Verbeel jou, jy is ‘n “wil wees” kunstenaar, gewapen met slegs ‘n skoon skilderdoek. Jy stap doelloos rond, opsoek na ‘n ateljee, ‘n spasie waar jy jouself kan ontwikkel en jou silwerskoon skilderdoek kan omskep in ‘n meesterstuk…

Ek was so ‘n “wil wees kunstenaar”, doelloos en opsoek, totdat ek aan die einde van 2019 by ‘n “ateljee” genaamd die Afrikaanse Protestantse Akademie, ‘n geakkrediteerde Christelike privaat hoër onderwysinstansie beland het. By wyse van spreke – ‘n kunstenaarsparadys!

Die ateljee was indrukwekkend, en lig. Daar was ‘n stewige “esel”, wat my doek vasgehou en ondersteun het – die administratiewe span. Altyd hulpvaardig en bereid om te dien. Top gehalte “kwaste”, die dosente – kenners op hulle gebiede – met ‘n passie vir gehalte-opleiding. Verf, beskikbaar in meer as 19 kleure en in verskillende skakerings – ek kon uit meer as 19 vakke kies, elk met insiggewende inhoud en met elke semester het ek ‘n nuwe toepassingstegniek aangeleer. Die verf was altyd beskikbaar vir gebruik, op ‘n persoonlike verfpalet – die aanlyn studente portaal – die myAPA-blad.

Dit is drie jaar sedert ek die eerste keer by die APA ingestap het, en ek stap uit die “akademiese ateljee”, gewapen met ‘n BA-graad in Kommunikasiekunde. My meesterstuk is voltooi en gereed vir uitstalling – is jy gereed om jou toekoms te skilder?

 

Deur Maryke du Pisani

Deel die bladsy: