Outistiese leerders is oor ‘n breë spektrum versprei. Sommige besit die vermoë om op ‘n hoë vlak te funksioneer, terwyl ander weer op ‘n laer vlak funksioneer. Outistiese leerders is sensories hiper- of oorsensitief en hoë adrenalienafskeiding veroorsaak een van drie reaksies by hulle: veg, vlug of vries. Daarom sal die benadering en hantering van hierdie leerders verskil van dié van ander leerders.

Twee uitstaande kenmerke wat ek by hierdie leerders opgemerk het, is dat hulle die een of ander fiksasie (obsessie) het en dat hul kommunikasievermoë uniek is. Om te verstaan hoe hierdie leerders kommunikeer sodat jy hulle kan akkommodeer, moet ‘n mens bewus wees van hul geneigdheid tot uitbarstings, woedeaanvalle, aanhoudende gedragsafwykende optrede, beperkte gevoelsuiting en oogkontak, sosiale afgetrokkenheid en kommunikasiegebreke, wat as “ongeskik” beleef kan word. Die aanname dat outistiese leerders ‘n lae IK het, is nie altyd so nie. Van die leerders is uiters intelligent. Baie leerders wat outisties is word ook misgekyk, omdat hulle nie al die ooglopende kenmerke van outisme vertoon nie.

Gedurende my studies aan die APA het uitstekende dosente en sterk teoretiese vakinhoud my voorberei om outisme beter te verstaan. By die APA het my kommunikasievaardighede verbeter en ek het ook geleer om geduldig te wees en ‘n gestruktureerde roetine te volg. Duidelike taakopdragte en toepaslike terugvoer van dosente het my in staat gestel om uiteindelik te weet hoe ek outistiese leerders kan help.

Deur Zonique Manenti

Deel die bladsy: