Afbeelding bekom vanaf https://neuroleadership.com/your-brain-at-work/three-steps-for-communicating-better-according-to-neuroscience

 

Baie keer dink mense dat dit nie nodig is om kommunikasie te gaan studeer nie, want dis mos maklik, want “almal kan mos gou ʼn WhatsApp stuur”. Eish! Dis nie so eenvoudig nie.

Daar is verskeie vorme van kommunikasie soos verbale kommunikasie (soos praat) en nie-verbale kommunikasie (soos lyftaal) asook geskrewe kommunikasie (teksboodskappe). Verder is daar verskeie kommunikasiekanale soos persoonlike interaksie (koffie-afspraak), sosiale media (Instagram, X, Facebook ens.), digitale media (boodskappe via die internet) asook tradisionele massamedia (radio, TV, koerante). Kommunikasie is eintlik ʼn baie komplekse proses. Hierdie proses kan moeilik en langdradig wees soos wat mense probeer om mekaar te verstaan. Die doel van effektiewe kommunikasie is nie net om misverstande te vermy nie, maar eerder om wedersydse begrip te bewerkstellig. Dit is waarom wetenskaplike kennis van kommunikasie so belangrik is.

In kommunikasiekunde word daar in diepte gekyk na die formulering, oordra, interpretasie en ontvang van boodskappe in verskeie kontekste. Hierdie kontekste sluit onder andere in persoonlike denke (intrapersoonlike kommunikasie), persoonlike verhoudings (interpersoonlike kommunikasie), kleingroepkommunikasie, organisasiekommunikasie, digitale kommunikasie, asook openbare- en massakommunikasie.

Nuwe tegnologie, globalisering en ʼn snel veranderende sosiale landskap vereis dat kommunikasiekunde as akademiese dissipline, dinamies en aanpasbaar moet wees om studente toe te rus met die nodige kennis en vaardigheid om ʼn bydrae te lewer in die samelewing. Die student word vanaf eerstejaarsvlak blootgestel aan ʼn verskeidenheid kommunikasieteorieë wat die grondslag vorm vir ʼn loopbaan in die joernalistieke en/of strategiese kommunikasie-wêreld. Reeds vanaf die tweedejaar word daar ook van studente verwag om kommunikasieteorieë toe te pas op gevallestudies. Op derdejaarsvlak moet studente in staat wees om na aanleiding van gepaste teoretiese raamwerke, strategiese kommunikasieplanne te formuleer vir ʼn nuwe of bestaande onderneming.

Kommunikasiekunde bestaan uit verskeie sub dissiplines soos joernalistiek, politieke kommunikasie, interkulturele kommunikasie, organisasiekommunikasie, kommunikasie vir sosiale verandering (ontwikkelingskommunikasie), bemarkingskommunikasie, openbare skakeling, korporatiewe media, asook kommunikasiebestuur. Hierdie opwindende akademiese dissipline het verder ten doel om studente op te lei vir ʼn veelsydige beroep wat strek van die skep van bewusmakingsveldtogte, die voer van onderhoude, die skryf van nuusartikels, sosiale media plasings, advertensieboodskappe, die samestelling en uitvoering van strategiese kommunikasieplanne, bestuur van belangegroepe en nog vele meer.

Artikel deur dr Hélanie Jonker geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-09. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

Deel die bladsy: