In Deel 1 het ons gesien dat eienskappe wat inherent aan papier is, hoofsaaklik die oorsaak daarvan is dat ou papiervoorwerpe deur omgewingsfaktore ‘aangeval’ word. Deur dit te verstaan kan enigiemand ‘n vriendeliker omgewing vir die berging en uitstalling van kosbare papiererfstukke skep en sodoende ‘n verantwoordelike erfenisbewaarder wees.
Nie net blootstelling aan lig is ‘n omgewingsfaktor wat bestuur kan word nie, maar ook lugbesoedeling. Swaeldioksied in die lug word in papier opgeneem en in swaelsuur omgeskakel wat dan veroorsaak dat die papier verkleur en verbrokkel. ‘n Mikroklimaat kan vir voorwerpe geskep word deur dit in suurvrye kartonhouers te stoor. Moet nooit lugdigte houers gebruik om ou voorwerpe permanent in te stoor nie omdat goeie ventilasie ook ‘n bergingsvereiste vir die meeste materiale is. Deur foto’s, waterverfskilderye en selfs briewe met suurvrye monteerkarton en gom te raam, word daar vir hierdie voorwerpe ook ‘n veilige mikroklimaat geskep.
Hanteer altyd papiervoorwerpe met skoon hande of sagte katoenhandskoene omdat die suur in ‘n mens se vel ook deur die papier opgeneem kan word. Hou ‘n voorwerp altyd met albei hande vas en verskuif dit naby ‘n stabiele oppervlakte soos ‘n tafelblad of plat skinkbord. As daar verbrokkeling plaasgevind het, kan die gewig van ‘n voorwerp die papier maklik laat breek of skeur. Gebruik ook slegs ‘n potlood om die noodsaaklikste aantekeninge agterop ou papiervoorwerpe te maak en onthou dat die struktuur van die papier waarskynlik so swak is dat dit nooit weer uitgevee sal kan word nie.
Alle materiaal van organiese oorsprong bevat vog en is sensitief vir uitdroging. Daarom kan groot temperatuurwisselings en humiditeitskommelings in die omgewing waar papiervoorwerpe gestoor word, skadelik wees. Die lug mag nie te droog wees nie, maar ook nie te vogtig nie, want die sure in die papier reageer makliker in vogtige toestande en skimmel kan die papier makliker aanval. Skimmel groei in sirkelvormige kolle en is grys, stowwerige vlekke. Dit kan deur goeie ventilasie voorkom word. Raammetodes moet ook vir genoeg lugsirkulasie rondom ‘n voorwerp voorsiening maak, bv. spasiehouers tussen die voorwerp en die glas.
Die ideale temperatuur waarteen papier en foto’s gestoor behoort te word is teen ongeveer 20oC. ‘n Relatiewe humiditeitsvlak van tussen 30 en 40% word aanbeveel. Die meeste mense het nie die vermoë om hierdie toestande tuis te toets nie, maar kan die volgende drie riglyne vir papierbewaring onthou: koel, droog en genoeg vars lug. Moenie foto’s en papiervoorwerpe teen buitemure ophang waar daar ‘n moontlikheid bestaan dat daar vog in die muur kan opbou nie. Ideale boekrakke en kaste behoort effens van die grond af gelig te wees in geval ‘n vertrek oorstroom. Dis ook nie ‘n goeie idee om foto’s en sketse bokant ‘n kaggel of naby verwarmers op te hang of te bêre nie. Behalwe dat hitte die voorwerpe kan laat uitdroog, pak residu van die vuur ook saam op boeke en ongeraamde voorwerpe.
Silikonkristalle kan gebruik word om vog in die lug van ‘n baie vogtige omgewing te absorbeer. Dit kan geplaas word naby aan ‘n voorwerp waarvoor daar reeds ‘n mikroklimaat geskep is, maar moet nie aan die voorwerp raak nie omdat dit dan weer vog kan verplaas op die voorwerp. Moet nooit rys of ander organiese materiale gebruik om vog te absorbeer nie, want dit is juis lokmiddels vir die laaste omgewingsfaktor wat nadelig op papiererfstukke kan inwerk, nl. insekte.
Hou gereeld inspeksie van kosbare papiervoorwerpe en wees op die uitkyk vir: lewendige insekte, dooie insekte, vlerke, doppe, eiers, eierdoppe, insekspinsels, boorsels, mis en die nabyheid van spinnekoppe en spinnerakke. Vreemde reuke en die klank van insekte is ook aanduiders daarvan dat iets nie pluis is nie. Die meeste insekte verkies donker, vogtige en warm plekke. Hou dus kaste en boekrakke droog, koel, skoon en vry van stof en koskrummels. Deur gereeld rondom voorwerpe skoon te maak verbeter die lugsirkulasie ook. Strooi boorsuur of engelse sout as voorkoming agter in kaste en rakke eerder as mottegif en ander chemiese insekweerders wat gasse afgee wat ook skadelik vir voorwerpe is. Maak altyd seker dat nuwe of vreemde voorwerpe (soos houtmeubels en mandjies) wat in ‘n huis ingebring word, onbesmet is omdat die meeste insekte verskillende soorte materiale sal vreet en maklik van een voorwerp na ‘n ander kan versprei.
Soorte insekte wat gewoonlik papier beskadig:
- Klopkewers – maak kronkelende tonnels, gewoonlik vanaf die middel van ‘n boek en laat boorsels en mis in die tonnels agter;
- Houtpoeiertorre – donkerrooi tot swart kewers met lang voelers en harde vlerke wat gate in boeke en ander organiese materiaal maak;
- Boekwums – larwes van sekere kewers wat tonnels vreet regdeur die omslag en blaaie van boeke;
- Boekluise – klein insekte met groot koppe in verhouding tot die lyf wat gewoonlik volg op skimmel en ander infestasies, hulle maak veelvuldige klein gaatjies in die papier;
- Kakkerlakke – hierdie bekende naginsekte met ‘n kenmerkende reuk wat in warm, donker plekke leef, vreet die oppervlak van papier en foto’s en maak “komma”-vormige merke op voorwerpe;
- Vismotte – grys insekte sonder vlerke met drie stertagtige aanhangsels, vreet ook die oppervlaklaag van papier en foto’s;
- Termiete – klein geel-wit insekte wat gewoonlik in hout en onder die grond woon en diep gaatjies in papier kan vreet.
Beskadigde papiervoorwerpe (wat nie uit lae saamgestel is soos foto’s nie) kan afgestof, in absorberende materiaal toegedraai en in plastiekhouers verseël word om vir twee weke gevries te word. Dit laat enige oorblywende insekte doodgaan. Laat die voorwerp daarna in die houer totdat dit heeltemal ontvries is. As die aanvanklike skade baie groot is of dit lyk of die insekte nog nie dood is na bevriesing nie, is dit tyd om die hulp van ‘n professionele restoureerder in te roep.
Onthou dat die liefdevolle hantering en gebruik van papiervoorwerpe deel is van die bewaring daarvan. Erfstukke het net bestaansreg as die eienaar daarvan dit kan waardeer en geniet. Moenie bang wees om gereeld ou boeke te lees of vir ander mense te wys nie en stal gerus ou familiefoto’s en waterverfskilderye uit!
Deur Dr. Jeanette van Rensburg: BA-dosent – Geskiedenis (Die AP Akademie)
Foto: Joanna Kosinska | Unsplash