BELA-wet: Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

Op 27 September skryf die uitvoerende hoof van FEDSAS[i] dr Jaco Deacon in Maroela Media[ii]: “Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds ʼn lang pad vir die BELA-wetsontwerp is voordat dit ʼn wet sal wees. Daar is ook min tyd vir die parlement om dit te finaliseer voor die volgende algemene verkiesing. Politici is ook deeglik bewus van verskillende partye wat regsaksie oorweeg indien die wetsontwerp ʼn wet word.”

BELA staan vir “Basic Education Laws Amendment”. Dr Deacon verduidelik dat onder BELA die finale besluit oor ʼn openbare skool se taalmedium by die provinsiale departementshoof van onderwys berus. Groter beperking op tuisskool-opsies is ook deel van BELA. Of BELA deur verkiesingsuitslae of hofgedinge gestuit sal word, en of BELA uiteindelik die doodsklok[iii] vir Afrikaanse openbare skole word, is ʼn ope vraag.

Net ʼn maand later op 27 Oktober haal BELA weer die nuus[iv]:

  • “Die omstrede BELA-wetsontwerp is vandag… aanvaar in die Nasionale Vergadering”
  • “Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, … voeg by dat die ANC duidelik die wetsontwerp probeer stoomroller deur al die prosesse om dit voor die verkiesing van 2024 geïmplementeer te kry, … [en] herinner dat die wetsontwerp ook nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word, voordat dit aan die president vir ondertekening voorgelê kan word. Eers daarna sal dit geïmplementeer kan word.”
  • “Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê… as… die wet… deur die president bekragtig word, staan Solidariteit reeds reg… om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg.”

Die voortgaande betrokkenheid van soveel Afrikaners in openbare skole te midde van die groot bekommernis oor BELA, dui miskien aan dat in sommige gevalle ons die klok hoor lui, maar nie weet waar die bel hang nie.[v] Menige Afrikaanse ouers verkies steeds om hul kinders in Afrikaansmedium openbare skole te plaas waar leerplanne in veral geskiedenis en lewensoriëntering gevolg word wat nie die Afrikaner of sy Christelike geloof goedgesind is nie (selfs waar ʼn Afrikaanse Christelike etos nominaal geld). Die erfenis ( — families wat oor meerdere geslagte in dieselfde skool was), gehalte sportafrigting, akademiese uitkomste, geografiese gerief en bekostigbaarheid lyk anekdoties belangrike faktore in die besluitneming te wees, maar ʼn gebrek aan bewussyn van die aard van die leerplanne speel sekerlik ook ʼn rol. Miskien is die rugbaarheid van Afrikaanse Christelike privaatonderwys of die wenslikheid en doenbaarheid van tuisskoling steeds nie voldoende voor oë nie.

Anders gestel, die opeenvolgende keerwalle wat bestaan in die weg van ʼn oorstroming teen Afrikaanse Christelike openbare onderwys, soos Christelike waardes, gebalanseerde oog op die eie geskiedenis, en Afrikaans as die onderwysmedium, blyk van tydelike en onvaste aard te wees. Met die ineenstorting van elke keerwal, is die druk op die volgende keerwal soveel groter.

Die gevaar bestaan dat Afrikaanse openbare skole in die toekoms onder BELA gedwing sal kan word om na Engelsmedium oor te slaan, sodat die aanslag teen die Christelike geloof en die Afrikaner eerder in meer gevalle in Engels kan geskied. Ouers wat reeds soveel in die openbare skole moes aanvaar, gaan na die lang uitgerekte proses wat nog gaan volg voor implementering, moontlik maar uiteindelik Engelsmedium hoe onwillig ook verdra. Dit is ʼn proses wat tot ʼn groot mate reeds by universiteite voltrek is, alhoewel die beskikbare skat van Christelike Afrikaansmedium privaat hoër onderwysinstansies toenemend deur studente en hul ouers aangegryp word.

Die internasionale akademiese konsensus oor die noodsaak van moedertaalonderrig bly tydig vir ouers en studente om van kennis te neem, naamlik dat die onderrig van kinders mees suksesvol is wanneer dit geskied in die taal wat die kind die beste verstaan. Boonop is die verlies van ʼn taal se hoërfunksies (soos op skool en in die akademie), tot so ʼn mate nadelig vir die gangbaarheid van die taal, dat dit ʼn bose siklus bewerkstellig wat die kind se geleenthede om later in die omgewing buite sy ouerhuis te gedy ernstig kan kniehalter. Die lang lys van beroemde suksesverhale van diegene wat in Afrikaans op beide skool en universiteit onderrig ontvang het, en later in die buiteland leiers op uiteenlopende vakgebiede geword het, is steeds ter sake.

ʼn Ander uitkoms kan wees dat taalmedium die laaste strooi word wat die kameel se rug breek[vi], sodat ʼn uittog na Afrikaanse Christelike privaatskole plaasvind (soos dié onder die banier van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys[vii]), of dat groter pogings deur ouers aangewend word om die ideaal van tuisskoling te verwesenlik in sover dit onder BELA nog moontlik gaan wees.

In so ʼn geval  is dit belangrik dat voldoende Afrikaanse Christelike onderwysers beskikbaar is om in die onderwysbehoeftes van Afrikaners te voldoen, sou ʼn ommekeer tog plaasvind. Die Afrikaanse Protestantse Akademie (https://www.apa.ac.za/) met sy klassiek-Christelike benadering en Afrikaans as onderrig- en taalmedium in ʼn kombinasie van akademiese programme van afstandsgebaseerde BA of kontakstudie BSocSci, met ʼn afstandsgedrewe Nagraadse Onderwys-Sertifikaat (NGOS) is goed geplaas in hierdie opsig.

Hierdeur werk ons mee as beiaardiers[viii] en klokluiers[ix] om nie net die probleemstelling nie, maar ook die oplossing rakende die godsdienstige, etiese en kulturele noodsaak van Afrikaanse Christelike privaatonderwys aan die groot klok te hang[x], en ʼn bydrae daartoe te lewer dat volksgenote beide die klok hoor lui en weet waar die bel hang: hulself wend tot Afrikaanse Christelike privaatonderwys, met of sonder BELA.

Artikel deur Josef du Toit geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-12-07. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

[i] Nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole.

[ii] https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/bela-is-die-koeel-deur-die-kerk-vir-onderwys/.

[iii] Dit was voorheen die gebruik om ʼn kerkklok, die doodsklok, te lui by sterwe en begrafnis. So lees mens vandag nog wanneer iets tot ʼn einde kom dat die doodsklok daarvoor lui.

[iv] https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bela-wetsontwerp-in-parlement-aanvaar/.

[v] Om die klok te hoor lui, maar nie te weet waar die bel hang nie, is om van iets te weet sonder om die besonderhede te ken.

[vi] Die laaste strooi wat die kameel se rug breek, is die nuutste in ʼn reeks onaangename of ongewenste gebeurtenisse sodat ʼn krisis ontstaan wat die slagoffer knak.

[vii] https://www.bcvo.co.za/.

[viii] Die beiaard (kariljon/klokkespel) bestaan uit kerkklokke verbind aan ʼn klawerbord wat deur ʼn beiaardier (kariljoneur/klokkenis) met die vuis gespeel word (sowel as pedale), en kan ook ʼn outomatiese speelmeganisme hê.

[ix] Anders as die beiaard, bestaan daar ook kerkklokke waarvan elke klok sy eie tou het. ʼn Stel kerkklokke word dan deur ʼn stel klokluiers gelui.

[x] Om iets aan die groot klok te hang, beteken om dit bekend te maak.

Deel die bladsy: