Met die vinnige ontwikkeling van tegnologie en na aanleiding van die COVID-19-pandemie, was universiteite onder druk om te herstruktureer en was daar ’n drastiese toename in keuses met betrekking tot aanlyn kursusse, wat gelei het tot die toenemende gewildheid van aanlyn studie, selfs ná afloop van die COVID-19-pandemie.

Aanlyn studie het die tendens geword, wat studente die moontlikheid bied om op enige plek, teen hul eie tempo, te studeer. Die buigsaamheid en gerief wat aanlyn studie bied, hou egter soms uitdagings in soos om gemotiveerd te bly en tyd doeltreffend te bestuur. Dit is dus baie belangrik om effektiewe strategieë in plek te hê om daarmee die suksesvolle voltooiing van jou aanlyn studie te verseker.

Uit persoonlike ervaring, intense oplees en navorsing kan daar eerlik getuig word dat die internet ’n magdom hulpbronne en riglyne bied rondom die geheim van suksesvolle aanlyn studie, maar dat alles saamgevat kan word in die volgende ses wenke:

  1.  Beplan, organiseer en skep ’n studieplan

Die daarstel van ‘n studieplan is van kardinale belang vir die suksesvolle voltooiing van jou aanlyn studie. Maak ‘n rooster wat jou studietye, opdragte en toetse duidelik uiteensit. Deur te beplan, ‘n struktuur te hê en georganiseerd te wees kan jy jou tyd effektief bestuur en verseker dat jy al die werk wat van jou verwag word, binne die voorgeskrewe tydperk voltooi.

  1. Stel realistiese doelwitte

Breek groot take op in kleiner, hanteerbare dele en vier jou suksesse, al is dit net met ’n roomys. Deur realistiese doelwitte te stel, sal jy gemotiveerd bly, stresvlakke in toom hou en uitbranding voorkom.

  1. Skep ‘n produktiewe studieomgewing

Skep ‘n studieomgewing waar jy min afleidings het en rustig kan konsentreer, veral as jy aandagafleibaar is. Vermy afleidings soos televisie kyk, sosiale media en toestelle, soos byvoorbeeld ’n Xbox. Kies ‘n plek met goeie beligting en ‘n lessenaar met ’n gemaklike stoel. Deur ‘n produktiewe studieomgewing te skep, sal jy beter in staat wees om op jou kursusmateriaal te fokus en produktief met dit om te gaan.

  1. Kommunikeer

Daar is ’n ou gesegde: “Kommunikeer of kom in die moeilikheid.” Die regte gesegde is dalk ‘n bietjie meer kras, maar stel basies dat kommunikasie die sleutel tot sukses binne enige omgewing is, hetsy in die werkplek, gedurende studie of in ’n verhouding.

Kommunikasie is dus ‘n baie belangrike deel van aanlyn studie aangesien dit jou ondersteuning bied: dit help jou om vrae te vra, om probleme aan te spreek, om probleme op te los. Maak seker dat jy in kontak bly met jou dosente en medestudente deur gebruik te maak van e-poskommunikasie, forums, of ander kommunikasiemiddele wat deur jou kursusverskaffer beskikbaar gestel word. Deur aktief betrokke te bly, kan jy hulp kry om jou studiemateriaal selfs beter te verstaan, sou dit nodig wees.

  1. Vorm ‘n studiegroep en vind ’n ondersteuningstelsel

Oorweeg dit om ‘n studiegroep met medestudente te vorm. ‘n Studiegroep bied die geleentheid om kennis en idees uit te ruil, om mekaar sodoende in die leerproses te ondersteun. Deur met ander studente saam te werk, kan moeilike konsepte makliker verstaan en uiteengesit word en nuwe maniere vir probleemoplossing gevind word. Studiegroepe dien dus as ‘n motiveringsomgewing wat stresvlakke help beheer en produktiwiteit verhoog.

  1. Bestuur jou tyd doeltreffend

Die laaste maar nie die minste nie… Doeltreffende tydsbestuur is van uiterste belang vir die voltooiing van jou aanlyn studie. Stel ‘n realistiese skedule op en wees streng met jou tydsbeplanning. Maak ‘n lys van prioriteite en identifiseer die belangrikste take wat gedoen moet word. Werk rustye en klein belonings in wanneer doelwitte bereik word . Deur jou tyd effektief te bestuur en nie toe te laat dat afleidings jou pootjie nie, sal jy die werkslading kan hanteer, sonder om jouself uit te brand en moedeloos te raak.

Met hierdie ses wenke in ag geneem, kán jy ‘n suksesvolle aanlyn student wees en jou studie met selfvertroue voltooi. Wees toegewyd, gemotiveerd, doelgerig – en jy sál die vrugte van jou harde werk pluk.

Deur Iliz-Mari de Beer – dosent in Kommunikasiekunde

Foto: Julia M Cameron

Deel die bladsy: