Taalkundige Ontwikkeling, Natuurlik & Onnatuurlik. Die Toenemende Ontaarding van die Engelse Taal – Dr John D. Martin
“Dit is ʼn pragtige ding, die vernietiging van woorde…
Sien jy nie dat die hele doel van Nuutspraak is om die omvang van denke te verklein nie? Op die ou end sal ons gedagtemisdaad letterlik onmoontlik maak, want daar sal geen woorde wees om dit in uit te druk nie. … Elke jaar minder en minder woorde, en telkens ʼn bietjie kleiner omvang van bewussyn.”
– George Orwell, 1984
Tale verander met verloop van tyd. Dit is op ‘n manier natuurlik. Saam met kulturele en politieke ontwikkelings in die lewensloop van ‘n beskawing, ondergaan klanke verandering, of anders gestel, verskuiwings in die uitspraak kom voor, sowel as in die spelgebruike wat dit op skrif moet voorstel. Beskou die volgende teks:
Her onginð þæt god-spell þe Iohannes se godspellere ge-wrat on pathmos þam eiglande. On anginne ærest wæs word. & þæt word wæs mid gode. & god wæs þæt word.
Die wakker Engelstalige leser kan beslis “þæt” (“that”), “god-spell” (“gospel”), “wæs” (“was”), “word” en “god”, en waarskynlik “eiglande” (“island”) erken, alhoewel “anginne” (“beginning”), “ærest” (“first”), en “onginð” (“begins“) kan vir sommige meer van ‘n uitdaging wees. Die taal hier is Oud-Engels, geneem uit ‘n laat-10de / vroeë 11de-eeuse vertaling van die Evangelie van Johannes. Die woorde wat ons as moderne mense maklik verstaan, het oor die afgelope 1 100 jaar verander, en dieselfde geld vir voorbeelde van geskrewe Oud-Frans, Oud-Hoogduits, Oud-Noors, ens., in die laaste millennium.
Dit is natuurlike taalverandering, en dit gebeur met verloop van tyd in alle tale. Gesonde tale skep of omvorm voortdurend nuwe woorde, en brei gedurig die woordeskat uit om nuwe wetenskaplike ontdekkings te weerspieël. Die woord “elektron” is byvoorbeeld deur Michael Faraday geskep as beskrywing van sy ontdekking oor die aard van elektrisiteit. Dan is daar woorde wat deur interkulturele kontak aangeneem is, soos ‘n paar algemene woorde wat Engels uit Hindi aangeneem het, of die baie woorde wat Engels uit Duits oorneem (hier is ʼn paar), en die baie wat in Engels uit Frans, Italiaans en Spaans geleen is. Of die taal maak selfstandige naamwoorde van werkwoorde (“go on strike”), maak werkwoorde van selfstandige naamwoorde (“paper it over”), of maak algemene selfstandige naamwoorde van eiename (“give me that xerox[1]”). Die Merriam-Webster aanlynwoordeboek van Amerikaanse Engels berig dat dit 690 nuwe woorde by sy woordelys gevoeg het wat in hierdie kategorieë val. Baie van hierdie nuwe woorde kom van rekenaarspeletjies en aanlynmedia, terwyl ander net ouer bestaande woorde nuut aanmekaar sit (“doomscroll, edgelord, speedrun”). Nóg natuurlike taalontwikkeling nóg die toevoeging van nuwe woorde tot die woordeskat is rede tot kommer vir enigiemand behalwe die mees onrustige fynproewers.
Waaroor Orwell waarsku – die onnatuurlike en doelbewuste verdraaiing van ‘n taal om ‘n ideologiese doel te dien, of as direkte maatskaplike ingenieurswese – dit is wel iets om oor bekommerd te wees.
Pogings om die werklikheid te herdefinieer
Dit is presies daardie soort doelbewuste verminking wat ons sien in ‘n ander, korrupte stel veranderinge in die Merriam-Webster woordeboek: veranderinge wat daarop gemik is om ‘n stel politieke vooroordele te bevorder wat in baie gevalle met die werklikheid in stryd is. Voorbeelde hiervan kan gesien word in die woordeboek se herdefinisie van die mees basiese gevestigde fisieke menslike identiteit, soos aangetoon deur Standing for Freedom:
Merriam-Webster, wat homself “Amerika se mees betroubare woordeboek” noem, gaan voort om die vertroue van sy lesers te verloor deur die jarelange definisies van woorde om politieke redes te verander. Mees onlangs het die woordeboek die woord “manlik” herdefinieer om “‘n geslagsidentiteit te hê wat die teenoorgestelde van vroulik is” en die woord “vroulik” om in te sluit “om ‘n geslagsidentiteit te hê, teenoorgesteld aan dié van manlik.” Die woorde “seun” en “meisie” is onderskeidelik verander na “‘n kind wie se geslagsidentiteit manlik is” en “‘n kind wie se geslagsidentiteit vroulik is.”
Vir nou het die woordeboek ten minste die woorde “man” en “vrou” met rus gelaat, maar die terme “cis-man” en “cis-vrou” bygevoeg, asof ‘n voorvoegsel, voorheen gebruik in die velde van chemie en aardrykskunde, nodig was om aan te dui dat ons van die twee normale geslagte van die mensdom praat.
Die werklike en deursigtige doelwit is om die kontrasterende kategorieë “trans-man” en “trans-vrou” te normaliseer, wat albei nuutskeppings is, gebruik om mans en vroue te beskryf wat aan sulke ernstige geslagsverwarring ly dat hul liggame chirurgies verander is om meer soos die ander geslag voor te kom. Dit is van die veranderinge wat in die woordeboek geplaas is ter ondersteuning van ‘n soort sagte totalitarisme wat poog om presies te doen waaroor Orwell gewaarsku het – dit onmoontlik maak om oor die werklikheid akkuraat te praat of dit akkuraat te beskryf.
Om reguit te wees: “trans-man” en “trans-vrou” is maatskaplik opgemaakte nuutskeppings. Dit is vroue en mans wat deur ‘n geestesongesteldheid hul liggame onbekwaam gemaak het om óf die manlike óf vroulike voortplantingsfunksies natuurlik te verrig. Dit is waaroor ons in der waarheid praat. Om die woordeboek te verander om sulkes tevrede te stel, help niemand nie.
Beperk die omvang van uitdrukking en begrip
Dan is daar die betreurenswaardige neiging om die omvang van uitdrukking en begrip wat in die woordeskat beskikbaar is, te beperk, deur woorde wat tot onlangs deel was van die innerlike landskap van alle opgevoede Engelstaliges, te verwerp. Een voorbeeld was die besluit deur die Oxford Junior Dictionary om sulke algemene woorde soos “acorn” en “willow” te verwyder, ‘n willekeurige afkapping van die woordeskat en dus die geesteslandskappe van kinders, soos in besonderhede beskryf deur Robert Macfarlane in die tydskrif Orion.
Martin Robbins in The Guardian was vinnig om die filistyne te verdedig wat op een of ander manier gedink het dat die taal van slimfone en ander elektroniese bykomstighede belangriker is as woorde wat verwys na groeiende, lewende dinge, die egte wêreld. Sekerlik, die woorde is steeds in die Oxford English Dictionary, terwyl Oxford Junior Dictionary weliswaar ‘n kinderwoordeboek is, maar ons het nie te doen met skaars of onbekende woorde nie. Die woorde wat weggelaat word, sluit algemene name van blomme, bome en voëls in. As jong John of Jane dit nie kan noem nie, kan hulle vir niemand sê wat dit was sonder om een of ander beskrywende verduideliking te gee nie.
Dit is asof, onsinnig genoeg, die redakteurs gedink het dat die jongmense wie se woordeskat hulle doelbewus afgekap het, werklik fisieke boeke ronddra (wat spasiebeperkings het) en nie woorde op hul Oxford Junior Dictionary-toep opsoek vir alle praktiese doeleindes nie. Dit is nie ‘n óf/óf probleem nie. Dit is ‘n besluit om kinders se verbeelding te verblind vir ‘n deel van die werklikheid.
Met die goedgunstige toestemming van die outeur en uitgewer volg hier ʼn Afrikaanse vertaling deur Josef du Toit van Linguistic Evolution, Natural & Unnatural, the Progressive Degeneration of the English Language, deur dr. John D. Martin, wat oorspronklik verskyn het op 2 November 2023 in die meningswerf Salvo (salvomag.com/post/linguistic-evolution-natural-unnatural). Hierdie Afrikaanse vertaling is op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-12-07. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.
Oor die outeur: Dr. John David Martin is van Indiana, Amerika, is ʼn professionele vertaler en het ʼn doktorsgraad in Germaanse tale en letterkunde aan die Universiteit Illinois, Urbana-Champaign. Hy was besoekende assistent-professor by onder andere Purdue Universiteit. Sy akademiese artikels betrek ondermeer Middel-Hoogduitse en Oud-Noorse letterkunde. Dr. Martin woon in ʼn bewustelik Christelike gemeenskap in Beiere, Duitsland saam met sy gesin, waar hy ook as sendeling werk.
[1] Xerox, ʼn fotostaatmasjien-handelsnaam wat later ook met die betekenis fotostaat self gebruik is.