Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) is ‘n Afrikaanse Hoër Onderwysinstelling

 

 binne die Klassieke Christelike Tradisie vir:

VISIE

MISSIE

ONS ETOS

Die
bevordering van uitstaande en waardegedrewe eietydse Hoër Onderwys.

Die aanbieding van relevante geakkrediteerde programme en kwalifikasies, met die doel om studente toe te rus om die beroepswêreld te betree met akademiese-, beroeps– en/of professionele uitnemendheid.

Die APA onderskryf met entoesiasme in ‘n gedissiplineerde omgewing die volgende norme:

   • Bybelgetrou

    • Kenmerkend gereformeerd

    • Inklusiewe akademiese benadering

    • Uitstaande akademiese benadering

    • Kreatiwiteit

    • Kulturele Sensitiwiteit

    • Kontekstuele relevansie

    • Gemeenskapbetrokkenheid

    • Sosiale aanspreeklikheid

    • Etiese verantwoordelikheid

ONS GESKIEDENIS

Vanaf 1988 tot 1999 het hierdie instelling nog bekend gestaan as die “Teologiese Skool”. ’n Nuwe onderwyswet in 1997 het egter vereis dat alle privaat tersiêre instellings voor 1 Januarie 2000 amptelik by die onderwysdepartement geregistreer moet word. Die aansoek van die Teologiese Skool het geslaag, en die wonderlike voorreg het ons toegekom om die grade BA (’n kwalifikasie in die geesteswetenskappe) en BTh (’n kwalifikasie in die teologie) toe te ken. (Voorheen kon slegs diplomas toegeken word.) Vanaf registrasie in 1999 sou die Teologiese Skool amptelik bekend staan as “Die Afrikaanse Protestantse Akademie”. Die AP Akademie funksioneer nou onder bestuur van die Raad van die Akademie en het geen voorvereistes aan studente oor kerklidmaatskap, ras of kultuur nie. Enige een wat in Afrikaans op ‘n Christelike grondslag wil studeer, is hartlik welkom by die APA. Die APA is ’n geregistreerde private akademie in tersiêre onderwys wat strewe na die ideaal van ’n vrye Christelike universiteit in Afrikaans.

Vanaf die ontstaan van die Teologiese Skool het prof. FAH van Staden as rektor gedien. In 2008 tree hy uit en word prof. dr. JAE Adendorff as rektor verkies met ingang 1 Januarie 2009. Met die uitbreiding van die AP Akademie het die Raad die belang van ’n permanente registrateur besef en in 2009 word prof. dr. SD Nel as die eerste voltydse Registrateur van die APA benoem. Sedertdien het die APA sodanig uitgebrei dat ons dosente het in al die programme en in al die vakke wat die APA aanbied. Ons het veral die laaste jaar ons personeel uitgebrei in onderwys, IT ondersteuning, kurrikulum ontwikkeling en assessering. In 2017 is die Nagraadse Gevorderde Onderwyssertifikaat (NGOS) geakkrediteer.

Aan die einde van 2018 is prof. dr. GDS Smit (wat op daardie stadium dekaan van die Fakulteit Teologie was) deur die Raad van die APA aangewys as die nuwe rektor met ingang 1 Januarie 2019.

Wie vandag jare later terugkyk, staan verstom oor dít wat die APA op die terrein van hoër onderwys en met name teologiese opleiding bereik het: Wie kan nie maar net in kleinheid verstom staan voor die grootheid van God nie? Ons dra in gebed al ons professore, dosente, studente en personeel van die AP Akademie aan die Here op. Mag die Here wysheid gee dat die wiegie wat gewieg word, altyd ’n wiegie is wat die eer van God voor-op dra.

Die betekenis van die simbole op die wapenskild van die APA is soos volg:

Silwer Hugenote kruis op ‘n blou (koningsblou) agtergrond: Dit dui op die Franse Hugenote wat na SA gekom het en waarvan ons afstam en die invloed van hulle geloof wat ons ook het as deel van ons godsdienstige erfenis.

Goue klimmende leeu op rooi/oranje agtergrond: Simbool van die Nederlanders waarvan ons ook afstam en ook die invloed van hulle geloof.

Silwer neerdalende duif, simbool van die Heilige Gees, op ‘n swart agtergrond: Dit is ook presies dieselfde duif en agtergrond as op die AP Kerkverband se embleem, daarmee word die historiese verbintenis van die APA aan die AP Kerk aangedui.

Silwer geboë lyne wat die wapenskild in drie deel. Die funksie daarvan is heraldies, aangesien kleure soos rooi, blou en swart volgens heraldiese reëls nie aan mekaar mag raak nie.

‘n Wit banier kom voor aan die onderkant van die skild wat in drie dele gevou is, waarvan die dele aan die kante ewegroot is en op dieselfde vlak is, terwyl die middelvou kleiner en op ‘n laer vlak is as die aan weerskante daarvan. In die banier is drie woorde, een in elke deel. Dit is veronderstel om so gelees te word: WOORD – WAARHEID – LIG. Dit hou verband met Jesus Christus as die WOORD, WAARHEID en die LIG. Dit het dan ook betrekking op die studie waarmee die APA gemoeid is. Die WOORD is die vertrekpunt. Dit is die WAARHEID en werp vir ons die LIG op ons lewenspad.”

SIMBOLIEK VAN DIE WAPENSKILD

WETLIKE STATUS

Hierdie Akademie is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ‘n privaat tersiêre onderwysinstelling geregistreer kragtens die Hoër Onderwyswet van 1997 onder die Registrasienommer 1999/HE08/001. Die Akademie is ‘n maatskappy sonder winsoogmerk met Registrasienommer 2002/031756/08.

Name van Direkteure
Die volgende persone is die Direkteure van die Maatskappy:
• Prof. dr. GDS Smit (Vise-Kanselier en Rektor)
• Prof. dr. SD Nel (Registrateur)
• Prof. dr. CA Swanepoel (Dekaan)

Deel die bladsy: