(Deel I)

Deur Dr. Jeanette van Rensburg: BA-dosent – Geskiedenis (Die AP Akademie)

Dit is maklik om te dink die vak Geskiedenis bied nie veel waarde vir jongmense se toekoms nie. Maar Dr. Jeanette van Rensburg: BA-dosent by Die AP Akademie wéét hoe om Geskiedenis baie interessant, waardevol en selfs ‘n loopbaanrigting te maak. Die vak Geskiedenis handel immers nie net oor vergange mense en oorloë nie. In deel een van hierdie reeks ondersoek sy die bedreigings van papier-erfstukke. 

Die meeste mense besit ou voorwerpe van papier, soos boeke en foto’s, waaroor hulle sentimenteel voel. Hoewel so ‘n voorwerp dalk nie veel in finansiële terme werd is nie, wil ‘n mens dit graag bewaar en nie vir die nageslag laat verlore gaan nie.  

Die term bewaring sluit twee duidelik onderskeibare prosesse in, nl. konservering en restourasie. Restourasie hou etiese implikasies in en behoort deur kundiges onderneem te word. Dit behels die herstel van ‘n ou voorwerp tot so na as moontlik aan sy oorspronklike toestand en voorkoms. Deur konservering word die agteruitgang van die voorwerp beperk of vertraag. Dit kan deur die eienaar van ‘n voorwerp self gedoen word. Kennis van die aspekte wat die agteruitgang van papier veroorsaak, is dikwels al wat nodig is om te keer dat kosbare boeke, briewe, waterverfskilderye en foto’s tot niet gaan. 

Eienskappe inherent aan papier self veroorsaak dat bepaalde faktore in die omgewing waar voorwerpe geberg of uitgestal word, ‘n nadelige uitwerking daarop het. Deur slegs die belangrikste vier omgewingsfaktore (blootstelling aan lig; vog en temperatuur; lugbesoedeling en infestering deur insekte) te bestuur, kan die agteruitgang van papiervoorwerpe dikwels baie suksesvol beperk word. 

Die beginsel waarvolgens papier vandag nog vervaardig word, is in 105 n.C. deur die Sjinese wewer Ts’ai Lun ontwikkel. Tot in daardie stadium is geweefde tekstiel, diervelle, plantmateriaal en potskerwe gebruik om op te skryf. Lun wou nie sy afvalstukkies materiaal en rafels weggooi nie en het dit fyn gemaak en met water gemeng. Daarna het hy dit eweredig oor ‘n bamboesskerm (‘n soort sif) versprei om droog te word en so het hy ‘n growwe soort skryfoppervlakte geskep. Europese papiermakers het later die proses verfyn en begin om die papier in ‘n warm gelatienoplossing te doop om te keer dat die ink vloei wanneer daarop geskryf word. Hierdie proses word planering genoem, word vandag nog gedoen en bepaal ook die hardheid van die skryfoppervlakte. 

Die aanvraag na papier het bly toeneem en teen die vroeë 1800’s was daar wêreldwyd ‘n tekort aan lapflenters. ‘n Papiermaker in Maine, Augustus Stanwood, het die plan gekry om mummies uit Egipte in te voer en die lappe waarmee hulle toegedraai was,  af te rol en fyn te maak. Hy het ‘n growwe soort bruinpapier daarvan gemaak wat deur kruideniers gebruik is om kos in toe te draai! ‘n Ernstige cholera-epidemie het ‘n einde aan sy plan gemaak en die soektog na iets goedkoper as lap vir die maak van papier het voortgeduur. Die eerste meule vir die fynmaal van hout is in 1867 naby Stockbridge in Amerika geopen en sedertdien word die meeste papier van onder meer houtvesels gemaak. 

Papier wat slegs uit houtvesels bestaan, is nie sterk nie omdat die vesels baie kort is en groot hoeveelhede lignien (die bindmateriaal in bome) bevat. Lignien vorm mettertyd ‘n suur wat veroosaak dat die papier verbrokkel. Tans word die beste papier van katoenvesels en gesuiwerde houtstof (‘n tipe sellulose) gemaak. Daar word ook vandag papier vervaardig met ‘n “ingeboude” alkaliese middel wat as buffer dien en opbouende suur neutraliseer. Die chemikalieë wat gebruik word om papier spierwit te maak of te kleur verswak ook dikwels die struktuur daarvan en beperk dus die lewensduur verder. 

Nie alle ou foto’s het ‘n papierbasis nie en gevolglik is die bewaring van ou foto’s is ‘n studieveld op sy eie. Tog kan foto’s waarvan die beeld wel op ‘n papierbasis vasgelê is, by die  konserveringsriglyne wat vir papier geld, baat. 

Foto’s en papier is baie sensitief vir lig. Dit kan verbleik, verkleur en verbrokkel omdat die ultravioletstrale in lig letterlik klein gaatjies in die struktuur van die papier veroorsaak. Fluoorligte (buisligte) straal ook UV-strale uit. Die uitwerking van UV-strale kan ongelukkig ook voortgaan, selfs nadat die voorwerp uit die lig verwyder is. Papiervoorwerpe behoort dus nooit in direkte sonlig of vir lang tye in helder verligte omgewings gestoor of uitgestal te word nie. ‘n Praktiese oplossing is dus om nooit boekrakke of geraamde foto’s en papierkunswerke direk teenoor ‘n groot venster te plaas of op te hang nie. Daar bestaan gelukkig vandag spesiale produkte wat vir raamwerk gebruik kan word en wat nie UV-strale deurlaat nie, bv. plexiglass.

In Deel Twee van hierdie reeks sal ek die ander drie omgewingsfaktore kortliks bespreek en verdere voorstelle maak waarvolgens ‘n mens self tuis die “opvreet” van kosbare papiererfstukke kan beperk.

Foto: Jason WongUnsplash

Deel die bladsy: