Niemand van ons is meer onder ‘n wanindruk oor die toestand van die land se ekonomie nie. ‘n Regering wat korrup is, tenderpreneurs wat die dromme slaan, ‘n welsynstaat wat werkloosheid beloon en hardwerkendheid belas – dit alles dra by tot ‘n ekonomiese uitkyk wat al hoe donkerder word. En asof dit nie donker genoeg is nie, sit Eskom die krag vir ure aaneen af. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het aangedui dat beurtkrag die ekonomie ongeveer R900 miljoen per dag kos. Die land se somme wil nie meer klop nie.

Waarom is ekonomie belangrik?
Ekonomie is die bestudering van die keuses wat die mense van ‘n land maak om onbeperkte behoeftes met beperkte hulpbronne te probeer bevredig. Die term “ekonomie” kom van die Griekse woord oikonomia, wat uit die twee woorde oikos (“huis”) en nemo (“bestuur”) saamgestel is. Ekonomie is dus “die bestuur van die huis”.

Die mens het die opdrag gekry om sy huis en omgewing te bestuur. God, as Koning, het die heelal geskep en op die sesde dag skep Hy die mens na sy beeld. Hierdie beeld is onder andere dié van ‘n verstandige onderheerser (die mens heers namens God) en wyse bestuurder. Die voorbeeld van watter tipe regeer- en bestuurstyl die mens moet hê, kry hy ook van God af. God het álles goed geskep. Aanvanklik volg die mens hierdie voorbeeld. Net soos God geordend geskep het, benoem die mens die diere volgens soort (vgl. Gen 2:20). Die mens is egter ongehoorsaam; hy het behoefte aan meer as wat God aan hom toegeken het (vgl. Gen 3:17).

Ná die sondeval tree skaarste in. Nog is die mens ekonoom (bestuurder van huis en omgewing), maar daar is nou ‘n nuwe dimensie aan ekonomie. Dit word genoem die “ekonomiese probleem”. Daar is onbeperkte behoeftes maar beperkte hulpbronne om aan die behoeftes te voldoen. Hierdie probleem sit dan ook aan die kern van die mislukking van die regeer- en bestuurstyl van die Suid-Afrikaanse regering. Die land word nie bestuur asof dit ‘n huishouding is nie. Die staat hou nie die normale beperkende ekonomiese reëls en verantwoordbaarheid wat daar in ‘n huishouding geld, voor oë nie. Dit neem ook nie verantwoordelikheid om ‘n gunstige omgewing te skep waarbinne die ekonomie kan floreer, soos ‘n goeie huishouding, nie. Inteendeel, in die staat se huishouding word die land geplunder en vernietig.

Terug na die gesin
Ons mis die beeld van God in die staat se bestuur van die huishouding. Terwyl dit natuurlik vir ons maklik is om hierdie tekortkominge in die bestuurstyl van die staat raak te sien, moet ons ook nader aan die huis vra: Hoe lyk ons eie huishoudings? Ons is ontneem van deelname aan die bestuur van die land, maar deur die genade het ons nog almal huishoudings wat ons moet bestuur. In ons huishoudings is ons soewerein. Deur ons gesinne op te bou, deur “wyse” ekonomie in ons eie huise toe te pas, kan ons kinders grootmaak wat na ons bestuurstyl kyk en deur die genade die Skepper raaksien. En dan kring dit vandaar uit na ons sypaadjies, ons gemeenskappe, ons instellings, ons kerke, skole en universiteite. Kom ons streef na eilande van uitnemendheid. Dít is die beeld van God.

 

Deur Andries Opperman

Foto: Cassidy RowellUnsplash

Deel die bladsy: