Hoekom teologie? Dit is ’n vraag wat baie Christene van vandag hulself afvra. Waarom moet of wil ‘n mens Teologie studeer? Ek kan Jesus mos volg sonder om van hoë terme te leer of ’n studie te doen oor die dieper teologiese kwessies. Dalk skilder die woord Teologie ’n prentjie van die studie van God tussen die koue mure en grys vloere van ’n akademie. Die studie van teologie behels soveel meer as wat dit op die oog af lyk. Sonder dat ons besef, speel Teologie ‘n groot rol in elke Christen se lewe. 

  • Roeping 

Roeping behels om in Jesus Christus te glo en Hom na te volg. Elke persoon word geroep om ‘n volgeling van Jesus te wees. Om hierdie roeping uit te leef, moet ons daagliks in ‘n verhouding met God leef. In 1 Kor. 10:31 lees ons: “Of julle dan eet of drink of enige iets doen, doen alles tot verheerliking van God.” As Christene moet ons lewens van Christus getuig. Ons doen gewone dinge anders omdat ons dit tot eer van die Here doen. Om Teologie te studeer is ‘n besonderse roeping om die mens te help om die Woord van God dieper te kan bestudeer, te interpreteer en van toepassing op jou lewe te maak. 

  • Kennis van God

Wat behels die studie? Die betekenis van Teologie is die studie van die Woord van God. Elke Christen is daagliks besig om Teologie op ‘n makro-vlak te beoefen. Wanneer ons, ons Bybel oopslaan op soek na antwoorde, en idees vorm rondom dit wat ons lees, is ons besig om die Woord te bestudeer. Teologiese studie ontwikkel metodes om die Woord van God te interpreteer, beter te verstaan en dit dan op ons lewe van toepassing te maak. Ons leer om die Woord reg te interpreteer en Skrifgedeeltes te verstaan. Om die Skrif beter te verstaan beteken dat ons God beter kan ken. 

  • Gebruik in die daaglikse lewe

Teologiese studente word gebombardeer met die vraag “Wil jy ‘n dominee word?” Teologie berei ‘n persoon nie net vir die bediening voor nie. Die studie rus mens toe met alledaagse vaardighede. Dit help ons om die Skrif beter te verstaan, krities te dink, vrae te vra en opinies te vorm. Dit dien ook as basis vir hoe ons God in ons daaglikse lewe kan dien en eer. Die teoloog R.C. Sproul het gesê: “We do not segment our lives, giving some time to God, some to our business or schooling, while keeping parts to ourselves. The idea is to live all of our lives in the presence of God, under the authority of God, and for the honor and glory of God. That is what the Christian life is all about.” 

Kop, hart en hand. 

Teologie is nie net intellektueel nie en strek baie verder as net die vermeerdering van kennis. Die kennis vind ‘n tuiste in die hart van elke student wat aktief daarmee besig is. Wanneer dit sy lêplek in die hart gevind het, vloei dit oor in dade. “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” Hand. 20:24

Deur Lené Faurie – B.Div-student

Deel die bladsy: