies – soos die dood van iemand wat vir haar soos ’n sussie was in die 2005 busongeluk in die Vaaldriehoek en die selfdood van vriendin op universiteit – te verwerk. Ofskoon Hartklop nie sy ontstaan in dié skrywes gehad het nie, was dit die begin van Sunel die skrywer.

“Die dood van iemand wat ek as my klein sussie beskou het, het my in ’n uiterse mate geruk. Ek het toe ’n roman geskryf om die baie persoonlike stryd te probeer verwerk. Met die selfdood van ’n vriendin het ek die manuskrip gaan uitgrawe en ’n nuwe weergawe geskryf. In 2018 is ek is deur mede-skrywers in die Romans Skrywers Vereniging van Suid-Afrika (ROSA), aangemoedig om die wêreld van Afrikaanse fantasie te ondersoek en omhels omdat dit in daardie stadium nog nie gedoen was nie.”

“Fantasie is meer ontvlugting met sterk vroue karakters in. Met die reeks Buffy the Vampire Slayer het ek my liefde vir dié genre ontdek. Toe was dit egter nog as iets sleg met karakters wat baie probleme het, beskou. Ons skryf egter juis fantasie om maatskaplike probleme aan te spreek en hoop aan tieners te bied in die oorkoming daarvan.”

Sunel sien boeke en skryfwerk as ontvlugting en selfs ’n manier om hartseer en trauma te verwerk.

“Boeke skep hoop. Dit was my redding. Nou wil ek hoop vir ander skep.”

 

 

Deel die bladsy: