Die Baccalaureus in Godgeleerdheid (BDiv) is ‘n 520-krediet program op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR). Die doel met hierdie program is om professionele persone te lewer wat oor die vereiste vlak van kennis en vaardighede beskik om die toepaslike kerklike gemeenskappe effektief met die Woord van God te bedien. Die onderrig en leer geskied vanuit die klassiek-gereformeerde tradisie en deur medium van Afrikaans.
Benewens kerklike ordening bied die program ook ‘n uitstekende geleentheid vir enige voornemende student wat teologie wil studeer en die uitkomste wil gebruik om indiensneming in ‘n verskeidenheid denominasies, kerke en verwante gemeenskapsorganisasies te vind. Verder staan die program ook in diens van die groeiende aanbod van werksgeleenthede wat ‘n afgeronde en breë onderrig in ‘n gepaste Baccalaureus graad (insluitende Teologie) vereis. Die program het ook in hierdie konteks die doel om gegradueerdes te lewer wat vaardig is in die bediening van geestelike groei, in ‘n etiese- en professionele praktyk op die vaste grondslag van die Bybel en die klassieke Christelike tradisie, om dienooreenkomstig hul roeping in die samelewing te vervul.
Die kwalifikasie bied voorts die basis vir verdere studie. Dit verleen toegang tot Magisterstudie in Teologie op NKR-vlak 9.
Gegradueerdes beskik oor ‘n afgeronde kwalifikasie van hoogstaande gehalte wat hulle toerus met die kennis en vaardighede om met verantwoordelikheid op die voorpunt van leierskap, beïnvloeding, inspirasie en versorging in die toepaslike gemeenskappe te staan.