Gereelde Vrae

Hier volg ‘n paar algemene vrae en hul antwoorde op gedeel in vier afdelings, naamlik Algemeen, Toelating en Aansoeke, Finansies en laastens Vakkeuses. Kliek op die vraag om die antwoord te sien.
Afdeling 1: Algemene InligtingAfdeling 2: Toelating en AansoekeAfdeling 3: FinansiesAfdeling 4: VakkeusesIT Ondersteuning
Die APA: Wat en Waarom?
“Almal wil die wêreld red, maar niemand wil vir Ma help om skottelgoed te was nie”, het P.J. O’Rourke treffend en raak gesê. By die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) wil ons sy belangrike stelling aanvul: Baie wil die Afrikaner red, maar min wil die APA help om die sewe heuwels van invloed in ’n dorp of stad te bestyg, te beset en met torings te versterk. Om by die APA te studeer, bied ʼn unieke akademiese avontuur. Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) se slagspreuk, “Ou spore – nuwe weë”, verwoord ons roeping tot akademiese opleiding en -onderrig in die klassiek-Christelike tradisie. Die gevolg is ʼn besondere bydrae en invloed binne ons eie, sowel as ander gemeenskappe. Hierdie roeping bring mee dat ons vanuit gehalte akademiese onderrig, spesifieke fokusareas het op die gemeenskap en samelewing en dat ons sekere beginsels, waardes en norme in bepaalde areas tot stand wil bring of selfs wil herbou, gegewe die bestaande samelewingsverval. Dis amper soos wat in Jes. 58:12 staan: “En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.” Studie by die APA help om die “berge” van invloed of invloedareas in elke dorp en stad te beman en sodoende verandering te bring. In die sentrum daarvan staan die kerk op Christus gebou, en daar rondom heen heuwels wat naas die kerk belangrike bakens is:

• Gesin,

• Skool,

• Burgerlike Regering,

• Kuns en Ontspanning,

• Media, sowel as

• Besigheid en Ekonomie.

Die vakke wat ons aanbied verskaf toerusting om die “heuwels” te bestyg, te beset en met torings te verskans. Ons help jongmense om biddend uit te vind by watter heuwel hulle roeping is, en rus diegene toe wat nie met die massas wil saamloop nie, en wat werklik ʼn “ander” tipe opleiding en toerusting verlang, om eerder die “heuwels” van invloed met akademiese toewyding, krag en genade te betree. Vir verdere inligting, besoek gerus ons webblad by https://www.apa.ac.za/grondslag/.

Wat is die klassiek-Christelike tradisie?
Die klassiek-Christelike tradisie neem sy vertrekpunt in die Bybel as die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God en volg die eeuelange spoor van klassieke Christelike denkers in hulle omgang met die Skrif. Onderwys in hierdie tradisie fokus op die kweek van Bybelse wysheid en deugde deur die gees te voed met waarheid, goedheid en skoonheid, sodat die beeld van God hoe langer hoe meer in die student herstel kan word. Die doel is om studente in Christus beter te bekwaam om God te ken, te geniet en vir ewig te verheerlik. Langs die weg van godvresenheid word hulle begelei om in alle wetenskapsvelde vanuit dié werke wat die toets van die tyd deurstaan het, met hul tyd en konteks in gesprek te tree.
Watter studies is by die APA moontlik?
Ons bied ʼn BDiv-graad aan wat ʼn volledige graad in teologie is en alhoewel reformatories van aard is dit nie denominasie-gebonde nie. Ons bied ook ’n unieke afstandsgerigte BA-graad aan wat toegang verleen tot beroepe soos onderwys, sielkunde, taalberoepe, asook menige veelsydigheidsberoepe. Die APA bied verder ʼn enig in sy soort BSocSci kontak-graad met persoonlike begeleiding aan, wat daarop gefokus is om meningsvormende leiers in die joernalistiek, politiek, onderwys en gemeenskapsontwikkeling te lewer. Nagraads bied die APA tans ʼn afstandsgebaseerde Nagraadse Gevorderde Onderwys Sertifikaat (NGOS of in Engels PGCE) aan in die Senior Fase (gr. 7-9) en Verdere Onderwys en Opleiding (gr. 10-12).

Meer inligting by: https://www.apa.ac.za/graad-programme/

Is daar praktiese elemente aan die studieprogramme by die APA?
Vir die APA se kontakprogramme, BDiv en BSocSci, en die afstandsprogram NGOS, is daar ʼn verpligte vak Werkgeïntegreerde Leer (WIL), gekoppel aan die student se spesialisasie vak in die finale jaar. WIL se doel is die toegepaste integrering in die werksplek van kennis en vaardighede wat in die finale jaar van studie geleer is. Assessering is gebaseer op die inhandiging van ʼn voorlegging aan die einde van die finale jaar van studie. Die module dra dus direk by tot die behaling van die gekose kwalifikasie.
Bied die APA toerustingspuntkursusse aan?
Ja, die APA bied verdere opleiding vir onderwysers aan in die vorm van toerustingspuntkursusse.

Vir meer inligting raadpleeg: https://www.apa.ac.za/toerustingspuntkursusse/

Wat is Schola Scripta?
Die Academia Latina van die AP Akademie bied aan skoliere (vanaf Graad 6), studente en volwassenes ’n unieke geleentheid om kennis te maak met Latyn en die rykdom van die Klassieke. Schola Scripta is ’n korrespondensiekursus wat uit vier modules bestaan. By die suksesvolle voltooiing van elke module word ’n sertifikaat van die APA uitgereik.

Verdere besonderhede: https://www.apa.ac.za/schola-scripta/

In watter taal word studies aangebied?
Studies word in Afrikaans aangebied, ʼn grondliggende element van die APA se bestaansrede naas ons klassiek-Christelike etos. Die APA is by die owerheid geregistreer en geakkrediteer met Afrikaans as leer- en onderrigtaal.
Is die APA se modules jaar- of semestermodules?
Ons kursusse behels meestal semestermodules wat beteken dat u suksesvolle voltooiing van semestereksamens die betrokke modules afhandel. Die Nagraadse Gevorderde Onderwys Sertifikaat (NGOS) en Baccalaures Divinitatis (Bdiv) by die APA sluiteen of meer jaarmodules in, naamlik Onderwysteorie vir NGOS en Bybelse Grieks en Hebreeus vir BDiv.
Word die APA se kwalifikasies nasionaal en internasionaal erken?
Omdat die APA by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer is werk die akkreditasie- en registrasieproses op presies dieselfde wyse as enige ander hoër onderwysinstelling in Suid-Afrika. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding keur al die openbare en privaatinstansies se grade/programme en verleen aan hiérdie instansies goedkeuring om die gekeurde grade/programme vir studente aan te bied. Die grade/programme by die APA is dus nie minder of meer kredietwaardig of geloofwaardig as ander instansies of universiteite se grade/programme nie. Indien afgestudeerde studente oorsee wil gaan werk, moet hulle by daardie spesifieke land se ambassade en/of kwalifikasieliggaam oor die erkenning van ʼn kwalifikasie en addisionele vereistes navraag doen sou ‘n student oor ‘n Suid-Afrikaanse graad beskik. Die akkreditasie-kodes vir die programme wat deur die APA aangebied word is te vinde by:

https://www.apa.ac.za/graad-programme/.

https://www.apa.ac.za/wp-content/uploads/2022/01/REGISTRASIESERTIFIKAAT-2023-2024.pdf

Is daar verblyf by die APA beskikbaar?
Die APA verskaf nie verblyf nie, maar voornemende studente kan die vrymoedigheid neem om met die APA te skakel indien verblyf gesoek word, in welke geval ons kan poog om inligting oor verblyf in die omgewing indien beskikbaar met studente te deel.
Waar word eksamens afgelê vir studente wat afstandsonderrig ontvang?
Die APA reël eksamen-sentrums vir die aflegging van eksamens vir studente wat afstandsonderrig ontvang. Vir nadere besonderhede kontak asseblief die programkoördineerders. Die moontlikheid om eksamens af te lê deur elektroniese sagteware word nog gekonsidereer.
Kan studente voortgaan met studies, al verhuis hulle oorsee?
APA-programme wat kontaksessies vereis behels natuurlik dat studente voltyds by die APA-kampus kan studeer. Vir programme wat deur afstandsonderrig aangebied word, is die ligging van die student nie bepalend nie, en kan dit daarom ook buite die grense van Suid-Afrika wees.
Is dosente op kampus, en hoe kan dosente gekontak word?
Dosente vir vakke wat deur middel van kontaksessies aangebied word is by die APA-kampus gedurende kantoortye. Dit is nie noodwendig die geval vir dosente vir vakke wat deur middel van afstandsonderrig aangebied word nie. Programkoördineerders kan by die APA-ontvangs gekontak word, wat op hul beurt telefoniese of kantoor-afsprake kan fasiliteer met dosente. Dosente kan ook per e-pos gekontak word. Meer besonderhede word in die studiegidse by die begin van die akademiese jaar aan studente verskaf.
Word voorgeskrewe boeke voorsien?
Die programme word in Afrikaans aangebied met Afrikaanse leer en onderrigmateriaal en sover moontlik handboeke in Afrikaans indien beskikbaar. Studiegidse word op die webblad van die APA gelaai terwyl voorgeskrewe handboeke/boeke deur die student self aangekoop word.
Hoe doen ek aansoek vir studie by die APA, watter dokumente word benodig?
Ons webbladsy https://www.apa.ac.za/doen-aansoek/ gee ʼn stap-vir-stap gids vir studie-aansoek, met ʼn volledige lys van die dokumente benodig. Kopieë van dokumente wat vereis word moet gewaarmerk wees.
Wat is ʼn TPT-telling?
Toelating tot universiteite en akademies is afhanklik van die Toelatings-puntetelling (TPT) (Admission Point Score (APS)) wat op studente se matrieksertifikate verskyn. U TPT lei u om te bepaal watter universiteite en akademies se programme u voor toegelaat kan word.

Die punte in elke matriekvak wissel tussen nul en 100%. Die TPT-eweknie vir u matriekpunte per vak is as volg: TPT = 7 vir ʼn A (80%-100%); TPT = 6 vir ʼn B (70%-70%); TPT = 5 vir ʼn C (60%-69%); TPT = 4 vir ʼn D (50%-59%); TPT = 3 vir ʼn E (40%-49%); TPT = 2 vir ʼn F (30%-39%); TPT = 1 vir ʼn G (0%-29%). Om u totale TPT te kry, tel u die beste ses vakke se TPT’s bymekaar.

Die minimum totale TPT en ander vereistes vir toelating in ʼn bepaalde program by die APA word op ons netwerf gegee: https://www.apa.ac.za/graad-programme/

Is daar ouderdomsverwante vrystelling van matriekvereistes vir toelating tot APA programme?
Vrystelling op grond van ouderdom van minstens 23 jaar, is onder sekere omstandighede beskikbaar. Vir meer inligting besoek die APA se netwerf by https://www.apa.ac.za/graad-programme/. ʼn Persoon wat 45 jaar of ouer is, hoef geen skool kwalifikasie te besit alvorens vir vrystelling aansoek gedoen word nie.
Is daar vrystelling op grond van ʼn drie of vier jarige diploma wat reeds verwerf is?
’n Persoon wat ʼn drie of vier jarige diploma verwerf het aan ʼn Technikon, ʼn Onderwyserskollege, ’n Universiteit of ’n Verplegingskollege wat by ’n SA universiteit geaffilieer is, mag aansoek om algehele vrystelling doen op voorwaarde dat die persoon voor die aanvang van die diplomastudie oor ’n Senior Sertifikaat (dit is Matriek sonder vrystelling) beskik het.
Wat is ʼn NKR-vlak?
NKR-vlak: NKR staan vir die Nasionale Kwalifikasieraamwerk. Dit is die Suid Afrikaanse raamwerk wat gebruik word om die uitkomsvlakke voor te berei. Met ander woorde hoe hoër die NKR-vlak van ‘n kwalifikasie, hoe hoër die intellektuele vaardigheid van ‘n persoon (ten minste binne die spesifieke akademiese maatstaf).
Wat is krediete?
Krediete dui aan watter gewig ʼn bepaalde onderdeel binne die geheel van ʼn kwalifikasie verteenwoordig, en behels die hoeveelheid studietyd, insluitende lesings, navorsing, prakties en eksamentye. Een krediet is gelykstaande aan 10 ure, sodat studietyd dienooreenkomstig beplan kan word.
Wat is ʼn module?
ʼn Module is ʼn lesing of groep lesings wat ʼn eenheid binne ʼn vak vorm. Elke module het ʼn modulekode. Elke module moet afsonderlik geslaag word.
Erken die APA oordrag van krediete / erkenning van formele leer?
Erkenning van formele leer behels die toekenning van krediete vir modules of kursusse reeds geslaag by ‘n ander erkende instelling. ʼn Student wat een of meer toepaslike vakke aan ‘n ander geakkrediteerde universiteit of privaat instelling geslaag het, kan aansoek doen om oordrag van krediete met ʼn aantal voorwaardes:

• Die inhoud van die vorige verwerfde vak vir oorweging deur die Registrateur en sy paneel goedgekeur word.

• Die vak in ooreenstemming met die instelling se uitkomste daarvoor is.

• ‘n Maksimum van 50% van ‘n voltooide kursus en 100% van ‘n onvoltooide kursus se krediete kan erken word.

• Oordrag van krediete kan horisontaal (na dieselfde vak), diagonaal (na ‘n soortgelyke vak) of vertikaal (na ‘n hoër program) toegepas word.

• Die helfte plus een van die graad-vakke moet by die APA gevolg en geslaag word.

• Die twee hoofvakke moet by die APA geneem word.

Sal die APA krediete toeken vir vaardighede en kennis / erkenning van vorige informele leer?
Erkenning van vorige of informele leer (RPL) is die identifikasie, assessering en erkenning van individuele vaardighede en kennis binne die konteks van ‘n spesifieke kwalifikasie, wat nie by ‘n erkende instelling of ‘n formele kwalifikasie was nie. Die erkenning van vaardighede, kennis en ervaring word gemeet teen spesifieke leer uitkomste. Die vernaamste doel van RPL is om toegang tot formele studie te verleen. Vak-erkenning kan volgens beleid op grond van vorige leer en kundigheid verleen word. Studente wat op skool (Matriek / Graad 12) Rekenaartoepassingstegnologie (RTT/CAT) of Informasietegnologie (IT) as vak geslaag het kan erkenning kry vir Rekenaargeletterdheid. Studente wat bewys kan lewer van kundigheid ten opsigte van ‘n spesifieke vak, kan vir erkenning aansoek doen deur ‘n brief aan die Senaat in dié verband te rig waarin volledige uiteensetting, bewyse en motivering gegee word. Wat die NGOS betref word RPL slegs oorweeg ten opsigte van Werkgeïntegreerde Leer (WIL).
Wanneer sluit aansoeke vir die volgende jaar se studies?
BDiv lesings neem in aanvang op Maandag 29 Januarie 2024. BA, BSocSci en NGOS lesings begin op Maandag 5 Februarie 2024. Die laaste datum vir registrasie vir die BA, BSocSci, BDiv en NGOS programme is Vrydag 16 Februarie 2024.
Wanneer moet rekeninge betaal word en wat is die APA se bankrekening-besonderhede?
Die APA se bankbesonderhede is beskikbaar by https://www.apa.ac.za/wp-content/uploads/2022/01/BANKconfirmationletter.pdf. Die sperdatums vir betaling van volle studiegeld elke jaar is 31 Maart (vir die eerste semester) en 31 Augustus (vir die tweede semester).

• Studente wat hiermee in gebreke bly, se volle akademiese diens word onmiddellik opgeskort indien die studiegeld nie teen die betrokke spertye betaal is nie.

• Geen student sal toegelaat sal word om eksamen af te lê alvorens hul studiegelde op datum betaal is nie.

• Geen student sal ʼn puntestaat ontvang of toegelaat word om vir die volgende semester/studiejaar in te skryf alvorens die student se agterstallige studiegeld ten volle betaal is nie.

• Geen grade sal toegeken word indien studiegeld nie ten volle vereffen is nie.

Bied die APA hulp aan studente met die koste van studies?
Samewerking met Solidariteit – Helpende Hand In samewerking met Solidariteit – Helpende Hand, het die APA ʼn beperkte aantal studiebeurse beskikbaar vir hulpbehoewende en verdienstelike studente wat inskryf vir die programme BA, BSocSci of NGOS. Navrae kan gerig word aan Solidariteit – Helpende Hand, met verwysing daarna dat die student by die APA studeer. APA beursfondse Die APA beskik oor twee beursfondse waarvoor studente vanaf hulle tweede studiejaar aansoek kan doen. Daar word nie beurse toegestaan aan eerstejaar-studente nie. Die twee beursfondse is behoeftebeurse en prestasiebeurse. Studente moet twee sake met betrekking tot die beurse in gedagte hou:

• Die beurse dek nie die totale studiegeld nie.

• By staking van studies verval alle beurstoekennings. a) Behoeftebeurse

• Daar is behoeftebeurse wat deur die Senaat van die APA geadministreer word vanuit die APA Studente-Ondersteuningsfonds. Studente wat een of meer akademiese jaar aan die APA suksesvol voltooi het, kan aansoek doen vir ‘n behoeftebeurs. Hierdie beurs word in oorleg met die Fakulteitsrade van die APA toegeken. Studente moet ʼn volledige verslag ten opsigte van hulle finansies sowel as hulle behoeftes voorlê. Daar word van studente verwag om akademies te slaag en te vorder by oorweging van ʼn behoeftebeurs.

• Daar is behoeftebeurse vir teologie-studente beskikbaar wat deur die Kuratorium van die APK geadministreer word. Indien studente om welke rede nie die fondse het om aan die APA te studeer nie, maar na die oordeel van die Kuratorium en op aanbeveling van die Fakulteitsraad, tog akademiese potensiaal toon, kan die studente by die Kuratorium aansoek doen om ‘n behoeftebeurs vir die betaling van hul studiegeld aan die APA. Sodanige studente moet die Kuratorium voorsien van ‘n volledige begroting vir die betrokke studiejaar, asook redes verskaf waarom die studente nie die studiegeld kan bekostig nie. Die Kuratorium oordeel oor die meriete van die saak. Hierdie beurse word toegeken met inagneming van die beskikbaarheid van fondse. Slegs studente wat ‘n lidmaat is van ʼn kerk in die APK-verband kan vir hierdie beurse in aanmerking kom. Alternatiewelik kan ʼn e-pos na info@apa.ac.za, vir die aandag van die Kuratorium, gestuur word. Studente wat meen dat hulle in aanmerking kom vir hierdie beurse moet aansoek doen op ʼn beursvorm wat by die APA aangevra kan word. Die volledig voltooide Beursaansoekvorm word gestuur aan die Registrateur by info@apa.ac.za.

b) Prestasiebeurse

• Hierdie beurse word deur die Senaat van die APA geadministreer. Studente wat een of meer akademiese jaar aan die APA suksesvol voltooi het, kan in aanmerking kom vir ‘n prestasiebeurs. Hierdie beurs word in oorleg met die Fakulteitsrade van die APA toegeken ten opsigte van studente wat hulself akademies onderskei van ander studente.

• Die minimum vereiste om in aanmerking te kom vir so ‘n beurs is ʼn gemiddelde punt van 75%. Studente wat voltyds ingeskryf is vir ‘n graadkursus aan die APA kom in aanmerking vir hierdie beurs. Die beurs word toegeken met inagneming van die beskikbaarheid van fondse.

Die Willie Lubbe Teologiese Studiefonds Geregistreerde teologiese studente asook behoeftige teologiese studente van die APA, kan aansoek doen om ‘n studielening vanuit die Willie Lubbe Teologiese Studiefonds.

• Die lening gaan gepaard met die uitneem van ‘n polis wat in die aansoeker se naam uitgeneem word by ʼn gemagtigde finansiële instelling met die Willie Lubbe Studiefonds as begunstigde. Vir die duur van die betrokke student se studie onderhou die APA die polis premie en skiet jaarliks ‘n bedrag aan die student voor ter betaling van die student se finansiële verpligtinge. Na voltooiing van studie onderhou die student die polis premie vir ʼn tydperk van 4 jaar as terugbetaling van die lening.

• Indien studente hul studie om welke rede staak, of hulle kursus nie slaag nie, sal hulle steeds verantwoordelik gehou word vir die bedrae wat hulle geleen het teen ‘n vasgestelde rentekoers wat met die Kuratorium onderhandel sal word.

• ʼn Volledige leningsaansoek moet die APA bereik voor/op 5 Januarie van die jaar waarvoor finansiële hulp verlang word. Laat aansoeke kan nie oorweeg word nie.

Gee die APA hulp aan studente met vakkeuses?
Die dekaan en programkoördineerders is tot beskikking van studente vir hulp met betrekking tot studierigtings en vakkeuses. Skriftelike navrae word deur die Akademie beantwoord.

Sommige studente stel veral belang in vakkeuses in die BA- en BSocSci-programme en latere byvoeging van die NGOS-kwalifikasie, met die oog op ʼn onderwysloopbaan in Seniorfase (SF) (graad 7-9) en Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) (graad 10-12). Die tabel hieronder is geensins volledig nie, maar gee ʼn aanduiding van die moontlikhede wat in hierdie verband kan bestaan.

https://drive.google.com/file/d/14Ub42e1_ejfzNz2Q-hM3xxUg2t_wGeK_/view?usp=sharing

Neem in ag dat om in ʼn laerskool klas te gee moet onderwysers spreekvaardig wees in drie tale: Afrikaans, Engels en een van die ander amptelike tale – dus moet studente wat BA/BSocSci met NGOS doen om in ʼn laerskool te werk bv. Sepedi wat by die APA beskikbaar is, in ten minste die eerste jaar van die BA/BSocSci neem. Daarby, let op dat grondslagfase-onderrig alleen betree word deur die BEd of ʼn Gevorderde Sertifikaat in Grondslagfase (indien daar reeds ʼn NGOS voltooi is).

Hoe teken ek in op die studenteblad, myAPA?
Die inteken proses om op die studente blad in te kom begin deur om eers by die APA epos adres gegee aan elke student, in te teken. So maak seker u het by u gegewe apa epos adres in geteken en volg dan die volgende stappe:

1) Maak u internet browser oop (Chrome; Firefox; Edge ens.)

2) Maak die google soek enjin oop.

3) Tik in die soek enjin die volgende: “myapa”

4) Op die opsies wat vertoon, klik die een wat die volgende sê: “Die Afrikaanse Protestantse Akademie: my.APA”

5) U sal nou die studente blad sien.

6) Regs bo op die blad sal u 2 teks blokkies sien waar u kan intik. Die linker een is waar die gebruikersnaam in gesleutel moet word. Die regter een is waar die wagwoord in gesleutel moet word.

7) Sleutel die epos adres wat bestaan uit ‘n studente nommer by die gebruikersnaam blokkie in. (bv 202010500@my.apa.ac.za)

8) Sleutel die wagwoord wat u in die apa verskafte epos rekening sal vind. (copy en paste kan ook werk). Dit sal van die APA Webmeester af kom en daarin sal u die bogenoemde gebruikersnaam en die wagwoord vind.

9) U sal nou gevra word om die wagwoord te verander.

10) Sleutel eers by huidige wagwoord blokkie die volgende in (Die een wat in die epos was).

11) Sleutel by die 2 ander blokkies u nuwe wagwoord in. Die selfde wagwoord by albei.

12) U sal nou ingeteken wees.

13) Iewers op die blad wat verskyn het sal u ‘n blok met die titel “Navigasie” vind. Gewoonlik regs bo rond.

14) In die bogenoemde blok sal u die woorde “My kursuse” kry. 15) Onder “My kursuse” sal u ‘n lys van u gerigistreerde vakke vind. 16)

Klik op ‘n vak naam om na die vak se blad geneem te word.

17) Op die verskynende blad sal ‘n ikone sien met skrik langsaan.

18) Vind die 2 getitel “Studiegids 2024” en “Studiebrief 2024”.

19) Klik op elkeen, die aflaai proses sal nou begin. Die alternatief is dat die dokument direk in die browser sal vertoon.

20) Maak die afgelaaide dokumente oop en studeer die inligting daar in aandagtag.

Waar kry ek die wagwoorde om mee in te teken?
Die verskafte APA epos adres se wagwoord word vir u verskaf op die oriëntasiedag. Na die oriëntasiedag kan ‘n student IT kontak vir die wagwoord per epos solank die studente nommer van die student gegee word. Stuur sulke epos na die volgende adres: paul.mare@apa.ac.za

MyAPA se aanvanklike wagwoord sal gevind word in ‘n epos wat elke student sal vind in hul apa verskafte epos se inkassie/inbox.

Wie om te kontak met 'n apa verwante tegniese probleem?
Stuur asb ‘n epos met so veel moontlike inling oor die probleem wat u ervaar asook skermskote daarvan indien moontlik, na die volgende epos adres: paul.mare@apa.ac.za
Hoe teken ek by die gegewe APA epos adres in?
1) Maak u internet blaaier oop (Chrome; Firefox; Edge; Opera ens.)

2) Maak die google soek enjin blad oop ( die een met ‘n prente bo n text box in die middel van die blad).

3) Regs bo op die blad sal u ‘n paar woorde vind. Kies en klik op of “sign-in” of “gmail”.

4) Afhangende van die opsie wat gekies word sal u of na ‘n blad gevat word waar u gevra word om ‘n adres in te tik of u sal na u reeds bestaande private gmail epos rekening to gevat word.

4.1) As u by u private epos rekening uitkom sal u regs bo op die skerm ‘n sirkel sien met ‘n letter in of ‘n foto wat u gekies het. Klik op die sirkel en in die opspring venster klik op “add another account” wat onder op die venster sal wees.

4.2) As die venster wat u ‘n lys van adrese gee verskyn, selekteer “another account” of ‘n soortgelyke opsie. Die venster wat vir die adres vra sal nou verskyn.

5) Verskaf u adres in die volgende formaat: studentenommer@my.apa.ac.za Voorbeeld: 202010500@my.apa.ac.za

6) Klik op “next” 7) Verskaf die wagwoord (Sal op die oriëntasie dag bekend gemaak word).

8) Klik op “next”

9) Aanvaar die “User License Agreement” deur onder die “I Accept” knoppie te klik.

10) Die nuwe blad sal vra dat u ‘n nuwe wagwoord kies, doen so. (Die nuwe wagwoord moet tenminste van 8 karakters bestaan)

11) ‘n Nuwe venster sal vra vir “recovery details” soos ‘n foon nommer, steek dit verby deur op “confirm” te klik. U sal nou by die e-pos rekening in geteken wees.

Wat doen ek indien ek my wagwoord vir my Epos of vir myAPA vergeet het?
U stuur ‘n epos na paul.mare@apa.ac.za wat vra dat die wagwoord herstel sal word. Maak seker u studentenommer word gegee in die epos wat u stuur. Foon oproepe met die vraag om wagwoorde te herstel sal in elk geval gevra word om ‘n epos te stuur met die vraag vir rekord doeleindes

 

Hoe doen ek aansoek?

Die skakel na die aansoekportaal is: https://www.apa.ac.za/doen-aansoek/
Klik op die rooi blokkie met die kursus van u keuse wat hieronder vertoon word. Die BA kursus word in hierdie voorbeeld gebruik . U kan ook regsklik en “open in a new tab” kies. Dan kan u die dokument aflaai om in te vul. U gaan dit tydens die laaste stap van die proses moet oplaai:
Op hierdie vorm merk u dan die modules wat u wil neem, bv. (AFR1152 en AFR1252).
– AFR1152 (jaar 1, semester 1)
– AFR1252 (jaar 1, semester 2) [Hierdie is net ‘n voorbeeld]
 
Daarna laai u die volgende twee vorms (deel van die dokumente hierbo gelys) af deur op die twee groen blokke te klik. Vir die NGOS kursus, laai u ook die WIL Praktiese vorm af om te voltooi. U kan ook regsclick en “open in a new tab” kies. Dan kan u die dokumente aflaai om in te vul. Teken en parafeer asseblief per hand elke bladsy. U naam ingetik is ongelukkig nie geldig op hierdie stap nie.
Klik op die geel blok soos aangedui: 
Voltooi u die vorm, maak asseblief seker u vul alle inligting in wat nodig is, anders kan ons dit nie deur die stelsel verwerk nie en sal u nie voor kan gaan nie. Die eerste bladsy moet so lyk (hier is ‘n ingevulde voorbeeld): U kies “applicant” as nuwe student en vul dan al die inligting in, terwyl herregistreerende studente “existing” kies en verder invul: 
Waar u moet “campus” kies, kies Pretoria, al is dit aanlyn (Al die programme kies tans Pretoria hier, ongeag of die program afstand of kontak is).
 
Die volgende bladsy wat so lyk, kan u “skip” en net op “next” click: (Die Akademiese rekord en Matriek Sertifikaat wat opgelaai word vervang hierdie stap).
 
Voltooi die volgende bladsye ook, maak seker alles is ingevul waar nodig: 
 
Op die volgende bladsy maak u seker dat u kies wie verantwoordelik is vir die rekening asook wat hul verhouding is teenoor u as student. As dit u self is, toon u dit so aan soos aangedui,
 
Selfde geld op die volgende bladsy, maak seker u toon die verhouding aan.
By die laaste stap laai u al die dokumente wat gelys word op. Die vorm deel van die kontrak wat u sluit met die APA, so maak seker u lees deeglik deur die verskafte inligting. Moet nie “submit application” kliek as u nie alle dokumente opgelaai het nie, want u sal nie dan kan terugkom om verdere dokumente op te laai nie en die aansoek sal nie aanvaar word nie weens onvolledigheid. Nadat alle nodige dokumente opgelaai is en u elektronies geteken het, kan u “submit application” kies. Daar sal ‘n kopie van die aansoek in .pdf formaat vir u per epos gestuur word:

 

Deel die bladsy: