Die besluite van die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch oor die verandering in hulle taalbeleid het groot emosionele reaksie by Afrikaanssprekendes ontlok – en tereg ook. Om in jou moedertaal onderrig te word tot op hoogste akademiese vlak is immers ’n reg wat selfs deur ’n internasionale instansie soos UNESCO onderskryf word.
Die AP Akademie in Pretoria is een so ’n instelling wat ‘n intellektuele tuiste vir Afrikaanse studente wil wees. Die AP Akademie wil egter nie net sy onderrig in Afrikaans as moedertaal aanbied nie, maar dit ook onbeskaamd op ‘n Christelike basis vestig.
Die AP Akademie kom al ’n lang pad. Dit is in 1999 by die Departement van Onderwys as ’n privaat tersiêre inrigting geregistreer met registrasienommer 1999/HE08/001. Die AP Akademie het die bevoegdheid om die grade B.A. (in Lettere en Wysbegeerte), BDiv. (in Teologie) en die Nagraadse Gevorderde Onderwys Sertifikaat (NGOS) toe te ken.
Ons het dus ’n antwoord op die huidige krisis in die universiteitswese. Trouens, die situasie is lank reeds voorsien en die grondslag gelê vir ’n vrye en innoverende Afrikaanse en veral Christelike universiteit. Ons nooi almal vir wie Afrikaans as universiteitstaal ononderhandelbaar is uit om hulle gewig by die AP Akademie in te gooi.