Baie welkom by hierdie eerste uitgawe van die APA se nuwe maandelikse nuusbrief. Ons spreek die wens uit dat u die nuus van die APA se kant saam met ons sal geniet.

Ek wil graag hierdie uitgawe van die Meimaand nuusbrief inlei deur vir u te vertel van die veranderlikheid van menslike planne en standaarde en hoe dit verskil van die onveranderlike fondasie waarop  die APA bou.

So aan die buitewyke van die stad Parys, Frankryk, vind mens ‘n ondergrondse kluis wat ‘n platinum silinder huisves wat wetenskaplikes die Internasionale Prototipe Kilogram, of kortweg Le Grand K, noem. Toegang tot hierdie kluis wat die silinder huisves, vereis hoë sekuriteitsklaring en die sleutels word nie in Frankryk gebêre nie. Vanaf 1889 tot 2019 was dít die standaard waarvolgens álle standaarde vir die vassteling van ‘n kilogram vir die afgelope sowat 130 jaar gemeet was. Die bedoeling was dat alle standaarde van gewig in die toekoms hieraan gemeet sou word. Hierdie silinder mag slegs een keer in 40 jaar uitgehaal word. Toe wetenskaplikes Le Grand K in 2019 weer ná 40 jaar uithaal, het hulle met ‘n skok uitgevind dat Le Grand K sedertdien 50 mikrogram van sy gewig verloor het! Hoewel dit maar slegs ongeveer die gewig van een sandkorrel is, het wetenskaplikes erken dat Le Grand K. nie meer die Internasionale Prototipe Kilogram kan wees nie. Vir die meeste van ons sal dit nie eens ‘n verskil maak in die wyse waarop ons gewig bepaal nie, maar vir die natuurwetenskap wat met presiese syfers werk, het dit ‘n probleem veroorsaak. Le Grand K. word nou sedert 2019 nie meer gebruik as internasionale standaard vir die kilogram nie, maar eerder formules van die kwantumfisika. Sedertdien het wetenskaplikes gewonder wat in die plek van Le Grand K. gebruik kan word? Daar word nou oorweeg om ‘n nuwe standaard Internasionale Prototipe Kilogram te bepaal en daar is selfs sprake daarvan dat so ‘n prototipe iewers in die ruimte geberg sal moet word om seker te maak dat die aarde se magnetiese velde en die natuurlike verlies van elektrone nie die gewig van die voorwerp oor tyd beïnvloed nie!

Le Grand K. wys vir ons die Bybelse waarheid dat alles op aarde aan verganklikheid onderworpe is, soos Romeine 8:21 ons leer. Ja, selfs die beste pogings van die mens om absolute standaarde daar te stel, verander oor tyd. Dit is waarom ons na ‘n absolute standaard buite die veranderende natuur óf die verganklike mens moet soek en standaarde daaraan meet. God se Woord leer vir ons dat daar net Een onveranderlike in die skepping is, naamlik God (Psalm 102:13). Omdat God nie kan verander nie, kan ons op Hom vertrou van geslag tot geslag om sy beloftes in die lewe van sy kinders waar te maak.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie is ‘n Afrikaanse Hoër Onderwysinstelling binne die Klassieke Christelike Tradisie wat ons beywer om vas te hou aan die waarheid van die onveranderlike God te midde van ‘n wêreld wat voortdurend verander. Dit beteken nie dat ons outyds is nie, maar eerder dat ons wetenskap wil bedryf met ‘n visie op die toekoms, wat insluit dat ons die fondament van God se Woord as onveranderlike norm vir skoonheid, waarheid en goedheid onderskryf en uitleef.

Mag ons deur die werk van die APA vir personeel, studente en voornemende studente altyd ‘n voorbeeld wees van ‘n instelling wat gebou is op die onveranderlike Woord van God. Mag ons deur die beoefening van die wetenskap gelei word tot aanbidding van die een onveranderlike God. Terwyl alles in die skepping verganklik is, leef ons in die geloof dat die koninkrykswerk van die APA onverganklike saad saai wat reeds hier op aarde tot eer God en sy koninkryk vrug sal dra!

Deel die bladsy: