Weerajata Jatarupamaya / EyeEm / Getty Images

Christelike berading

Ons is baie opgewonde oor ons Christelike beradingskursus wat ons studente toerus om met die Bybel gelowiges te beraad in ons skole, ons kerke en waar die Here hul ook wil gebruik.

Wat is Christelike berading?

Christelike berading is toepassing van die Bybelse waarhede op die probleme, uitdagings en trauma wat Christene vandag ervaar. Christene moet baie keer moeilike kwessies soos angstigheid, depressie, finansiële stres, huweliksprobleme en verliese, hanteer. Die Here gee aan ons sy Woord, sodat ons mekaar kan bemoedig, troos, reghelp en opbou. Ons wil in hierdie lesings studente toerus om instrumente te wees in die hande van die Here, Wie werklike blywende verandering in lewens kan bewerk.

Waarom is Christelike berading nodig in ons samelewing?

Wêreldwyd sien ons toenemend by Christene ’n ontnugtering in sekulêre terapieë wat nie die behoeftes van die Christen verstaan of aanspreek nie. Ons sien ’n groei in die vraag na toerusting onder gelowiges van alle beroepsrigtings om mede-gelowiges in nood te kan bystaan. Ons het waardering vir die groot internasionale akedemici soos dr Jim Newheiser, van die Reformed Theological Seminary, dr John Street van Masters University en prof Janet Rickett, Brookes Bible College. Hulle Christelike beradingskursusse spreek ’n globale behoefte aan. Ons wil op soortgelyke wyse daardie behoefte onder Suid-Afrikaners, in Afrikaans aanspreek.

Wat kan u verwag in hierdie kursus?

Die fokus van hierdie kursus is nie die aanleer van tegnieke nie, want ons glo dat die oplossing nie in tegnieke lê nie, maar in die Persoon, van ons Verlosser Jesus Christus. U moenie verwag om ’n beradingsresep te leer wat op elke beradene toegepas kan word nie, maar u sal leer hoe om elke unieke mens se unieke geestelike behoeftes aan te spreek met spesifieke Bybelse raad. Christelike berading is nie probleemgerig nie, maar persoonsgerig. U sal leer dat sukses in berading nie afhanklik is van u vaardighede nie, maar van u biddende afhanklikheid van die Heilige Gees, Wie die eintlike berader is.

Hoe gaan u baat by Christelike berading?

U gaan leer hoe om in ’n beradingsessie hoop te gee en ’n beradingsverhouding te bou.

U gaan leer hoe om al die inligting te kry wat nodig is, sodat u by die hart van die beradene kan uitkom.

U gaan leer hoe om die Bybel biddend te bestudeer om die waarhede te ontdek wat beradenes in hul unieke omstandighede nodig het.

U gaan leer hoe om die Bybelse waarhede in liefde oor te dra, dat die beradene hul werklike probleem self raaksien.

U gaan leer hoe om ’n pad te loop met beradenes waar u hulle help om die Bybelse waarhede op hul lewens toe te pas, om self weer diensbaar in die koninkryk te wees.

Ek nooi u uit om hierdie toerusting te kom kry, waarby elke gelowige sal baat.

Artikel deur ds Wimpi Burger geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-08. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

Deel die bladsy: