Verdere opleiding vir onderwysers: Inligting...

Tydsduur: 8 weke
Tydsverbintenis: 4 uur per week
Bestaande uit
• 1 uur aanlyn lesing
• 3 uur verdeel in die voltooiing van assesseringstake en voorbereiding vir die volgende lesing
R2300 per persoon per kursus

Rondte 1:  30 Januarie 2023 – 24 Maart 2023
Rondte 2:  04 Mei 2023 -22 Junie 2023
Rondte 3:  14 Augustus 2023 – 06 Oktober 2023
Rondte 4:  16 OKtober 2023 – 08 Desember 2023

Bepalings en Voorwaardes:

  • Geen terugbetalings word gedoen nie.
  • U sal alleenlik as geregistreer beskou word indien die kursusgelde ten volle betaal is en bewys van betaling gestuur is aan tpk@apa.ac.za
  • Indien u nie ‘n kursus kan bywoon nie sal u die kursus kan oordra na ‘n volgende geleentheid. Indien u binne 14 dae vanaf registrasie besef dat u nie die kursus sal kan bywoon nie moet u ‘n epos stuur na tpk@apa.ac.za anders sal u die gelde verbeur.
  • Neem kennis dat die betaling van die kursusfooi nie registrasie waarborg nie, aangesien plekke soms beperk word en/of verdere vereistes mag geld.
  • Verdere bepalings en voorwaardes mag van toepassing wees. Raadpleeg die brosjure van die kort kursus of die APA se webblad vir meer inligting.
  • Klik hier vir die Afrikaanse brosjure.
  • Klik hier vir die Engelse brosjure.

Stres, Emosionele Uitputting en Uitbranding in die Onderwys

Hierdie werkswinkel is ’n pro-aktiewe voorkomings program wat gerig is daarop om ’n bewustheid te kweek van die oorsake, simptome en gevolge van volgehoue stres, uitputting en uitbranding op onderwysers. Faktore in die onderwys wat bydraend is tot die ervaring van negatiewe stres, raak toenemend kompleks. Langtermyn blootstelling aan negatiewe stres kan tot uitbranding lei.

Selfsorg sluit in ’n bewustheid van die probleem, asook die effektiewe hantering daarvan ten einde die aftakelende effek wat dit op die liggaam, emosionele en geestelike welstand het te voorkom. Die kursus het ten doel, die bemagtiging van alle onderwysers ongeag fases, grade en nie-spesifieke vakgebiede met die nodige kennis, stres hanterings strategieë en vaardighede om volgehoue negatiewe stres effektief te hanteer en sodoende uitbranding te voorkom.

Gesonde Verhoudings

Goeie interpersoonlike verhoudings tussen kollegas is van kardinale belang vir die welstand van enige individu. Een van die struikelblokke wat onderwysers mee gekonfronteer word, is negatiewe interpersoonlike verhoudings met ’n kollega/kollegas. Dit is dus nodig om onderwysers toe te rus met begrip en insig in hul eie kommunikasie- en konflik hantering styl én die van kollegas. Vanuit hierdie kennis word die onderwyser dan bemagtig om meer effektief te kan kommunikeer en ook konflik en/of verskille met kollegas op ’n volwasse en doelgerigte wyse te kan aanspreek (Rom. 12:18 – sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense). Sodoende voel beide partye gehoor en dat hul sienswyse gerespekteer en belangrik geag word.

Neuromotoriese Ontwikkeling

Onderwysers is leerkragte en hul hoofdoel is om kennis en vaardighede aan hul leerders oor te dra. Dit kan egter slegs gebeur wanneer die kinders in hul sorg rustig, gefokus en gereed is om hierdie kennis en vaardighede in te neem. Hierdie staat van konsentrasie kan slegs bereik word wanneer die kind fisies geïntegreer is: die liggaam is ontspanne dog wakker; die sintuie sif effektief deur noodsaaklike en onnodige inligting; opdragte kan vinnig, effektief en met die minimum moeite uitgevoer word. Ongelukkig ontbreek hierdie ontspanne konsentrasie by baie leerders. Hulle is oorspanne of afwesig, sukkel om tussen noodsaaklike en afleidende stimuli te onderskei en om inligting te verwerk en effektief daarop te reageer. Dit kan manifesteer as gedrags- of leerprobleme wat die onderwyser se roeping ’n onbegonne taak maak en kan lei tot konflik, uitputting en verdere trauma vir beide leerder en leerkrag.

Fisieke integrasie en breinontwikkeling gaan hand-aan-hand: deur refleksiewe beweging vorm die brein die neurologiese bane wat noodsaaklik is om die buitewêreld te interpreteer en die liggaam te beheer. Hierdie neuromotoriese ontwikkeling behoort natuurlik en instinktief plaas te vind, maar in baie gevalle ontwikkel die neurologiese bane nie soos dit moet nie, wat lei tot ’n onvermoë om sensoriese inligting te interpreteer en die liggaam doeltreffend te beheer. Deur doelbewuste, herhaalde beweging kan baie van hierdie tekorte aangespreek word en leerders sodoende gehelp word om fisies, emosioneel en kognitief wakker, gebalanseerd en ontvanklik te wees vir elke leerervaring.

Kreatiwiteit en Innovasie

Onderwysers se primêre taak is om leerders voor te berei vir ’n professionele amp, ’n beroep of entrepreneurskap. Leerders het, wanneer hulle die beroepswêreld betree, sekere eienskappe en vaardighede nodig om eerstens aangestel te word, ondersteun/assisteer te word (d.m.v. finansiële ondersteuning of leerder-werksgeleenthede) en uiteindelik suksesvol te wees in vandag se wêreld en veral in die toekoms.

 

Kreatiwiteit, innovasie en kritiese denke is oor die laaste paar jare (en reeds so vroeg as 2010) deur hoof uitvoerende beamptes regoor die wêreld geïdentifiseer as dié belangrikste en mees essensiële faktor vir deurlopende en volhoubare sukses.

Volgens een navorsingsopname deur IBM (insluitend 1500 hoof uitvoerende beamptes) van 60 lande en 33 industrieë wêreldwyd, beskou leiers van maatskappye kreatiwiteit net so belangrik, indien nie meer belangrik as dissipline, integriteit en visie.

 

Dit is dus nodig om die onderwyser toe te rus met die vaardigheid om self kreatiwiteit toe te pas asook die vermoë om tydens die leerervaring die psigologiese omgewing te skep om leerders te bemagtig om kreatiewe denke te ontdek, ondersoek en toe te pas. Hierdie vermoë is krities vir oorlewing en florering in die besigheidswêreld.

Probleemgedrag in die klaskamer

Onderwysers word daagliks met talle struikelblokke gekonfronteer wat effektiewe onderrig en leer in die klas bemoeilik. Een van hierdie groot struikelblokke is dikwels spesifieke leerders se probleemgedrag in die klas – en die gepaardgaande frustrasie vir jou as volwassene om die probleemgedrag te probeer bestuur. Die invloed van o.a. trauma en binding word gedurende hierdie kursus in diepte verken as belangrike aspekte wat oorsaaklik kan inwerk op leerders se gedrag in die klas. Vanuit hierdie kennis word die onderwyser bemagtig om kinders met probleemgedrag meer effektief te kan hanteer en te onderrig; asook te begin begelei in ’n proses om verantwoordelikheid vir hulself, asook hul gedrag, te begin opneem.

Onderwysers voel ook dikwels magteloos t.o.v. die tragedie en trauma in die leerders se lewe wat aanleiding gee tot die leerder se problematiese gedrag. Dit is binne hierdie konteks wat dit uiters noodsaaklik is om die onderwyser weer te anker in die hoop en vertroue dat ook hierdie moeilike kind ’n Hemelse Vader het wat in Goddelike Wysheid en Liefde oor elke kind en mens se lewe, amp en omstandighede regeer. Jy as onderwyser is ’n instrument om hierdie boodskap van hoop en verwagting op ’n toepaslike wyse en met groot vrymoedigheid oor te dra aan alle leerders, maar spesifiek aan die leerders wat probleemgedrag openbaar. As onderwyser speel JY ’n sleutelrol in die kind voor jou se lewe – en kollektief speel die onderwysers van vandag ’n bepalende rol in die vorming van die generasie van môre.

Misbruik en etiese optrede

In die skoolomgewing is opvoeders nie net verantwoordelik vir die onderrig van leerders nie, maar ook vir die ontwikkeling en verryking van hierdie kinders se geestelike en fisiese welstand. Suid-Afrika het een van die hoogste syfers vir geweld en mishandeling van kinders en vroue ter wêreld. Dit is dus ’n noodsaaklikheid om opvoeders toe te rus met kennis van toepaslike protokolle en die identifisering van leerders in gevaar, asook effektiewe verslagdoeningsprosedures, insluitend effektiewe fasilitering van die medelingsproses. 

 

Protokolle ten opsigte van die aanspreek, verslaggewing en hulp aan leerders wat aan mishandeling en/of onvanpaste seksuele dade blootgestel is, moet nie net die beste praktyk weerspieël nie, wat ook vervat is in die Suid-Afrikaanse Handves van Regte, maar dit moet ook gerapporteer word – soos verpligtend is volgens die wet. Opvoeders kan baat vind by opleiding wat daarop fokus om hulle te leer hoe om leerders in gevaar te identifiseer of leerders wat blootgestel is aan mishandeling by te staan, en die situasie korrek te hanteer. Dit sal opvoeders ’n grondslag gee waarvandaan die nodige hulp aan leerders in nood aangebied kan word. 

Hierdie kursus sal opvoeders ook met die nodige vaardighede toerus om te weet wat om te doen wanneer ’n leerder mishandeling aan hulle openbaar; hoe om hierdie openbaarmaking te vergemaklik en hoe en wanneer die verslagdoeningsproses moet plaasvind. Opvoeders moet deur die loop van die proses nie net die openbaarmaking van mishandeling hanteer nie, maar ook wettige protokolle om kinders in nood te help en hulp te verleen in plek stel.

 
Protokolle ten opsigte van die aanspreek, verslaggewing en hulp aan leerders wat aan mishandeling en / of onvanpaste seksuele dade blootgestel is, moet nie net die beste praktyk weerspieël nie, wat ook vervat is in die Suid-Afrikaanse Handves van regte, maar dit moet ook gerapporteer word – soos verpligtend is volgens die wet. Opvoeders kan baat vind by opleiding wat daarop fokus om hulle te leer hoe om leerders in gevaar te identifiseer of leeders wat blootgestel is aan mishandeling by te staan, en die situasie korrek te hanteer. Dit sal opvoeders ‘n grondslag gee waarvandaan die nodige hulp aan leerders in nood aangebied kan word.
 
Hierdie kursus sal opvoeders ook met die nodige vaardighede toerus om te weet wat om te doen wanneer ‘n leerder mishandeling aan hulle openbaar; hoe om hierdie openbaarmaking te vergemaklik en hoe en wanneer die verslagdoeningsproses moet plaasvind. Opvoeders moet deur die loop van die proses nie net die openbaarmaking van mishandeling  hanteer nie, maar ook wettige protokolle om kinders in nood te help en hulp te verleen in plek stel.
Deel die bladsy: