INLEIDING

Jerusalem is stampvol mense. Dit is die week voor die Pasga en almal is besig om rond te skarrel om die laaste voorbereidings af te handel voor die Paasmaal. Maar te midde van hierdie geharwar van mense, is daar ’n ander soort opgewondenheid onder die mense; mense het gehoor dat Jesus van Nasaret op pad is na Jerusalem! Hy was alreeds gewaar in Jerigo én in Betanië.

’n FEESTELIKE BEGROETING

Dan maak Christus sy verskyning! Hy ry op ’n donkie en sover Hy gaan, gooi mense klere en palmtakke voor Hom neer. Dan begin die skare uitjubel: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 21:9)

Christus word feestelik begelei tot op die tempelplein. Die mense verwag dat die koninkryk van Dawid nou gaan aanbreek. Mense verwag dat Jesus Homself nou as Koning gaan aankondig. Maar Jesus sê … niks. Hy kyk rond en verlaat die tempel.

’n MOORDDADIGE SKARE

‘n Paar dae later drom die skare weer saam. Die keer nie soos die vorige Sondag met ’n feestelike begroeting nie, maar kort na sonsopkoms met moord in die hart. Pilatus bring ’n gegeselde Jesus voor die skare op soek na ’n manier om Jesus vry te laat. Die skare wil egter niks daarvan weet nie. “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” (Mark. 15:13-14).

SLOT

Van “Hosanna” tot “Kruisig Hom” in ‘n kwessie van ‘n paar dae; van hartlike begroeting tot verwerping. Maar hierdie verwerping lei tot jou en my verlossing. Want hierdie Jesus wat verwerp was deur mense, het Sy lewe aan die kruis kom gee in jou en my plek. Daar aan die kruis het Hy jou en my sonde op Homself gemeen, het Hy jou en my skuld betaal en jou en my straf uitgedien. Sy verwerping het daartoe gelei dat ek en jy deur God aanvaar kon word, ja, dat ons deur God nooit verwerp sal word.

Deel die bladsy: