Afrikaanse Protestantse Akademie: Jaar-Opening en Predikante-Konferensie

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) se jaar-opening het Sondagaand 21 Januarie 2024 met ʼn erediens by die Afrikaanse Protestantse Kerk Pretoria-Oos plaasgevind. Dit was onder leiding van prof JAE Adendorff, departementshoof Ou Testament, by die APA.

Prof. J.A.E. Adendorff

Prof Adendorff se preek was uit Matthéus 9:35-38, met die onderwerp Kyk na mense deur Christus se oë.[1]  in aansluiting by die sending-tema Voete van bereidheid, van die APA se Predikante-Konferensie wat oor die volgende drie dae by die Eden Kampterrein naby Cullinan gehou is. Die Predikante-Konferensie se program is deur prof J Bosman, die APA se departementshoof Missiologie en Diakoniologie, saamgestel.

By die erediens is onder andere die sewende berymingsvers (1936) van Psalm 147 gesing: Húl ken sy ryksverordening; Húl moet uit dank sy grootheid sing!

In die preekteks leer ons dat Jesus innig jammer gevoel het vir die skare (skape sonder ʼn herder), en gesê het: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur. Prof Adendorff het verduidelik dat die grondteks by innig jammer die betekenis dra van intense emosie soos wanneer jou maag op ʼn knop trek of jou ingewande aan die bewe gaan – dus Jesus se hart het uitgegaan na die skare, Hy is in beroering gebring deur die toestand van die mense. Die uitdrukking word in die sinoptiese Evangelies (Matthéus, Markus en Lukas) byna uitsluitlik van Christus gebruik.

God is die Here van die oes. Dissipels moet tot God bid vir arbeiders in sy oes. Maar dissipels is juis die arbeiders in sy oes. Waarom daarvoor bid? Christus wil hê dat ons langs die weg van gebed ontdek, het Prof Adendorff gesê, dat ons self die antwoord is op ons gebede vir arbeiders in sy oes. So is die dissipels die oes ingestuur. So ook ons. Die Evangelie moet verkondig word, nie net tot aan die eindes van die aarde nie, maar tot aan die einde van tye.

Die Predikante-konferensie van 22-24 Januarie het ds Leon du Plessis geopen met ʼn oordenking uit Lukas 2:17: En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van die Kindjie vertel is.

Dr Japie Malan van Mukhanyo Teologiese Kollege, het in sy spreekbeurt by die konferensie verduidelik dat hulle verskillende kampusse afgewentel en met eie aanspreeklikheid bedryf. Hulle volg die model van in-diens-opleiding. Mentorskap speel ʼn belangrike rol in die opleiding, en die konteks van voorvaderaanbidding, mistieke rituele, en onafhanklike kerke word in die leerplanne in ag geneem. Mukhanyo bied ʼn teologiese sertifikaat, B-graad, honneursgraad en meestersgraad aan.

Sprekers van die sendingbond, INcontext International, Gustav Krös en Paul Ferreira, het ook daar opgetree as mense wat in die hitte van die stryd staan. Mnr Krös het verduidelik dat INcontext International ook ʼn Christelike perspektief bied op wêreldnuus, en daarop gewys dat meer as 40% van mensegroepe steeds onbereik is deur die Evangelie. Hy het sleutelrolspelers geïdentifiseer as Sjina (140 miljoen Christene), Israel, Sirië, Libanon (waarvan 36% Christene is), Iran en Egipte.

Mnr Ferreira het uitgebrei oor sending in Suidoos-Asië, en onder aanhoorders se aandag gebring, dat die uitverkiesing, ʼn sendeling aktief maak, eerder as passief – die uitverkorenes moet gaan haal word.

Prof Bosman van die APA het die konferensie toegespreek oor die doel van sending, met verwysing na die beroemde sendelingmartelaar agter die destydse ystergordyn, Wurmbrand, wat al in ʼn vorige geslag gewys het na die probleem van sosialisme, maar dat die vordering van sosialisme steeds voortduur, veral daar waar die Evangelie nie weerklink nie. Sending is gewortel in die eer van God. Sending bestaan aangesien aanbidding bestaan (Christopher J H Wright). Nie net omdat aanbidding ontbreek nie (John Piper). Die doel van sending is om die lof van God te laat weerklink. Prof Bosman het ernstig vermaan dat daar in ʼn sin van godslastering sprake is waar sending afwesig is. Sending moet in volksverband uitgebou word, en onder die leuse elkeen oral gestuurde, omdat eenheid en verskeidenheid mekaar veronderstel.

Mnr Pieter van Deventer, finale jaar teologiese student by die APA, het die konferensiegangers laat nadink Tot ʼn Swaargewig Teologie van Sending, met ondertitel Belangrike missiologiese ontwikkelings in die globale konteks. Perspektiewe hierop is gegee aan die hand van ʼn aantal standaard verwysingswerke.

Klassiek-Gereformeerd (JH Bavinck): Algemene Openbaring (die skepping van God) as aanknopingspunt en aangrypingspunt tot Besondere Openbaring (die Woord van God), met Christus as die Spilpunt (Christosentries) en die Heilige Gees as Ingewer van alle kennis (Pneumatologies).

Ekumenies-Protestants (DJ Bosch): ʼn Postmoderne perspektief wat maatskaplike bevryding insluit, sonder die Skrif as enigste standaard.

Ekumenies-Rooms (Bevans en Schroeder): ʼn Rooms-Katolieke perspektief wat bou op die ekumenies-protestantse uitgangspunt, met tradisie wat heers oor die Skrif.

Evangelies (Ott & Strauss): Bybels, Gereformeerde, behoudend en duidelik. Probeer diep goeie antwoorde te gee oor sending, met belang van verinheemsing, maar behoud van die Skrif wat bo kultuur uitstyg.

Verbondsmatig-Gereformeerd (Wells, Lillbeck, Stoker): Sending begin by verlossingsverbond, vloei uit na werksverbond, terwyl die genadeverbond die raamwerk vir sending verskaf. Verbondsmatige eskatologie gee toekomsbeskouing.

Afrikaans-Protestants: In gevolgtrekking het mnr Van Deventer gepleit vir ʼn terugkeer na die klassiek-gereformeerde uitgangspunt, dat verbond ook toegepas word op volk, dat sending gesien word as tempel-uitbreiding, dat Skrifmydende teologie verstaan word as ʼn ander godsdiens buite die Christendom, en na ʼn optimistiese (postmilleniale) eindtydsiening.

Mnr Dianlo Stoltz, ʼn senior teologiese student by die APA, het onder die tema, die Kern van Sendingwerk, aanspraak gemaak daarop dat die hart van die probleem die hart is. Sending slaag waar die hart op God gerig word. Hy het uitgewei oor eiesoortige denke en denkrigtings oor God onder verskeie volke in Afrika, en die studie van kennis (epistomologie) en metafisika (die eerste beginsels van dinge soos bestaan) betrek. Daar is aangetoon dat onder sommige kulture in Afrika ʼn rangorde ná God is, naamlik voorvadergeeste, diere, plante, en dies meer. Alles moet verduidelik word binne daardie rangorde. Die belang van die voorouergeeste, en inspraak daarvan, in denke, sowel as die wisselspel van kragte, speel hierin ʼn rol. Die doel met die verstaan van die kulture van volke in Afrika is om hulle hart aan te spreek, om sodoende hartsverandering mee te bring, en dus nie uit nuuskierige belangstelling nie. Verandering, oftewel inkering, omkering en bekering, moet altyd voorop staan in die Evangelie-oproep. Mnr Stoltz het afgesluit met nadruk in die vraag: Hoe lyk my hart teenoor ander?

Ander sprekers wat opgetree het is proff Gerrit Smit en Alwyn Swanepoel, sowel as di Henri Scherman, Paul Möller, Ruan Combrink, Emilé Trollip, Durandt Pieterse, Johan Schütte, Riaan Pretorius, Wickus Malan, Martin Jordaan, Willem van Schalkwyk, Danilo Stoltz, Dewald Cronjé en François de Bruin.

Op die konferensie is toehoorders opnuut herinner dat om volledig kerk te wees, die Skriftuurlike sending-opdrag van harte aanvaar moet word. Die sending-opdrag kan nie uitgestel of beperk word tot die eie volk nie. Daar is uit eie sendingbeleid die volgende aangehaal: Na die mate van gehoorsaamheid om die volle raad van God aan almal te verkondig, na dié mate sal ons ook deur die Heilige Gees in eie geledere geseën word.

[1] https://www.youtube.com/live/A1I7v960dgw?feature=shared

Deel die bladsy: