Studeer teologie aan die Afrikaanse Protestantse Akademie en bemagtig só jouself om jou roeping as predikant, berader, jeugleier of sendingwerker uit te leef.

“Uit die aard van die saak is die opleiding in die eerste plek gefokus om studente op te lei om predikante te wees in die kerke wat hul studente hierheen stuur. Die opleiding is egter ook geskik vir persone wat akademiese toerusting soek om as beraders, jeugleiers en sendingwerkers die arbeidsveld te betree. Dit bied ook ’n stewige Christelike en teologiese onderbou vir iemand wat as Christen onderwyser voor ’n klas wil gaan staan,” sê prof. Koos Adendorff, Dekaan Teologie en Departementshoof: Ou Testament.

“Die BDiv-program bied ’n deeglike akademiese onderbou vir studente wat die akademie hul loopbaan wil maak. Die BDiv-graad is selfs internasionaal geëvalueer, wat studente toegang tot internasionale universiteite bied. Benewens kerklike ordening bied die program ook ’n uitstekende geleentheid vir enigeen wat teologie wil studeer en die uitkomste wil gebruik om indiensneming in ’n verskeidenheid denominasies, kerke en verwante gemeenskapsorganisasies te vind. Verder voorsien dit in die groeiende vraag na werknemers wat oor ’n afgeronde en breë onderrig in ’n gepaste Baccalaureus graad (insluitende Teologie) beskik.”

Volgens prof. Adendorff sien die APA die Bybel as die onfeilbare Woord van God en kom dit sterk deur in die program.

“Daarom onderwerp ons nie die Woord aan ons rede nie, maar buig ons onvoorwaardelik met ons rede en al voor die Woord. Ons handhaaf ook die eenheid van die Skrif, uitgaande van die kerkvader Augustinus se standpunt dat die Nuwe Testament verskuil lê in die Ou Testament, en die Ou Testament oopgaan in die Nuwe Testament. Ons glo dat die Bybel die een groot verhaal van God se verlossing is. Daarom lê ons swaar klem op die openbaringshistoriese verstaan van die Skrif. Die Christologiese ontsluiting van die Skrif word deurgaans in al die vakdissiplines benadruk.

“Nog ’n besondere beklemtoning is dat ons studente toerus om die samelewing met ’n Bybelgetroue en belydenisgebonde lewensbeskouing tegemoet te tree. Die verkondiging én verdediging van die w(W)aarheid is ’n hoë prioriteit in die opleiding. Dit gebeur deur woord én daad. Daarom stop ons nie by die akademiese toerusting van studente nie, maar doen ons ook moeite om hul geestelik te vorm. Mentorskap speel ’n belangrike rol in hierdie vorming.”

Hierdie mentorskapsrol is een van die redes waarom die BDiv-graad hoog aangeskrewe is.

“Ek slaan die belangrikheid van interaksie tussen student en dosent hoog aan. Die APA is nie ’n groot instelling nie, daarom is die klasse klein en bevorder dit stimulerende gesprekke in die klassituasie. Dit dra ook by dat studente mekaar slyp en verantwoordbaar hou. Lewenslange vriendskappe word in die proses gebou. Studie in teologie by die APA is ’n unieke en lewensvormende ervaring.”

Die APA het ’n unieke benadering tot tersiêre opleiding; ’n klassieke benadering. Die APA is oortuig dat hy die geestesgoedere van die klassieke Christelike tradisie, en met name die klassieke Reformatoriese erfenis, deeglik ter sprake moet bring in die hoër onderwys.

Verder is die APA van mening dat Afrikaans ’n kosbare kultuurskat is wat tot op die hoogste akademiese vlak gehandhaaf moet word. Daarom is dit die taal van onderrig en leer by die APA, hoewel die bronne wat bestudeer word, in verskeie tale gepubliseer is. Studente versamel hul akademiese inligting uit (byvoorbeeld) Engelse, Nederlandse en Duitse bronne, benewens die brontale van die Bybel (Hebreeus, Aramees en Grieks). Die taal wat die Christelike kerk oor honderde jare gebesig het, naamlik Latyn, speel ook ’n belangrike rol.

Foto: Aaron BurdenUnsplash

Deel die bladsy: