Deur Johannes Broekman – B.Div student (Die AP Akademie) 

Vanuit die staanspoor sal heelwat mense redeneer dat hulle nie geroepe is nie en Teologiese studies dus nie vir hulle van waarde sal wees nie. ʼn Mens hoef egter nie vir die bediening geroep te wees om Teologie te studeer nie.

Teologiese studies bied ook duidelikheid oor óf mens wel geroepe is. Elke mens is uiteindelik ʼn teoloog. Die vraag is net in hoeverre die persoon se teologie met God se openbaring in die Skrif ooreenstem. U kennis van God bepaal uiteindelik u kennis van uself, soos Calvyn tereg sê. Ons elkeen word geroep om ʼn akkurate verstaan van God te hê. 1 Petrus 3:15 wys ons ook daarop dat ons tot verantwoording geroep kan word: “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;”. Teologiese studies bied die gereedskap om hierdie verantwoording beter en beter te doen.

Ons het gesien dat ons ʼn akkurate verstaan van God moet hê, maar waarom spesifiek Teologie studeer? Die antwoord lê in die spesiale aard van Teologiese studies, veral by die Afrikaanse Protestantse Akademie. Teologie is ʼn besonderse vorm van Verbondsonderrig. Dit behels nie net ʼn klaskamer met studente en dosente nie. Nee, dit behels die ervaring van die gemeenskap van gelowiges, die oordra van kennis van God van een geslag tot die ander op ʼn besonderse manier. “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander”, soos Spreuke 27:17 ons leer. Die dosente is mentors wat mik om ons op hul skouers te laat staan, tot bevordering van die Kerk van Christus. Dit gaan nie bloot oor kennis van die Skrif nie, maar oor ʼn lewenswysheid. Dosente en mede-studente word uiteindelik die mense wat mekaar ondersteun en op alle vlakke van die lewe wil laat groei. Hierdie wysheid is ook vir alle gelowiges waardevol, omdat dit die vrees van die HERE as beginsel het (Spreuke 1:7). Teologiese studies is dus ʼn omgewing waarin gelowiges saamwerk om lewens tot eer van God te lei.

Die vraag mag miskien steeds bly: wat baat dit ʼn ingenieur of ʼn dokter of ʼn boer om Teologie te studeer? 1 Kor. 10:31 sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God”. Alle Christene word geroep om God op alle terreine te verheerlik. Ons kan dus nie net met Teologies-akkurate predikante volstaan nie. Ons mik vir “Teologiese” ingenieurs, “Teologiese” dokters en “Teologiese” boere. Ons mik vir ʼn wêreld waar getuienisse van God nie vermy kan word nie. Ons mik vir ʼn wêreld waarin Christene in die klaskamers, in die filmbedryf, in sport, ja, in elke gebied groot rolspelers kan wees, sodat daar oral en altyd die kreet gehoor sal word: “Soli Deo Gloria! Aan God Alleen die eer!”

Foto: Mitchell LeachUnsplash

Deel die bladsy: