
Ons slagspreuk, “Ou spore – nuwe weë”, verwoord ons roeping om ’n klassiek-Christelike tradisie binne ons eie, sowel as ander gemeenskappe te bevorder.
In die 1940’s het CS Lewis al soos volg oor die Britse publieke onderwysstelsel gevoel: hy het gesê die samelewing verwag van die onderwys om manne en vroue met integriteit en imbors te lewer, maar die stelsel het die hart van die mens kom uitruk, terwyl hulle steeds verwag die organe moet werk.
Ongelukkig is dit ook waar van baie universiteite vandag, dat geloof en wetenskap so ver van mekaar verwyder is dat die veronderstelling is dat wetenskap niks met geloof te doen het nie – so word die hart van die mens uitgeruk en dan kan mens verwag dat die organe stelselmatig sal doodgaan.
In hierdie opsig is die APA anders. Ons is van mening dat die ou spore van die gelowige vaders en moeders deur die eeue heen die weg wys waarop ons die wetenskap moet beoefen, ja, wel in ‘n ander konteks as hulle, maar beslis nie met ander beskouinge oor waarheid, skoonheid en ons plek in die skepping nie. In hierdie opsig het die APA ‘n dringende en relevante boodskap vir Suid-Afrika, en sal elke student wat aan die APA studeer, kan getuig dat die liefde vir die ou spore aan hulle toerusting bied om nuwe weë te ontdek van relevante wetenskapsbeoefening om die samelewing te konfronteer met Christelike waardes in aksie in Afrikaans as taal van onderrig en leer.
Hoe doen ons dit? Kom besoek ons om meer hieroor uit te vind! Die APA vier in 2023 ons 35ste bestaansjaar en is dankbaar om te kan terugkyk oor jare se groei en die seën wat ons ontvang.
Welkom by die APA – waar ons streef om met ou spore nuwe weë te baan.
Prof. Gerrit.