Die Afrikaanse Protestantse Akademie

Waar ons streef om met ou spore nuwe weë te baan

“Ou Spore Nuwe Weë” … oftewel ou putte met nuwe water

Ons Christelike geloof is ’n geloof wat ou en nuwe dinge te voorskyn bring. Die AP Akademie wil in sy styl en inhoud aan hierdie realiteit kleur gee. Ons is antiek-nuut. Dit beteken in die huidige klimaat dat daar ’n baie groter oor vir ons boodskap is. Die oes is inderdaad groot. Waar is die arbeiders wat opgwonde is om soos Isak die putte van sy vader Abraham oop te grawe?

Identiteit
Die Afrikaanse Protestantse Akademie het van meet af aan ook die putte van ’n ander Abraham oopgegrawe. Hy is deur sommige “Abraham die geweldige” genoem, maar is meer bekend as dr. Abraham Kuyper. As iemand in koorsoomblikke die APA wou tipeer as die Afrikaanse Protestantse Kuypers, sou baie mense waarskynlik instemmend die kop knik in ’n dit-spreek-vanself ritme. Tog is dit net ’n deel van die waarheid.

By die kruin van Skrifgetroue besinning was daar in die jare 1850-1950 ook langs die geniale Kuyper die uitnemend geleerde prof. Herman Bavinck. By hierdie kruin adem ’n mens ’n lewensbreë besinning. Die Here Jesus Christus is Koning oor alle lewensterreine. Die ganse werklikheid, die ganse lewe op aarde, strek tot sy eer en heerlikheid: individu, gesin, kerk, volk, politiek, landbou, ekonomie, regswese, medisyne, opvoeding, onderwys, noem maar op. Daar bestaan eenvoudig nie ’n duimbreedte van die lewe wat nie onder die gesag van Jesus Christus as Koning buig nie. Christelike filosofie en -vakwetenskap kry as gevolg daarvan beslag en dit gaan oor meer as Christene wat teologie, filosofie en vakwetenskap beoefen. Met so ’n benadering ontstaan daar mettertyd instellings op reformerende grondslag waarvan ons akademie ook ’n uitvloeisel is.

Die AP Akademie wil hierdie ou putte weer oopgrawe. By hierdie putte leer jy terugkyk tot by die antieke, terwyl jy jou besig hou met ’n kraakvars toekoms. Jou identiteit raak as’t ware antiek-nuut. Krag vir die uitdagings vandag is verbind aan die putte van die verlede waar daar nuwe water geskep word. So werk lewende tradisie: Nuwe water word by ou putte gevind. Veral Augustinus van die vroeë kerk, Calvyn ten tye van die Reformasie en die Dordtse vaders van die tyd net na die Reformasie, het antiek-nuwe geesdrif verleen op weg na hierdie kruin van Skrifgetroue besinning. Wie hier skep, moet egter kennis neem van ander wat ook kom skep. Ons kan nie sektaries raak nie. Ons leer ook om breër te kyk as net jou eie en om nie in isolasie te leef en te werk nie. Daar is ook andere in Switserland, Frankryk, Duitsland, Engeland, Skotland en die VSA wat by hierdie putte skep. Hulle sien dinge raak wat ons gemis het en ons mag weer die gunsie terugkaats. So werk ’n lewende tradisie: Die water bring verrassende lewe ver buite jou bekende bakens.

‘n Lewende erfenis
Reeds in die jeugdige ouderdom van twee-en-dertig jaar, identifiseer Kuyper in een van sy eerste sleuteltoesprake, die dooie eenvormige argitektuur rondom hom wat na sy mening die gebrek aan veelvormigheid suggereer. Hiermee waardeer hy reeds iets wat eers ’n eeu later volle reliëf sou ontvang: Ryke skakering wat nie in dooie eenvormigheid ingedwing kan word nie. Kuyper noem dit die vloek van eenvormigheid. In ’n postmoderne samelewing klink Kuyper so verrassend nuut met hierdie insig wat nou eers werklik met volle krag waardeer word. Kuyper se boodskap word swaar gesluk deur liberales. Die kroonregte van Christus moet eenvoudig oral, privaat en publiek, gestalte kry. Selfs behoudendes ontglip nie sy operasiemes nie. Kuyper tref ook ‘n lewensbelangrike onderskeid tussen konserwatisme en ortodoksie. Dit is nie die behoudendes wat die fakkel dra nie, maar diegene wat begeesterd saam met die kerk van alle eeue glo en wat aan die hand van Woord en Gees wil reformeer. Dr. Herman Bavinck sluit hom op sy eie wyse by hierdie oortuiging aan en ondersoek elke tydvak en uithoek in die geskiedenis om dit in gesprek met die Reformasie te bring. Dit gaan om die soeke na waarheid en alle waarheid is God se waarheid, maak nie saak wie dit gesê het nie. Reformerendes is mense wat nie iets teen die waarheid nie, maar wel vir die waarheid wil doen.

Die Kuyper-Bavinck erfenis is vir ons kosbaar. Daaruit het ons ryklik geërf. Dink maar aan ons voorveronderstellings in die wetenskap wat nou eers ’n lig laat opgaan by postmodernes, wat baie meer begrip het vir die belang van verskeidenheid en vooroordele. Dan is daar ook die ryk erfenis van die organiese Skrifbeskouing, grammaties-histories-tipologiese Skrifuitleg, Christosentriese prediking en die Christelike lewensbeskouing. Uit hierdie tradisie waardeer ons Suid-Afrikaanse vakmense soos J.D. du Toit, E.P. Groenewald, J.H. Kroeze, H.G. Stoker, en F.J.M. Potgieter.

Ontsporing
Iewers het mense aan hierdie erfenis begin wegkap. Binne die modernistiese klimaat wat heeltemal te beïndruk was met die vermoë van die rede, het Skrifkritiek gebarste reënbakke voor die kerk kom neersit wat die lewende water nie kon hou nie. Ná 1975 maak die organiese Skrifbeskouing plek vir ’n sg. “relasionele” waarheidsbegrip. Skrifkritiek word mode. Alle terreine word nie meer met ’n geïnspireerde Woord gekonfronteer nie. Teologiese en kulturele liberalisme gee die toon aan in die vakuum wat nie meer met God se wet en evangelie gekonfronteer word nie. ’n Liberaal-demokratiese lewensbeskouing, mens-gesentreerde prediking en kerklike lewe word die alternatief van die tydsgees. Uiteindelik hou die Kuyper- Bavinck kerke op met bestaan in Nederland.

Uitdaging
As ’n mens bloot kon terugkeer na die akademiese werke van byvoorbeeld Kuyper, Bavinck en hulle geesgenote, dan was die AP Akademie se taak maklik. Tyd stap egter aan. Hulle het koers gehou in die ná-Verligtingsera. Dit was vóór die dae van die Eerste Wêreldoorlog. Die huidige tydsgees staan bekend as Postmodernisme. Dit is ná die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog. Kolonies is iets van die verlede. Daar is organisasies soos die Verenigde Nasies en die Europese Unie. Vliegtuie en ruimtetuie bestaan. Die mense swerf nou met die rekenaar op die internet en kommunikeer d.m.v. skype, twitter, en sellulêre tegnologie. Toestande in Suid-Afrika lyk drasties anders. Al het jy dieselfde beginsels, word daar nuwe toepassings vir vandag gevra. Die vraag is nou: Wie stimuleer ons vandag om die evangelie antiek-vars te verkondig?

Pasaangewende vakgenote
Die Teologie het deur die eeue heen die pas aangegee vir ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing. Waar die Teologie die spoor van die Bybel verlaat het, het die ander vakwetenskappe normaalweg gevolg. Om dié rede is die Teologie vir die AP Akademie koersgewend vir ons totale wetenskaplike benadering.

Jakob van Bruggen van Nederland het ’n betroubare reeks laat verskyn: Commentaar op het Nieuwe Testament. Maar Amerika en Australië bied vandag die eintlike stimulering. Instellings soos Westminster Theological Seminary en Reformed Theological Seminary gee geloofwaardige pas aan. Die doktore, John M. Frame en Vern. S. Poythress, help onder andere met Skrifbeskouing. Hermeneuties is Kevin J. Vanhoozer die naam om dop te hou. Suid-Afrika se D.F.M. Strauss publiseer in die VSA ’n toonaangewende magnum opus vir Christelike filosofie. In ons eie land neem ons ook met waardering kennis van die werk van prof. Danie Goosen om die belang van die Christelike tradisie in die politieke filosofie te herwaardeer. In die teologiese hermeneutiek is mense soos Todd Billings, Graeme Goldsworthy en Richard C. Gamble toonaangewend. Gregory K. Beale is ’n uitmuntende eksegeet. Jong predikante kan die Reformed Expository Commentary bekyk. Dogmatici soos Robert L. Raymond, Michael Horton, Michael Allen en Scott Swain verwoord die leer in ooreenstemming met die tyd. Bryan Chapell, Sidney Greidanus en Tim Keller gee koers vir prediking. Christopher J. Wright en Mark Kreitzer is toonaangewend vir sendingwerk en Richard A. Muller, asook Rodney Stark vir kerkgeskiedenis. David Powlison en Edward T. Welsch by die Christian Counseling & Educational Foundation (CCEF) stimuleer Skrifgebonde pastorale werk. Liturgies is Hughes Oliphant Old iemand om mee rekening te hou. Kom dit by die verdediging van die geloof en geloofsvrae, kyk ons byvoorbeeld na Cornelius Van Til en Francis A. Schaeffer, ook vandag na K. Scott Oliphint, William Edgar, asook R.C. Sproul en William Lane Craig.

Koers
Cornelius Van Til (1895-1987), van die Westminster Teologiese Seminarium in die VSA, het die intellektuele mantel na Kuyper en Bavinck oorgeneem. Hy het die insig verskerp dat alle dwaling verband hou met jou Godsbeskouing. Dit is Suid-Afrika en Afrikaners se grootste krisis vandag: Wie is God vir jou in die praktyk van die lewe, ook wanneer jy wetenskap beoefen? Die konstitusionele en selfs Afrikanervolksteologie het verval tot ’n leer van linkse, maar ook regse liberalisme. Rehabilitasie is net moontlik as Afrikaners en Suid-Afrikaners weer begin uitgaan van en deelneem aan die wêreld as die eindom van God Drie-enig. So balanseer jou lewensbenadering met ruimte vir verskeidenheid én eenheid: Wanneer ons die Drie-enige God se beeld vertoon, besef ons dat eenheid en verskeidenheid mekaar nie uitsluit nie. Slegs die Drie-enige God kan dit in hierdie land bewerkstellig. Die AP Akademie wil bydra om volke weer tot dissipels van hierdie lewende God te maak. Hoewel antiek, is so ’n perspektief kraakvars. Die AP Akademie nooi uit: Kom wees ’n arbeider saam met ons wat uit die ou putte nuwe water aan die mense van vandag bedien.

Die lewensvisie van die APA: Christelike kuns, kultuur en wetenskap

In die manier waarop ons die wêreld rondom ons mooi maak, die aarde kultiveer en die wetenskap beoefen, getuig ons in werklikheid iets van ons beskouing oor God.

Die afgelope paar jaar is dikwels oor die Christelike lewensbeskouing gedink en wat dit prakties vir ons behels. Die Here leer die mens van die begin af om onderskeid te tref tussen die heidense en Bybelse maniere van kyk na die lewe op die gebiede van die kunste, kultuur en wetenskap.

Boodskap van die Rektor.

 

Ons slagspreuk, “Ou spore – nuwe weë”, verwoord ons roeping om ’n klassiek-Christelike tradisie binne ons eie, sowel as ander gemeenskappe te bevorder.

Ek wil graag verwys na ‘n opmerking wat die bekende CS Lewis gemaak het oor die Britse onderwysstelsel in die 1940’s omdat dit wat hy gesê het ongelukkig vandag net so ‘n groot probleem by meeste universiteite, en beslis by alle publieke universiteite, is: hy het gesê dat die samelewing verwag van die onderwys om manne en vroue met integriteit en imbors te lewer, maar die stelsel het die hart van die mens kom uitruk, terwyl hulle steeds verwag die organe moet werk. Hiermee het hy bedoel dat daar so ‘n verwydering gekom het tussen waarheid en wetenskap dat die wetenskap meen hulle het nie waarheid of geloof nodig om wetenskap te beoefen nie.

Ongelukkig is dit selfs waar van meeste universiteite vandag dat geloof en wetenskap so ver van mekaar verwyder is dat die veronderstelling is dat wetenskap niks met geloof te doen het nie. In hierdie opsig is die APA anders. Ons is van mening dat die ou spore van die gelowige vaders deur die eeue heen die weg wys waarop ons die wetenskap moet beoefen, ja, wel in ‘n ander konteks as hulle, maar beslis nie met ander beskouinge oor waarheid, skoonheid en ons plek in die skepping nie. In hierdie opsig het die APA ‘n dringende en relevante boodskap vir Suid-Afrika, en sal elke student wat aan die APA studeer, kan getuig dat die liefde vir die ou spore aan hulle toerusting bied om nuwe weë te ontdek van relevante wetenskapsbeoefening om die samelewing te konfronteer met Christelike waardes in aksie binne ’n Christelike etos in Afrikaans as moedertaal.

Hoe doen ons dit? Kom besoek ons om meer hieroor uit te vind! Die APA vier in 2021 ons 33ste bestaansjaar en is dankbaar om te kan terugkyk oor jare se groei en uitbreiding en die seën wat ons ontvang. Welkom by die APA – waar ons streef om met ou spore nuwe weë te baan.

Prof. Gerrit.

 

Registrasie en wetlike status

 

Hierdie Akademie is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ‘n privaat tersiêre onderwysinstelling geregistreer kragtens die Hoër Onderwyswet van 1997 onder die Registrasienommer 1999/HE08/001. Die Akademie is ‘n maatskappy sonder winsoogmerk met Registrasienommer 2002/031756/08.

 

Bankbesonderhede

 

Hierdie instelling is geregistreer as ‘n nie-winsgewende organisasie met ‘n wettige bankrekening in die Republiek van Suid-Afrika.

 

Deel die bladsy: