Die APA: Bouers van puinhope en herstellers van mure

Nehemía hou toesig oor die herbouing van Jerusalem, ets, 1791. Eiendom van die Rijksmuseum Amsterdam (Voorwerpnommer RP-P-1933-26). Weergegee deur Encyclopædia Britannica by www.britannica.com/biography/Nehemiah/images-videos.

Jes. 58:12: En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.

 

Inleiding

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) neem die beloftes van Jesaja 58:12 ter harte. Ons sien baie geleenthede om as tersiêre instelling ou puinhope op te bou, gebreekte mure en paaie te herstel, en weer bewoonbaar te maak. Dit is so belangrik om uiteindelik gemeenskappe te hê waar ons nie net kan bly nie, maar kan woon – so, dat dit moontlik is om die voorgeslagte en die nageslagte te eer. Maar dit gaan mense vra wat werklik God se wil vir hul lewe soek en bereid is vir stryd wat gedring word deur geloof, hoop en liefde.

Gesoek: Jongmense wat hul lewens vir God se Koninkryk laat tel

Ons sit met twee basiese uitdagings wanneer dit daaroor gaan om ’n volgende geslag toe te rus met visie vir hul lewe. Aan die een kant is daar baie groepe wat teer op elke Christen wat diep hierbinne op soek is na die roeping en avontuur en dienswerk en voorregte waarvoor God jou geskape het. Dit kan egter maklik lei na idilliese kortpaaie wat teleurstel. Aan die ander kant kan sommige betroubare gidse so algemeen praat dat dit nie duidelik is hoe en waar jou spesifieke menswees en gawes tot reg en vervulling kan kom nie.

By die APA streef ons om beide hierdie gevare te vermy. Ons wil jou deeglik voorstel aan denke en planne en praktyke wat die toets van die tyd deurstaan het, tesame met belowende nuwe idees en inisiatiewe, sodat jy minder maklik sal swig vir oningeligte kortpaaie en dwaalligte. Maar ons wil ook saam met jou baie spesifieke areas identifiseer waar jy met jou gawes en toerusting tot eer van God en tot welstand van jou gemeenskap kan leef.

Watter puinhope wil ons herbou?

Uiteindelik wil ons elke student toerus om elke terrein van die samelewing tot eer van God en tot heil van ons medemens in te rig, maar dit is nou juis hierdie tipe stellings wat dikwels nie spesifiek genoeg is nie. Gegewe dit wat in die APA aan ons gegee is, sou ons dit meer spesifiek soos volg kon verwoord: Ons wil aansluit by die bekende beeld van die “sewe berge van invloed” in enige kultuur. Sommige praat ook van die sewe pilare of fondasies van groot invloed in enige kultuur. Hierdie sewe berge of pilare of fondasies is die volgende:

  • Kerk
  • Gesin
  • Onderwys
  • Regering
  • Kuns en Rekreasie
  • Media
  • Besigheid en Ekonomie

Die oogmerk by die APA is om elke student baie spesifiek te begelei om biddend te bepaal tot watter terrein(e) hulle geroep is om spesifiek daar die drie vyande van die koninkryk – die eie-ek, die Bose, en die verdraaide pad van ’n afvallige wêreld – die stryd aan te sê met krag, liefde en selfbeheersing (vgl. 2 Tim. 1:7).

Wat is die plan?

By die APA wil ons die toespitsing op die genoemde sewe areas op ’n eie reformatoriese wyse uitwerk en uitbou. Aan die hand van die genoemde Jes. 58:12 wil ons dit so verduidelik:

Die beelde van puinhope en mure en paaie suggereer ’n ommuurde stad met toegangsroetes, in en uit en deur daardie stad. Hierdie beeld vind ook besondere aansluiting by Nehemia en Esra wat deel uitgemaak het van die eerste vervulling van die beloftes van Jesaja oor herbouers en herstellers van puinhope en mure. In die kern van die stad was die tempel en die altare wat gestaan het vir ware aanbidding. Vandag is elke Christen ’n tempel van die Heilige Gees, maar is ons ook saam lewende stene van God se bouwerk. En openbare aanbiddingsplekke in die kern van ’n stad of gemeenskap is steeds simbolies van die altare en tempels in die nuwe verbond en daarmee van ware aanbidding van die Drie-enige God. Saam met baie gemeenskapsdenkers is ons oortuig dat aanbidding altyd sentraal staan in enige samelewing. Aanbidding, van afgode of van die lewende God, is die voedingsbron van enige kultuur, en kultuur mond weer uiteindelik uit in die politiek. Daarom staan aanbidding ook in die kern van die sewe genoemde terreine. Vir die APA is teologiese opleiding wat in kontinuïteit met die getroue Kerk van die eeue staan, daarom vir ons van wesenlike belang.

Goeie mure het verder ook goeie fondamente nodig en die stewige plek van getroue teologie in die APA verskaf ook hierdie fondamente vir al die genoemde terreine, nie net vir die teologie self nie. Dit geld ook vir terreine en projekte wat in die toekoms op ons pad kom. Uiteindelik moet daar op hierdie fondamente gebou word en die APA beskou al die vakgebiede wat ons aanbied as besondere mure wat help om die stad of gemeenskap te beskerm wanneer dit stewig en sterk staan. Enige vakgebied het verder altyd bepaalde denkskole waarvan sommige meer en ander minder aansluit by stewige fondasies en dit wat die toets van die tyd deurstaan het. Die APA wil al die vakgebiede wat hier aangebied word bou op die fondament van die Woord en daarom ook die grondslae van elke vakgebied met sy verskillende denkskole deeglik toets. Dit gebeur deur deeglik na te gaan wat in die fondamente en voorveronderstellings van elke vakgebied aangaan. Dit word normaalweg in die omgangstaal die grondslae van elke vakgebied genoem.

Voorbeelde hiervan is die volgende: In ’n vak soos Geskiedenis sal daar deeglike kruisverhoor toegepas word op die grondoortuigings en maatstawwe van diegene wat ’n bepaalde era bloot demoniseer of bloot verheerlik. In ’n taalvak sal weer in die besonder daaroor gaan dat ons wil seker maak dat ons studente stewig en verheffend moet kan praat en skryf, veral ook omdat leiers gewoonlik goeie formuleerders, skrywers en/of sprekers is. As dit gaan om ’n vak soos sielkunde, sal ons weer seker maak dat ons studente ware dokters van die siel word wat weet hoe om met die hele mens, siel en liggaam, te werk op ’n manier wat verantwoord kan word uit die Woord van God, maar van daaruit ook in gesprek met die beste denkskole van die tyd tree. Spesifiek daardie denkskole wat lyk of dit meer versoenbaar is met Christelike uitgangspunte sal deeglik ondersoek word. En as dit gaan om politieke wetenskap, wil ons hê dat hulle sal weet hoe die siel en etiek van elke individuele mens weer verband hou met die gemeenskap en stadstaat en groter politieke samelewing en uiteindelik die hele kosmos.

Op hierdie wyse bou elkeen dan by die besondere muur waar hy of sy geroep is, maar altyd met ’n oog op die grondslae daarvan. Die motiewe en doelstellings van elke vakgebied word ook deeglik getoets omdat ons waarlik streef om versterkte mure in elke vakgebied daar te stel.  Uiteindelik wil ons ook wagters op die vaste mure hê wat vroeg reeds kan roep as die gevaar dreig. Ons wil hier graag twee soorte wagters oplei. Bedienaars van die Woord is per definisie wagters op die mure, maar net so ook joernaliste, met al die unieke uitdagings daaraan verbonde vandag in die era van die multimedia. Joernaliste was nog altyd belangrike wagte op die mure van enige samelewing. Wanneer joernaliste nie die basuin geblaas het nie, of waar hulle voortdurend vals alarm laat hoor het, het dit tot liederlike gevolge in die geskiedenis gelei. Oorloë en die val van ordes kon al gekeer geword het as joernaliste eerlik en dapper hulle werk gedoen het. In ’n wêreld waar swak en ongekontroleerde joernalistiek groter trefkrag begin kry het, wil die APA die voortreflike alternatief aan die orde stel.

Met hierdie mure wat deur die verskillende vakgebiede gebou word, word dit ook moontlik om die puinhope en paaie te begin herbou en met waardering vir die beskerming en riglyne wat beproefde vak-mure bied. Die vak-mure kan selfs dien as grondstowwe vir die skeppende kombinasies wat nodig is om die genoemde bakens van invloed wat die kultuur grondliggend vorm, te herstel.  Hoe verloop die voorstelle vir die herbou van die belangrikste puinhope en mure dan op uniek reformatoriese wyse by die APA?

Uit Jes. 58:12 is dit duidelik dat hulle aan wie die beloftes van toegesê is, reeds visie het en nie stilsit nie. Dit gaan dus hier oor verbondsgetroue dink-doeners en doen-denkers wat bou, oprig en herstel. Dit is ook duidelik dat hierdie beloftes gaan oor mense wat in die geslagte getrou is aan die verbond met God: “… die wat jy uit jou voortkom sal…” Verder dink hulle nie hulle is die eerste mense wat iets doen nie, want dit is ou puinhope wat herbou word en fondamente van vorige geslagte wat opgerig word en dit is mure wat was, wat herbou en herstel word. Hier is dus duidelik sprake van vernuwing wat nie los van die tradisie plaasvind nie, maar vanuit die tradisie en met getrouheid.

Tersiêre instellings is by uitstek plekke wat die kennis en wysheid van die verlede met die hede in dinamiese gesprek bring. Die APA is ’n instelling wat dit bewustelik wil doen met agting vir die permanente dinge wat die vadere reeds raakgesien het. Ons is oortuig dat ware vernuwing alleen vanuit die getroue tradisie en nie los daarvan nie, gebeur. Ons is ook oortuig dat die instellings wat los van goeie tradisie die na-Verligting volg tot by die punt dat alles deesdae gedekoloniseer moet word, op pad is na ’n afgrond. So kan die hede juis nie onbevange met die verlede in gesprek tree en die skone en die goeie behou nie. Die APA streef eerder daarna dat die bemiddeling met die verlede wel kruiskontrolerend moet geskied, maar dan ook met erkenning van die goeie en die skone waarop ons wil voortbou, en met die Woord van God as basis.

Dit is verder ook uit Jes. 58:12 duidelik dat die inisiatiewe ’n duidelike doel het. Dit is om werklik in dit wat gebou word, te woon. Dit impliseer ’n volhoubare plan waarin verlustiging en algemene welstand (shalom) in die Here gevind word en die belewenis dat hy nie in jou siel ’n maerte stuur nie, maar eerder dat Hy die begeertes van jou hart aan jou gee omdat Hy in al jou weë geken word (vgl. Ps. 106:15 teenoor Ps. 37:3-4).

Met hierdie tipe werkswyse is ons oortuig dat ons anderkant die kortsigtigheid van die nuwe kolonisering aan universiteite kan tree. So kan ons eintlik die beste van drie wêrelde, die van die verlede, en die hede, op pad na die toekoms, aan ons studente voorstel. En so kan hulle met die maatstawwe van tydlose waarheid en goedheid en skoonheid, volwasse keuses uitoefen in die voortgaande groot gesprek van die eeue. Dit is ons oortuiging dat baie ou puinhope en mure en paaie op hierdie weg op ’n vars ou-nuwe wyse herbou kan word.

 

 

Hoe vat die plan grond by die APA?

Die APA bied besondere geleenthede vir elkeen wat daarin belangstel om ou puinhope op te bou en gebreekte mure en paaie te herstel. Ons vra elkeen wat geroepe voel tot enige van die genoemde bakens van beïnvloeding, om die APA sterk te oorweeg. Ons wil die sewe genoemde terreine ook anders formuleer om aan te toon dat ons net gekwalifiseerd wil vereenselwig met diegene wat die konsep van die sewe berge van beïnvloeding aan die orde gestel het. Ons sou dit ook met ander name  kon benoem. As dit gaan oor enige van die volgende velde, kan baie leiers by die APA gevorm word:

  • Kerk
  • Bediening van berading deur die Woord
  • Onderwys
  • Gemeenskapsontwikkeling
  • Akademie
  • Burgerlike organisasies
  • Politiek
  • Regering
  • Media

Die APA het sy ontstaan te danke aan teologiese opleiding. Dit word steeds as die instelling se groot bate beskou. Vanweë die veranderende omstandighede het ons ’n nuwe BDiv kontak-graad in teologie geregistreer waarby studente van verskeie denominasies inskakel. Hulle kan so in vier jaar ’n klassiek-begronde teologiese graad by ons verwerf en dan daarna by hulle eie denominasie of netwerk verder gaan afrond as hulle so besluit.

Die APA bied verder ook ’n unieke BSocSci kontak-graad aan wat daarop gefokus is om leiers in die onderwys, politiek, burgerlike organisasies en multimedia velde te lewer. Die oogmerk is om meningsvormers te help ontwikkel wat die saamlewing weg van die afgronde van die afvallige Weste kan help lei. Vir hierdie doel het ons onlangs ook Kommunikasiekunde, Politieke Wetenskap, Ekonomie en Joernalistiek begin aanbied. Dit beteken dat ons selfs die moontlikheid bied om die gewilde PPE-vakke (wat internasionaal staan vir Philosophy, Political Science and Economy) by ons te neem. Dit is ’n baie gewilde keuse vir diegene wat belangstel in die groot samelewingskwessies van ons tyd. Hierdie graad is uitnemende geskik om jongmense voor te berei om leiers in die toekoms te wees op die sogenaamde berge van invloed as dit so vir hulle beskik is.

Selfs diegene wat nog wonder of hulle nie dalk geroep word om bedienaars van God se Woord te word nie, word sterk aangeraai om hierdie weg te volg. Dit kan jou help om reeds sinvol vir die lewe op soveel gebiede voor te berei, selfs al sou jy nie in die Woordbediening opgaan nie.  En natuurlik bring dit iemand ook in die omgewing van hulle wat wel geroepe voel en kan elkeen wat dit oorweeg en daaroor bid, met groter oorleg hul besluit oor tyd neem, terwyl ’n skitterende kwalifikasie in elk geval steeds verwerf word.

Hoewel ons verkies dat studente met leier-eienskappe die kontak-graad neem omdat ons oortuig is dat beliggaamde mentorskap nie geklop kan word nie, is daar ’n moontlike alternatief vir diegene wat weens omstandighede nie ’n kontak-graad kan bybring nie. Ons bied ook ’n BA afstand-program aan wat in baie behoeftes kan voldoen. Die BDiv en BSocSci grade is dus kontak-programme, maar die BA graad is geregistreer vir afstand-onderrig. Ons bedien dus mense oor die hele land en selfs in ander lande.

Die onderwys bly maar altyd belangrik vir die vorming van ’n volgende geslag en is definitief ’n groot baken van beïnvloeding. Daarom bied die APA sedert 2018 ook op afstand die geakkrediteerde Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aan. Die NGOS dien as ʼn verdere professionele afrondingskwalifikasie vir studente wat ʼn Baccalaureusgraad voltooi het en tot die onderwysprofessie wil toetree.  Studente wat hierdie kwalifikasie verwerf, is baie beter in staat om self die mure van die vakgebied by ’n volgende geslag op te bou en bewys te lewer van die vaardighede wat nodig is om ʼn effektiewe onderwyser te wees.  Hulle word ook toegerus om skadebeheer toe te pas en die mure van hul vakgebied te herstel in die lewe van kinders waarmee hulle in aanraking kom. Met hierdie sertifikaat het iemand ook ’n baie beter moontlikheid om in te stap in die onderwys van leerlinge vanaf graad 7 tot 12 by enige plek in die wêreld.

Ten slotte

Die APA kan nie alles vir almal wees nie, maar daar is baie soorte studente wat by ons tuiskom, omdat ons die groot terreine van beïnvloeding bedien. Ons het reeds genoeg middele om enigeen wat die groot bakens van kulturele beïnvloeding wil betree, toe te rus vir die goeie stryd en uitnemende dienswerk. Daarom kan baie soorte leiers van die volgende geslag by ons effektief ontwikkel word en dit boonop met mentorskap wat persoonlik en toegespits plaasvind. Hier kan studente deel word van ’n getroue, geseënde instelling met ’n span wat reeds deur God se genade besig is om ou puinhope te herbou en mure en paaie te herstel.

Geskryf deur prof. dr. Alwyn Swanepoel, en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie geplaas op 2023-12-12. Prof. Swanepoel is Dekaan Akademiese Programme by die Afrikaanse Protestantse Akademie.

Deel die bladsy: