https://www.greatneck.k12.ny.us/Page/15133

Om ʼn nuwe taal aan te leer kan ʼn lonende en verrykende ervaring wees, veral as die taal wyd gepraat word en ʼn ryk kulturele erfenis het.  Een so ʼn taal is Frans, wat deur ongeveer 321 miljoen regoor die wêreld gepraat word (OIF, 2024).  Volgens die nuutste inligting uitgegee deur die OIF (Organisation Internationale de la Francophonie), is Frans die amptelike taal in 29 lande in Afrika, Europa, Amerika en Oseanië.  Dit is die 5de grootste gesproke taal asook die 4de grootste Internet-taal wêreldwyd (OIF, 2024).

 

Binne hierdie konteks is daar verskeie oortuigende redes om Frans aan te leer :

  • Loopbaangeleenthede: Frans is ʼn amptelike taal van verskeie internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Afrika-Unie, die Francophonie, NAVO, die Internasionale Olimpiese Komitee, die Internasionale Rooikruis en internasionale howe soos die Internasionale Kriminele Hof. Vaardigheid in Frans maak deure na hierdie organisasies oop, sowel as in sektore soos die diplomasie, toerisme, handel en onderwys.  Boonop is Frankryk een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote, en om Frans te leer kan sakeverhoudinge en onderhandelinge vergemaklik.

 

  • Toegang tot ʼn rykdom van kennis en kultuur: Frans is ʼn taal van letterkunde, kuns, filosofie, argitektuur, wetenskap en gastronomie. Dit ontsluit die wêreld van skrywers soos Victor Hugo en Albert Camus ; filosowe en denkers soos René Descartes en Marcel Proust; kunstenaars soos Claude Monet, Paul Cézanne en Henri Matisse; wetenskaplikes soos Louis Pasteur en Marie Curie, ens.

 

  • Uitbreiding van persoonlike en sosiale horisonne: Frans is ʼn taal van diversiteit en dialoog aangesien dit deur mense van verskillende agtergronde, kulture en streke oor 5 kontinente gepraat word. Om Frans te leer stel dus die leerder in staat om met ander Franstaliges te skakel en om te leer oor hul geskiedenis, tradisies en waardes.

 

Om Frans te leer kan baie voordele bied, beide professioneel en persoonlik – dit is verrykend op verskeie vlakke, verbreed perspektiewe en ontsluit ʼn nuwe wêreld van geleenthede!

Artikel deur Marali Burger geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-02-08. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

Deel die bladsy: